Elon Musk, die Suid-Afrikaans-gebore miljardêr en eienaar van SpaceX en Starlink, het Sondag en Maandag weer fel uitgevaar teen Suid-Afrika se wette oor swart ekonomiese bemagtiging (SEB).
Hy noem dit “Apartheid 2.0” en beweer dat Starlink se lisensie in Suid-Afrika geweier word bloot omdat hy wit is. Die uitlatings het die debat oor ’n rasgebaseerde ekonomiese beleid opnuut laat opvlam en kom te midde van groeiende spanning tussen die RNE en internasionale beleggers.
South Africa won’t allow Starlink to be licensed, even though I was BORN THERE, simply because I am not Black!
We were offered many times the opportunity to bribe our way to a license by pretending that a Black guy runs Starlink SA, but I have refused to do so on principle.… https://t.co/m6G1ZQcC1C
— Elon Musk (@elonmusk) April 12, 2026
In ’n reeks plasings op X het Musk geskryf: “Suid-Afrika wil nie aan Starlink ’n lisensie toestaan nie, al is ek daar gebore, bloot omdat ek nie swart is nie!” Hy het bygevoeg dat daar al al verskeie kere pogings was om SpaceX “om te koop” om ’n swart front te gebruik om die 30%-swart-eienaarskapvereiste te omseil, maar hy weier dit uit beginsel.
“Al die politici in Suid-Afrika wat hul wrede rassistiese wette deurvoer, moet gestraf word, verbied word om te reis, as misdadigers verklaar word, en hul internasionale bates moet gekonfiskeer word,” het Musk op X geskryf.
Musk het ook direk gesê: “Suid-Afrika is besig met Apartheid 2.0.” Hy beklemtoon dat Starlink reeds in meer as 24 ander Afrika-lande werk en dat die tegnologie veral landelike gebiede kan help. SpaceX het vroeër aangebied om R500 miljoen se gratis hoëspoed-internet aan 5 000 landelike skole te voorsien – ’n projek wat volgens hom meer as 2,4 miljoen kinders sal bevoordeel.
South Africa is doing Apartheid 2.0 https://t.co/JTSnrrZYSH
— Elon Musk (@elonmusk) April 12, 2026
Die kern van die geskil lê by die SEB-wetgewing wat ná 1994 ingestel is om die ekonomiese ongelykhede van apartheid reg te stel. Swart Suid-Afrikaners maak sowat 80% van die bevolking uit, maar besit steeds net ’n klein deel van die ekonomie. In die telekommunikasiesektor vereis Okosa (Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika) minstens 30% swart (of histories benadeelde) eienaarskap vir lisensies.
Starlink weier om aandele in ’n plaaslike filiaal af te staan. Volgens Musk is dit “omgekeerde rassisme”. Die maatskappy het nooit ’n formele lisensie-aansoek ingedien nie, maar sê die SEB-reëls maak dit onmoontlik.
Elon Musk Calls for Severe Sanctions on South Africa
Tech billionaire Elon Musk, who was born in Pretoria, has urged the international community to impose severe sanctions on and globally shun South Africa, accusing the country of systemic racism against white and Asian… pic.twitter.com/R9KUOOUGYx
— MDN NEWS (@MDNnewss) April 13, 2026
In Desember 2025 het kommunikasieminister Solly Malatsi (DA) riglyne aan Okosa gegee om “equity equivalent investment programmes” toe te laat. Dit beteken buitelandse maatskappye kan beleggings in infrastruktuur, vaardighede of swart besighede as alternatief gebruik in plaas van direkte aandele. Die ANC, EFF en MK Party het dit fel gekritiseer en met hofsake gedreig. President Cyril Ramaphosa het Malatsi ondersteun en gesê dit gaan oor die lok van buitelandse beleggings, nie spesifiek Starlink nie.
Die verandering is egter nog nie ten volle geïmplementeer nie, en Okosa se proses sloer. Intussen bly Starlink buite bereik vir Suid-Afrikaners terwyl dit reeds in Namibië, Kenia en ander Afrika-lande werk.
Die regering het nog nie direk op Musk se nuutste plasings gereageer nie, maar die ANC het vroeër SEB as “noodsaaklike transformasie” verdedig. Kritici van Musk, insluitend swart aktiviste, noem sy uitlatings ’n aanval op regstelling en herinner aan sy eie familie se apartheidverlede. Voorstanders, veral in die DA en onder wit Suid-Afrikaners, sien dit as bewys dat SEB korrupsie aanmoedig en belegging afskrik.
Die storie vorm deel van breër spanninge tussen Suid-Afrika en Amerika met kwessies soos plaasaanvalle, Trump se kritiek op Suid-Afrika en die land se uitsluiting uit die volgende G20-vergadering. Baie Suid-Afrikaners op sosiale media is verdeeld – sommige verwelkom Starlink se potensiaal vir beter internet in plattelandse skole en klinieke, ander sien Musk as ’n “wit miljardêr wat transformasie saboteer”.
What about security risks Starlink has shown in Ukraine or Iran being used by US gvt to wage wars or invite regime changes .
Answer that part , is it worth the risk https://t.co/cp2ldG91Cs— CRY-OUR-BELOVED-Country (@stumbue) April 13, 2026
Kenners waarsku dat die stryd groter implikasies het. Suid-Afrika het meer as 600 Amerikaanse maatskappye wat SEB nakom en honderde duisende werksgeleenthede skep. As buitelandse beleggers wegbly weens raswetgewing, kan dit werkloosheid en ekonomiese groei verder benadeel. Starlink se tegnologie word as ’n “game changer” beskryf vir landelike konnektiwiteit, waar tradisionele breëband nog ontbreek.
Musk het sy plasings Maandagoggend herhaal en selfs een vasgepen. Die saak is nog ver van opgelos. Okosa moet binnekort reageer op Malatsi se riglyne, terwyl die politieke vuur in die RNE aanhou smeul.
