Afrikaans en Nederlands is twee van 10 tale in die wêreld wat relatief maklik deur Engelssprekendes aangeleer kan word.
Die lys van tale wat volgens navorsers makliker of moeiliker deur mense wie se moedertaal Engels is aangeleer kan word, is die afgelope week op die webwerf Effective Language Learning gepubliseer.
Die moeilikste tale vir Engelssprekendes om aan te leer is Japannees, Chinees, Arabies en Koreaans. Dit sal iemand wie se moedertaal Engels is min of meer 2 200 uur neem om een van hierdie tale baas te raak.
Daarteenoor kan Engelse mense Afrikaans of Nederlands in minder as 600 uur baasraak.
Volgens die lys wat deur die Foreign Service Institute (FSI) vrygestel is, is dit glad nie so moeilik vir mense wie se moedertaal Engels is om Afrikaans of Nederlands aan te leer nie en tel dit onder die 10 tale wat die naaste is aan Engels.
Die ander tale wat in hierdie kategorie val is Deens, Frans, Italiaans, Noorweegs, Portugees, Roemeens, Spaans en Sweeds.
Engels word vir alle praktiese doeleindes beskou as die lingua franca van die wêreld en het sowat 375 miljoen moedertaalsprekers maar meer as 1,5 miljard mense wêreldwyd kan Engels praat. Spaans word ook wyd gepraat in veral Latyns Amerika en dele van Europa en het volgens die webwerf 330 miljoen moedertaalsprekers en altesaam 420 miljoen mense wat die taal magtig is.
In terme van moedertaalsprekers loop Chinees los voor met meer as 980 miljoen mense in die wêreld wie se eerste taal Chinees is.
Hindoe het sowat 460 miljoen moedertaalsprekers en sowat 650 miljoen mense in die wêreld kan Hindoe praat.
Nog een van die grootste tale in terme van moedertaalsprekers is Portugees met 216 miljoen mense wie se moedertaal Portugees is.
Suid-Afrika se inheemse swart tale val onder die kategorie tale wat moeiliker is om aan te leer vir mense wie se moedertaal Engels is. Slegs twee van Suid-Afrika se inheemse swart tale verskyn in die lys naamlik Zulu en Xhosa. Volgens die navorsers bestaan daar aansienlike linguistiese en/of kultuurverskille tussen hierdie tale en Engels.
Van die ander tale wat saam met Xhosa en Zulu in die lys van moeiliker tale is om aan te leer deur mense met Engels as moedertaal, is 20 ander tale wat wissel van Grieks tot Russies. Dit sal volgens die navorsers sowat 44 weke of 1 100 uur vir ’n Engelssprekende persoon neem om een van die tale baas te raak.
Duits is die enigste taal wat in ’n kategorie van sy eie verskyn en dit sal jou sowat 30 weke of 750 uur neem om Duits te leer as jou moedertaal Engels is.
Effective Language Learning se webwerf bevat ook ander interessante inligting van die wêreld se tale soos die verskillende tale se moeilikheidsgraad en redes waarom dit belangrik is om ’n spesifieke taal aan te leer.
Volgens die webwerf is daar ’n geraamde ses miljoen sprekers van Afrikaans in Suid-Afrika alleen. Dit is sowat 13 persent van Suid-Afrika se bevolking en die derde grootste taal in die land. Afrikaans is volgens die webwerf wyd verspreid oor die wêreld en kan veral in lande soos die Verenigde Koninkryk, Amerika, Australië, Nieu-Seeland, België en Koeweit gehoor word asook in lande soos Swaziland, Zimbabwe en Zambië.
Die webwerf Money control het ook van die inligting op hul webwerf geplaas met bykomende grafika.
Buro: NB