Hier in die hart van die herfs in die suide van die heelal is die tekens van die aanbreek van ’n ander seisoen reeds duidelik sigbaar, hoorbaar en tasbaar. Wat nou ’n aanvang begin neem het, is ’n seisoen van stemwerwing vir volgende jaar se algemene verkiesing – presies 30 jaar ná Suid-Afrikaners vir ’n eerste nierassige, demokratiese regering kon stem.
’n Maand gelede reeds het die ANC-leier, Cyril Ramaphosa, ondersteuners in gebiede soos Stanger in KwaZulu-Natal aangemoedig om vir die verkiesing te registreer. Dit is slegs die ANC wat die landsburgers se probleme kan oplos, het hy daar gesê.
Hierop sou opposisiepartye kon reageer dat dit dan juis die ANC-regering is wat die oorsaak van die probleme is of tot nou die onvermoë getoon het om met oplossings vorendag te kom. Begin daarom vandeesmaand, het die DA se John Steenhuisen met sy herverkiesing as leier van die amptelike opposisie kiesers aangemoedig om eerder die DA die geleentheid te gee om in 2024 op sy eie of in samewerking met ander opposisiepartye te regeer.
In dié konteks bied “Die lied van jong Suid-Afrika”, geskryf om spesifiek tot die Afrikaner-volk te spreek, dalk iets bruikbaar vir die politiek in ’n 30 jaar oue demokrasie, naamlik ’n oproep tot nuwe moontlikhede. Sonder om oneerbiedig teenoor Eitemal se oorspronklike bedoeling op te tree, ’n klein aanpassing van die eerste deel van die lied:
En hoor jy die magtige dreuning?
Oor die veld kom dit wyd gesweef:
die lied van ’n verkiesing in aantog
wat harte laat jubel en juig
Van Kaapland tot bo in die Noorde
rys dawerend luid die akkoorde:
Dit is die klanke van Volwasse Suid-Afrika,
dit is die klanke van Volwasse Suid-Afrika,
dit is die klanke van Volwasse Suid-Afrika.
Of dit is wat opposisiepartye hulself laat glo en waartoe hulle ook kiesers wil oorwen: dat die land se stemgeregtigdes – ná drie dekades van die ANC as regerende party – nou polities volwasse genoeg is om te besef (i) dat die ANC niks nuuts kan bied nie, (ii) dat die ANC nie die vermoë het om die komplekse uitdagings van die land die hoof te bied nie; en (iii) dat ’n nuwe dagbreek dringend noodsaaklik is om te verhoed dat infrastruktuur en dienslewering geheel en al in duie stort.
Die sonopskoms wat ons aan die begin van 2018 gade geslaan het met Cyril Ramaphosa se magsoorname by Jacob Zuma, was simbolies sterk en verfrissend, maar nou kom Ramaphosa voor asof hy self begin aanvaar dat die son aan die sak is vir sy party – en straks vir hom ook. Persoonlike uitdagings, wat moontlike kriminele aanspreeklikheid mag insluit, vermenigvuldig met interne politieke uitdagings, is gelyk aan ’n flou makou in die Uniegebou.
Terwyl Ramaphosa wel die ANC in 2019 se verkiesing tot ’n oorwinning kon lei en die ANC steeds ’n aansienlike aantal munisipale rade beheer, het die uitslae van sowel 2016 as 2021 se plaaslike verkiesings die party benoude spronge laat maak. Die ANC kan lank nie meer op sy louere rus of selfvoldaan aanneem dat hy 50% of meer van kiesers se kruisies op homself sal verenig nie. Wat nog te sê van die eens magiese tweederdes-steun!
In die 2021-verkiesing, aldus syfers op die webwerf TimesLive, het die party 47,90% gekry, gevolg deur die DA se 20% en die EFF se 10,6%. Nou het die opposisiepartye in hul visier die oorname van die nasionale regering met volgende jaar se verkiesing, die droom dat opposisiepartye ’n koalisie sal kan vorm wat die ANC se bewind sal beëindig. Wat hulle aanmoedig en oortuig dat dit moontlik is, is die ANC se verswakkende vertonings in November verlede jaar in 2016 se munisipale verkiesings en ook in 2019 se algemene verkiesing.
Maar ’n kopseer vir die opposisiepartye met noemenswaardige steun (vernaamlik die DA) is dat dit die kleiner partye met dikwels slegs een, twee of drie setels is (PA, ATM, Cope) wat na vore getree het as diegene wat die kitaar slaan. Hoe laasgenoemde dit vermag, is dat hulle deur sommige groter partye (ANC, EFF) “omgekoop” word met aanbiedings van belangrike poste – burgemeester, speaker, lid van die burgemeesterskomitee, direkteur – in ruil vir hul steun. Dit geskied in alle politieke rigtings. Gevolglik word groot ontwrigting deur dié wipplankryery veroorsaak en die inwoners van dorpe en metrogebiede trek uiteindelik aan die korste ent omdat dienslewering nooit behoorlik op dreef kom nie.
Die uitslae van die laaste verkiesing het weliswaar meegebring dat daar nou in verskeie metrorade – omtrent oral behalwe in die Stad Kaapstad, waar die DA gerieflik in beheer is – rondomtalie gespeel word met die verskillende koalisies wat om die beurt in- en uitgestem word.
Hierin is die grootste risiko vir ’n moontlike koalisieregering in 2024 gevestig: Hoe verseker jy dat partye getrou bly aan die ooreenkoms om saam te regeer en oor die verdeling van poste (of regeringsverantwoordelikhede)? Wat gebeur met ’n nasionale regering in ’n land waar koalisies geen gevestigde politieke kultuur is soortgelyk aan wat met groot sukses in Europese lande soos Denemarke en Duitsland die geval is nie? Dit is aan hierdie vrae dat die DA en sy bondgenote soos ActionSA en die VF Plus die meeste aandag moet gee. Wat ongelukkig dikwels kop uitsteek, is ’n wedywering oor wie eienaarskap kan opeis oor die groot koalisiedroom.
Dié partye moet egter in ag neem dat die ANC in volgende jaar se verkiesingsveldtog moontlik sy grootste troefkaart ten toon kan stel – ondanks al die ophopende mislukkings van drie dekades se regering: dat die party steeds erken word as die voorste vryheidsbeweging wat geveg het vir ’n einde aan apartheid, verdrukking en die rassediskriminasie van ouds. Dit is nie verregaande om te voorspel dat hulle steeds genoeg kopknikke sal kan verseker as hulle die uitspraak maak dat drie dekades gans te kort is om meer as drie eeue se onreg ongedaan te maak nie.
Waarmee die party egter, omgekeerd, moet rekening hou, is die geskiedkundige gegewe dat vryheidsbewegings se termyne as regerende partye normaalweg ná 30 jaar uitgedaag en beëindig word. Of die ANC daarmee vir lief sal neem, dit gelate sal aanvaar, is die vraag wat bekommerde Suid-Afrikaners in 2024 (in groter getalle as die 45,7% van 2021 en 46,7% in 2019) na die stembus moet laat opruk. Anders kan die opposisie maar koebaai sê vir die droom van ’n nasionale koalisie en moet Suid-Afrikaners hulle gereed maak vir die nagmerrie van nóg ’n ANC-termyn.