Noudat die private gebruik van dagga gewettig is in Suid-Afrika, sal Elon Musk dalk daaraan dink om terug te keer na die land van sy kinderjare. Hy sal nou wel nie iets kan rook in ’n openbare plek, soos sê maar ’n radio-ateljee, soos hy onlangs gemaak het in Amerika nie, maar sou hy in Hermanus aftree, langs Markus Jooste byvoorbeeld, is dit ’n klein opofferinkie.
Musk het ’n bekende naam dwarsdeur die wêreld geword weens sy elektriese karre en sy planne om toeriste die ruimte in te stuur en selfs om na die maan te laat reis. Genie, wonderwerker, aardsredder, baanbreker … Musk staan voor in die tou vir sulke akkolades in die globale media. Nie sedert Steve Jobs, dalk nie sedert Thomas Alva Edison nie, is ’n entrepreneur so aangeprys nie.
Sy avonture met sy SpaceX-maatskappy het my laat terugdink aan my eie drome as kind, toe ek vasgenael voor die radio gesit en luister het na die gesuis en gegorrel van die eerste maanlanding. TV was nog verbode, maar ek het ywerig deelgeneem aan ’n wedstryd deur die Transvaler om ’n plakboek saam te stel; en om as een van die finaliste aangewys te word, het net my besluit herbevestig om self ’n ruimtevaarder te word.
Die naaste wat ek toe daaraan gekom het, was die lekker wolk in my kop, die kooltjie weggesteek in my handpalm, en die man in die maan wat lyk of hy iets vir my wil sê.
Maar Musk is in die moeilikheid, en die moeilikheid klink alte bekend vir Suid-Afrikaners. Die beskermfondse is op hom. Hulle word dikwels as aasvoëls beskryf, want as hulle om jou maatskappy sirkel, is dit omdat hulle ’n vrot kol iewers gesien het wat tot gangreen kan groei. Hulle self sou miskien ’n vergelyking met die Furieë van die Griekse mitologie verkies: hulle is ’n soort kapitalistiese gewete wat by jou spook as jy begin oortree.
Het Musk oortree? Dis ’n ingewikkelde vraag, en die furieë van die federale Amerikaanse staat gaan nou begin om dit te probeer beantwoord. Dit het te doen met kortverkope (short selling), iets wat in ’n pes ontaard wanneer die aasvoëls sommer goedsmoeds aan enige maatskappy begin pik sodat aandeelpryse begin daal, ten einde hulle vir ’n appel en ’n ei te koop om later, wanneer die prys herstel, teen ’n wins te verkoop.
In die middel van alles is ’n twiet deur Musk waarin hy geskryf het dat hy daaraan dink om sy Tesla-maatskappy van die Nasdaq-beurs af te haal en dat hy befondsing daarvoor het. Die aandeleprys het onmiddellik gestyg, maar die storie oor befondsing het vals geblyk te wees. In normale omstandighede sou Musk nou al in ’n hof verskyn het, maar die saak het vele kante wat hom uit die tronk kan hou.
Een aspek is dat hy nou al lank met die beskermfondse se furieë/aasvoëls baklei. As hy kan bewys dat hy impulsief opgetree het en net hul pogings om Tesla se aandeleprys wettiglik te manipuleer probeer teenstaan het met ’n wit leuen wat hulle probeer voorspring het, kan hy dalk net ’n stywe boete kry. En van vooraf ’n soort held word omdat hy gekeer het dat ander mense slagoffers van die aasvoëls word.
Maar waarom is Musk so bang vir sy furieë? Dis die eintlike vraag. Wat is dit wat hom tydens ’n radio-onderhoud na dagga dryf? Aasvoëls doen ook goeie dade, het ons op laerskool geleer: hulle hou die veld skoon van vrot vleis. En dinge loop nie so vlot by Tesla nie, en dalk ook nie by sy ander maatskappye nie. Aanvanklik het Musk belowe Tesla gaan 200 000 van sy Model 3 elke jaar verkoop, maar tot dusver kon sy fabrieke net 3 000 per jaar lewer.
Die Amerikaanse staatsagente is versigtig om nie enige beskuldigings in die openbaar te maak nie, en dis nie onwettig om jou teikens te mis nie. Maar wat gewoonlik gebeur as hulle in ’n heeltemal wettige praktyk begin rondkrap, is dat hulle ander goed ontbloot wat maatskappye liefs nie geopenbaar wil hê nie.
Dis basies wat met Steinhoff gebeur het, en wat ’n ander ster in die sake-uitspansel, Capitec, suksesvol ontduik het toe hulle in die visiere van die amateurs (aasvoëlkuikens) van Viceroy beland het. Soos Musk is Markus Jooste en Christo Wiese besing as geniale sakemanne, maar nadat Steinhoff inmekaar gestort het, moet Suid-Afrikaners die storie sluk dat hulle nie eintlik geweet het van die konkelary met die syfers nie. Hulle verkies dus om hul glansryke reputasies te verruil vir ’n beskrywing soos dommer as dom. Solank hulle net uit die tronk bly.
Hulle het aangesluit by ’n groeiende lys sakebulle wat moes vlug voor die waghonde van die staat of die media. Leon Kirkinis het met arm mense se geld gewoeker tot sy African Bank in duie gestort het. Serge Belamant is met ’n allemintige som geld die land uit nadat sy Cash Paymaster Services se praktyke onthul is met oorfakturering van dienste aan die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling en om bloed uit die klippe te pers wat arm oumense as pensioene kry.
Dan praat ons nie eens van die Guptas en die Brett Kebbles nie.
Sulke praktyke is natuurlik nie tot Suid-Afrikaners beperk nie. Die oppomp van ego’s tot kosmiese afmetings is iets wat eie aan die sakewêreld is. Die argetipe daarvoor is mense soos Randolph Hearst, op wie se lewe Orson Welles se briljante Citizen Kane gebaseer is, en Howard Hughes, die onderwerp van Martin Scorsese se The Aviator en die Musk van sy tyd met sy reusevliegtuie. In beide hierdie rolprente beeld die regisseurs treffend uit hoe ego alles oorrompel, eksentrisiteite byna menseregte kan word en mense met te veel mag kontak met die werklikheid verloor.
Maar daar is dalk ’n eiesoortige dryfveer onder Suid-Afrikaners, iets wat met die man in die maan te doen het. In die oppomp van ons almal se nasionalistiese ego’s in die apartheidsjare is ons gedurig op skool vertel ons kan enige hoogte bereik – as hartoorplanter, kernbombouer, damontwerper, Nobelpryswenner, ruimtevaarder, die eerstes in Afrikaans. Toe die staat met tuislande begin, was dit dieselfde storie: ’n minister van KwaNdebele het in alle erns in toesprake van die eerste Ndebele op die maan gepraat.
Musk is eers na die maanlanding gebore, maar is dit vergesog om te postuleer dat hy as kind in hierdie ambisieuse atmosfeer – hy het in die militêre en wetenskaplike hoofstad Pretoria skoolgegaan – sy buitensporige drome begin droom het?
Die verskil tussen Markus en Musk is dat Elon oorsee gegaan het, en dat hy wel elektriese karre, batterye en vuurpyle gebou het. Dit lei dan tot die ander vraag: Het die feit dat die nasionalistiese kinders se drome nie hier te lande uitgeleef kon word nie, tot die ineenstorting van apartheid gelei toe hulle en hul ouers ja stem in die onderskatte referendum van 1992 vir wit mense? Sodat sanksies afgeskaf kon word en hulle net uit die land kon kom?
Het die man in die maan Suid-Afrika gered? Dis ’n vraag wat ’n mens dalk liefs met ’n zol in die een hand en ’n glasie mampoer in die ander moet aandurf.
Buro: NB