Entstowwe moet bespoedig word

  • 0

Terwyl samesweringsteorieë teen COVID-19-entstowwe soos ’n veldbrand op sosiale media versprei, vestig miljoene Suid-Afrikaners hulle hoop op die spoedige beskikbaarstelling van ’n effektiewe entstof teen die koronavirus.

Die vakbond Solidariteit se bestuurshoof, Dirk Hermann, het Maandag vure op Twitter probeer doodslaan en sê hy sien op sosiale media dat mense oor die algemeen net mooi niks met inentings te doen wil hê nie. Herman sê agter die kommentaar is daar egter iets anders, naamlik ’n totale vertrouensbreuk met die regerende ANC.

Gerugte op sosiale media dat die land weer na vlak 5-inperkings gaan terugkeer as gevolg van die tweede golf COVID-19 wat oor die land spoel, is Maandag deur die regering ontken. Die President se woordvoerder, Nonceba Mhlauli, sê die gerugte is fopnuus en daar is geen planne om weer ’n volskaalse inperking in te stel nie.

Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, het gesê die regering wil onderhandel dat ’n entstof vroeër in die land beskikbaar gestel word. Die Progressiewe Gesondheidsforum het vroeër gesê die feit dat die regering beplan om eers teen aanstaande maand ’n entstof te bekom, is onverskoonbaar en sal verreikende gevolge inhou. Mkhize sê die regering hét ’n plan.

Solidariteit het Maandag in ’n verklaring geëis dat die regering die verskaffing van entstowwe aan gesondheidswerkers moet versnel. Dit volg nadat dit aan die lig gekom het dat die regering vermoedelik die proses reeds met sowat drie maande vertraag het.

Solidariteit sê gesondheidswerkers is die hedendaagse helde van Suid-Afrika. Hulle werk ongelooflike ure onder moeilike omstandighede en is buite verhouding aan die virus blootgestel. Hulle moet ook dan buitengewone ondersteuning kry. Een van die metodes van ondersteuning is ’n dringende ingryping om entstowwe aan dié groep beskikbaar te stel.

Solidariteit voer aan dat gesprekke met maatskappye die grootste prioriteit moet geniet. Gesondheidswerkers kan nie, volgens Solidariteit, wag vir die stadiger Covax-proses nie.

“Die keuse berus egter steeds by die gesondheidswerker. Ons glo nie aan verpligte inentings nie, maar ons glo daaraan dat die entstof beskikbaar moet wees vir diegene wat dit wel wil ontvang. Toegang is die sleutelwoord,” sê Hermann.

Solidariteit sê hulle verwelkom die samewerking met die privaat sektor, maar beklemtoon dat die mediese fondse, hospitaalgroepe en ander ondernemings nie net finansierders mag wees nie; hulle moet betrek word by die totale waardeketting, insluitend aankope en verspreiding.

“Die staat kan nie beheer en die privaat sektor finansier nie. Die staat het ’n swak bestuursrekord. Die regering het tydens die pandemie reeds oor en oor bewys dat hy nie bevoeg is om leiding te neem nie. Dit is hierdie onbevoegdheid wat tot die vertraging in die verkryging van die entstof aanleiding gegee het, en die regering moet so ver as moontlik van hierdie proses af weggehou word.

“Ons is bekommerd dat die fasebenadering weer eens swak bestuur sal word en tot verdere vertragings sal lei, wat meer druk op gesondheidswerkers sal plaas. Hierdie mense is reeds oorlaai met pasiënte, hulle is uitgebrand en hulle moet nou die eerste prioriteit wees. Dit gaan eers beter word wanneer almal toegang tot die entstof het,” het Hermann gesê.

Gesondheidsamptenare in die Tuinroete-distrik in die Wes-Kaap het intussen gesê hoewel daar ’n afname in koronavirusinfeksies is, hospitale steeds onder druk is. Die streek is een van die COVID-19-brandpuntgebiede in die land. ’n Woordvoerder van die provinsiale Departement van Gesondheid, Nadia Ferreira, het volgens die SAUK gesê die situasie is kommerwekkend. Sy sê terwyl daar minder nuwe gevalle die afgelope weke was, het dit oor die laaste paar dae weer toegeneem. Ferreira sê die George-hospitaal het sy COVID-19-kapasiteit bereik, terwyl die Riversdal- en Oudtshoorn-hospitale die besigste in die distrik en onder geweldige druk is.

Die kantore van die Thulamela plaaslike munisipaliteit in Thohoyandou in Limpopo is gesluit nadat ’n aantal werknemers positief vir die koronavirus getoets het. ’n Woordvoerder van die munisipaliteit, Nndwamato Tshiila, sê twee werknemers is ook weens COVID-19 oorlede. Volgens Tshiila sal die kantore tot Dinsdag gesluit wees.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top