Die debat oor plekname in Suid-Afrika het die afgelope week weer fel opgevlam oor voorgestelde en goedgekeurde naamsveranderings in KwaZulu-Natal en ’n aantal dorpe in die Oos-Kaap.
In KwaZulu-Natal het die Zoeloe-koning, Misuzulu kaZwelithini, onlangs, tydens die 147ste herdenking van die Slag van Isandlwana, ’n veldtog aangekondig om die “Natal” uit die provinsie se naam te verwyder.
In die Oos-Kaap raak die mees omstrede naamsverandering Graaff-Reinet, die vierde oudste dorp in Suid-Afrika, wat glo hernoem gaan word na Robert Sobukwe Town, ter ere van die antiapartheidsaktivis en stigter van die Pan Africanist Congress (PAC) wat daar gebore is.
🚨 Historic towns set for new names in the Eastern Cape! East London will be renamed KuGompo City, while Graaff-Reinet, one of SA’s oldest towns, will become Robert Sobukwe Town. The changes, approved by the national Geographical Names Council, are part of a wider push to replace… pic.twitter.com/fWxbEO8Tpu
— Salaamedia (@salaamedia) January 29, 2026
Ander voorgestelde veranderings in die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit sluit in Aberdeen na Camdeboo (of Xamdeboo) en Nieu-Bethesda na KwaNoheleni. Oos-Londen sal na bewering KuGompo City word.
Die berigte van naamsveranderings in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap lok uiteenlopend reaksies onder Suid-Afrikaners uit wat wissel van historiese trots en herstel tot frustrasie, woede en moegheid oor wat kritici as duur simboliek te midde van swak dienslewering beskryf.
🚨 AmaZulu King Misuzulu's campaign to rename KwaZulu-Natal has received significant backing from the Inkatha Freedom Party (IFP), marking a pivotal moment in the province's political landscape.
Read more: https://t.co/Bs5xF1tRqr#AmaZulu #KingMisuzulu #KwaZuluNatal #IFP pic.twitter.com/k6jcauvGEf
— The Mercury™ (@TheMercurySA) January 28, 2026
Sommige verwelkom dit as die erkenning van ’n bevrydingserfenis en inheemse geskiedenis. Ander voel vervreem en oorval. “Ek is nie verknog aan die ou name nie,” het een inwoner op sosiale media geskryf, “maar die koste hieraan verbonde maak my kwaad. Daardie geld kan mos beter aan paaie, water en elektrisiteit bestee word.”
Die Zoeloe-koning se oproep het vinnig politieke steun gekry van die Inkatha Vryheidsparty (IVP), die grootste party in die provinsiale regering van eenheid. Die IVP het die voorstel as “tydig en histories geregverdig” beskryf en aangevoer dat die huidige naam ’n kompromie uit die vroeë 1990’s is wat nie die volle betekenis van die Zoeloe-koninkryk weerspieël nie.
🐘🐘🐘🔴⚪️⚫️🟢🟡⚪️🔴
The IFP in the KwaZulu-Natal Legislature fully supports and applauds the call by His Majesty King Misuzulu kaZwelithini to rename the KwaZulu-Natal Province to KwaZulu. #Sethembe#SisebenzelaWena#2026LGE#VoteIFP pic.twitter.com/DdEjnICuVA
— #VoteIFP (@vote_ifp) January 28, 2026
Maar die reaksie was allesbehalwe eensgesind. Politieke en kulturele ontleders het gewaarsku dat die verwydering van “Natal” die indruk kan skep dat een kultuurgroep bo ander verhef word in ’n provinsie wat bekend is vir sy diversiteit, insluitend groot Indiër-, Afrikaanse en ander gemeenskappe. Die provinsiale regering het intussen beklemtoon dat daar nog geen formele proses begin het nie en dat enige verandering uitgebreide openbare deelname, wetgewing en nasionale goedkeuring sal vereis.
Terwyl die KwaZulu-Natal-voorstel nog op die vlak van ’n veldtog is, lyk dit of naamsveranderings in die Oos-Kaap nader aan werklikheid beweeg. Die minister van sport, kuns en kultuur, Gayton McKenzie, het volgens berigte 21 geografiese naamsveranderings landswyd goedgekeur, waarvan verskeie in die Oos-Kaap.
In ’n onderhoud met Daily Dispatch het die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Komitee vir Geografiese Plekname, Johnny Mohlala, die veranderinge bevestig.
Terwyl die goedkeurings daar is, het Mohlala egter beklemtoon dat die veranderinge nog in die Staatskoerant gepubliseer moet word, met die formele publikasieproses wat na verwagting in die volgende weke sal plaasvind.
Sedert 1994 is meer as 1 500 geografiese name reeds amptelik verander – van dorpe en stede tot riviere, berge en selfs lughawens. KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap is van die provinsies met die meeste veranderinge. Die jongste golf van 104 aansoeke in 2024/25 en 2025/26 wys dat die momentum nie afneem nie.
Burgerregte-organisasies soos AfriForum en ander is al jare lank sterk gekant teen die Oos-Kaapse voorstelle. Hulle waarsku teen onvoldoende gemeenskapskonsultasie, moontlike skade aan historiese erfenis en die ekonomiese impak op toerisme en besighede.
Ondersteuners van die veranderings meen egter dat koste-argumente oordryf word en dat simboliese herstel nie teen dienslewering afgespeel behoort te word nie. Vir hulle gaan dit oor erkenning, waardigheid en die reg om plekke vanuit ’n Afrika- en bevrydingsoogpunt te benoem.
gay mckenzi how tf do you approve of East London to be re named to KuGompo City, that’s a town ship name in beacon bay tf. @GaytonMcK we don’t approve as the city this gov would rather change the name than fix the city the government are a bunch of idiots pic.twitter.com/2MAiU0H5MV
— canna coast (@cannacoast_) January 29, 2026
Wat duidelik is, is dat plekname in Suid-Afrika veel meer as net woorde op ’n kaart is. Dit raak aan identiteit, geskiedenis en sterk emosies. Met verdere openbare prosesse, moontlike appèlle en regsuitdagings wat voorlê, lyk dit onwaarskynlik dat die emosies rondom hierdie kwessie gou gaan bedaar.
