Eskom belowe en paai terwyl fase 8-beurtkrag wink

  • 0

Suid-Afrikaners is letterlik en figuurlik in die duister oor die kragsituasie nadat die  land die afgelope week nader as ooit vantevore gekom het aan fase 8-beurtkrag.

Meer as die helfte (24 809 MW) van Eskom se geïnstalleerde kapasiteit van 48 000 MW was Maandagoggend buite werking.

Dit is ’n nuwe rekord, het Eskom bevestig. Groot onderbrekings het fase 6 oor die naweek veroorsaak, en Eskom het gewaarsku oor verdere stadiums van beurtkrag.

“Hoe op aarde breek agt opwekkingseenhede op ’n Sondagmiddag?” wou ontstoke Suid-Afrikaners weet toe die kragvoorsiener Maandag aankondig dat fase 6-beurtkrag onbepaald sal voortduur.

Die ekonoom Thabi Leoka het op Twitter gesê die gedreun van kragopwekkers in Suid-Afrikaanse stede maak haar depressief. “Dit is nie hoe ek my Suid-Afrika in 2023 voorgestel het nie. Ek is diep hartseer oor wat met hierdie pragtige land gebeur. Ons moet nooit hierdie vlak van agteruitgang normaliseer of aanvaar nie.”

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het daarop reageer en gesê hulle stem saam dit is nie normaal nie, en Suid-Afrikaners moet almal hande vat om vir hulle land te veg. “Dit is ’n geveg wat ons nie kan bekostig om te verloor nie. #OUTA doen ’n beroep op elke betrokke burger om organisasies wat veg vir ’n beter SA te ondersteun op enige manier wat jy kan. Tyd, geld, idees. Raak betrokke by die stryd!” het Outa op Twitter gesê.

Outa is een van verskeie partye wat die regering se ramptoestand oor die land se kragsituasie in die hof gaan uitdaag.

Hoewel Eskom se uitvoerende hoof, André de Ruyter, wat aanstaande maand die sinkende skip verlaat, probeer het om die publiek tot kalmte te maan, waarsku energiekenners dat fase 8-beurtkrag gedurende die wintermaande nie uitgesluit kan word nie.

Eskom sê hoewel hy nie op die oomblik eskalerende beurtkrag ná fase 6 verwag nie, daar wel voorberei word om gebeurlikheidsplanne reg te kry sou hy meer uitdagings in die gesig staar.

De Ruyter het gesê hy kan die publiek die versekering gee dat hulle alles in hulle vermoë doen om te verseker dat die land nie in ’n situasie beland waar daar verder as fase 6 gegaan word nie. “Maar die stelsel het natuurlik ’n inherente gebrek aan betroubaarheid en dit gee ons die behoefte om vir hierdie onvoorsiene gebeure te beplan,” het De Ruyter Maandag gesê.

Terwyl beurtkrag aanhou vererger, het die DA Dinsdag aangekondig dat hulle ’n voorgestelde wetsontwerp op sonkragtoegang by die parlement gaan indien wat aktief ontwikkel moet word.

Die party se skaduminister van mineralebronne en energie, Kevin Mileham, sê Suid-Afrikaners soek na maniere om hulself en hul besighede teen die ergste gevolge van hierdie elektrisiteitskrisis te beskerm. Dit het gelei tot ’n wydverspreide beweging om residensiële sonpanele regoor Suid-Afrika te installeer.

Mileham sê in ’n verklaring die voorgestelde doelstellings van die wetsontwerp sluit die volgende in:

  • ’n Opdrag dat Nersa ’n billike vergoedingskema regoor die land instel vir diegene wat krag in die netwerk invoer deur ’n minimum-persentasie vergoedingsvlak vas te stel wat aan ’n verbruiker betaal moet word in verhouding tot die gewone elektrisiteitstarief. Dit is om te verseker dat invoertariewe nie onregverdig laer is as die gewone tarief nie;
  • ’n Ondersoek na krediet- of tariefverrekenings wanneer ’n sonpaneelgebruiker meer elektrisiteit in die netwerk invoer as wat hy verbruik, in ooreenstemming met die bepalings van Artikel 217 van die Grondwet.
  • ’n Vereiste dat munisipaliteite tweerigtingmeters vir kraginvoertariewe moet voorsien en/of fasiliteer en sodoende meer verbruikers in staat stel om elektrisiteit wat vanaf sonpanele opgewek word, terug te voer in die netwerk.

Hierdie voorgestelde doelwitte van die wetsontwerp sal volgens die DA onmiddellik die potensiaal van die private sektor ontsluit en help om die elektrisiteitstekort op Suid-Afrika se netwerk te verlig.

Die DA het versoek dat kommentaar en voorstelle oor die voorgestelde oogmerke van die wetsontwerp teen 31 Maart 2023 aan legislation@da.org.za gestuur word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top