Elektrisiteitskrisis bedreig land se ekonomie

  • 0

Die erns van die elektrisiteitskrisis waarin die land hom tans bevind, hou groot ekonomiese implikasies in vir Suid-Afrika. Beide president Cyril Ramaphosa en die leier van die DA, John Steenhuisen het Dinsdag op die huidige krisis reageer en die erns daarvan beklemtoon.

Steenhuisen sê daar is geen twyfel dat die vlak van die krisis nou veel erger is as wat dit ooit was nie, terwyl Ramaphosa ook die belangrikheid beklemtoon het om die krisis te oorkom.

Ramaphosa het in sy weeklikse nuusbrief gesê die erge beurtkrag van die laaste paar dae wys weer hoe onstabiel Eskom se verouderende kragstasies is. Hy sê dit vereis dat daar groter dringendheid gegee word aan die maatreëls wat die regering twee maande gelede aangekondig het om die elektrisiteitsvoorsiening te stabiliseer.

Ramaphosa sê die oplossing vir die krisis is nodig as die land die potensiaal van sy ekonomie wil verwesenlik. Hy het verwys na die ambisieuse beleggingsaksie wat hy in 2018 van stapel gestuur het om R1,2 triljoen in nuwe beleggings oor vyf jaar in te samel.

Hy sê hy het Sondag ’n dringende virtuele vergadering met ministers en amptenare gehou oor die redes vir die huidige beurtkrag en die stappe wat gedien word om die erns en frekwensie van beurtkrag in die komende dae en weke te verminder.

Ramaphosa sê Eskom het reeds van die maatreëls aangekondig wat getref word en hulle sal met die kwessie besig bly totdat die situasie opgelos is.

Steenhuisen het in sy verklaring die skuld vir die krisis vierkantig voor Ramaphosa en die ANC se deur gelê. Hy sê die elektrisiteitskrisis dreig om dit wat oor is van die land se ekonomie te ontspoor en die samelewing te destabiliseer.

Volgens Steenhuisen het daar nog niks gekom van Ramaphosa se beloofde planne om die krisis op te los nie. Ramaphosa het aan die einde van Julie sy jongste plan bekendgestel om beurtkrag te hanteer, maar byna elke aspek daarvan het tot stilstand gekom. Daar is volgens Steenhuisen geen deel van die plan wat op koers is nie. Hy sê dit is grootliks te wyte aan ’n gebrek aan dringendheid, met geen meetbare teikens of duidelike tydlyne verbonde aan enige van die projeklewerings nie.

Die dringendste korttermyndoelwit van hierdie plan was om die operasionele prestasie van Eskom se bestaande vloot kragstasies te verbeter, maar hierdie aanleginstandhoudingsproses het duidelik ontspoor, sê Steenhuisen.

Hy sê Suid-Afrikaners het nog geen duidelikheid oor enige van die beloftes wat in die plan gemaak is nie. Dit sluit in die werwing of heraanstelling van ervare ingenieurs en bestuurders, die verkryging van elektrisiteit uit buurlande, stappe wat gedoen is om sabotasie en diefstal by Eskom te bekamp, ​​en die plan om residensiële en kommersiële sonkraginstallasies aan te moedig.

Volgens Steenhuisen is dit baie duidelik dat die energiereaksieplan dood is en ontaard het in ʼn politieke geveg onder ministers en ministeries. Dit is in wese ’n goeie plan, maar beide ministers Mantashe en Gordhan moet so ver as moontlik van die implementering daarvan weggehou word.

Die DA stel voor dat Ramaphosa die Nasionale Energiekrisiskomitee ontbind en in die plek daarvan ’n bedryfkundige van buite aanstel om toesig te hou oor die implementering van die energiereaksieplan.

"Dit is van kritieke belang dat hierdie persoon beide apolities en ’n toonaangewende kenner op die energiegebied is, en dat hy of sy voldoende bemagtig word om alles te doen wat nodig is om ons huidige generasie vloot te stabiliseer en bykomende generasie aan boord te bring sonder dat hul hande vasgebind word deur die rompslomp wat die herstel tot nou toe teruggehou het."

Volgens Steenhuisen sal dit van die uitvoerende gesag vereis om ’n span kundiges saam te stel om toesig te hou oor die aanstelling van ingenieurs en bestuurders ongeag hulle ras. Hulle moet die mag hê om besluite te neem oor die verkryging van bykomende elektrisiteit van onafhanklike produsente, vry van die verstikkende regulasies wat deur mense soos Mantashe opgelê is.

Hierdie krisis moet ’n wekroep vir Ramaphosa en sy regering wees, ’n teken dat wanneer dit kom by die aanhou van die ligte, dit bo hulle vuurmaakplek is, en dat hul "beveel en beheer"-benadering tot die regering op die skroothoop van die geskiedenis hoort, het Steenhuisen gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top