Eskom bespaar miljarde rand se diesel

  • 0

Eskom het meer as R16 miljard aan diesel bespaar vergeleke met verlede jaar, maar toon steeds ’n arrogante minagting vir die negatiewe impak van hulle voorgestelde prysstygings. Daar is onvoldoende begrip watter negatiewe impak hierdie voorgestelde verhogings op kragverbruikers het.

Dit is twee feite wat die afgelope week na vore gekom het in afsonderlike vergaderings waar Eskom ter sprake gekom het.

Terwyl die kragvoorsiener se bestuurspan in die parlement gespog het met die miljarde rand wat bespaar word as gevolg van die minder diesel wat gebruik word om die land se ligte aan te hou, is daar in Midrand ernstige beswaar gemaak teen Eskom se voorgestelde prysverhogings.

Die organisasie teen belastingmisbruik (Outa) het by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) se openbare verhore in Midrand sy stem dik gemaak oor Eskom se aansoek om prysverhogings oor die volgende drie jaar.

Outa sê in ’n verklaring hulle het reeds ’n skriftelike voorlegging aan Nersa gemaak en beswaar gemaak teen die verhogings. Hulle mondelinge voorlegging aan Nersa is daarop gebaseer.

Eskom se aansoek vir meerjarige prysbepalings is vir die jare 2025/26 tot 2027/28. Outa se kernargument is dat Eskom se aansoek om verhogings van 36,15% vir 2025, 11,81% vir 2026 en 9,1% vir 2027 buitensporig is en ’n nadelige impak op Suid-Afrika se ekonomie, klante en die samelewing sal hê. Die verhogings sal ’n prysverhoging van 66% oor die drie jaar tot gevolg hê.

“Outa is breedweg gekant teen Eskom se aansoek om ’n inkomste- en gemiddelde elektrisiteitsprysverhoging van 66% oor die volgende drie jaar, soos die afgelope 15 jaar se prysstygings wat elke jaar aansienlik bo die inflasiekoers was,” lui die aanbieding.

“Die Eskom-aansoek toon ’n arrogante minagting en ’n onvoldoende waardering vir die negatiewe impak van die voorgestelde prysstygings.”

Outa se aanbieding is deur Chris Yelland, ’n energiekenner en adviseur vir Outa, gelewer.

Yelland sê Eskom fokus daarop om inkomste te verhoog, maar gee min aandag aan die vermindering van sy kostestruktuur, die vermindering van skuld- en finansieringskoste, die vermindering van verliese, die verbetering van finansiële en bedryfsprestasie, of die vervreemding van niekernbates. Hulle begroot byvoorbeeld vir ’n verhoging van 38% in primêre energiekoste oor een jaar.

Die Eskom-inkomste-aansoek identifiseer nie duidelike teikens vir spesifieke kosteverminderings of doeltreffendheidverbeterings oor die belangrikste kostekategorieë nie, sê Yelland.

Outa beveel aan dat daar ’n onafhanklike hersiening van Eskom-personeel en hul vergoeding moet wees; dat teikens gestel word om verliese te verminder; en ’n dringende fokus daarop om prestasie en doeltreffendheid te verbeter.

“Die President se noodplan om beurtkrag te beëindig en die stigting van die Nasionale Energiekrisiskomitee onder leiding van die minister van energie en elektrisiteit het gelei tot meer as 240 dae sonder beurtkrag. Dit wys wat bereik kan word met toegewyde leierskap en fokus. Dit is Outa se siening dat ’n soortgelyke toegewyde nasionale poging en fokus nou nodig is om energie-armoede, energietoegang, energiebekostigbaarheid en die prys van elektrisiteit wat buite beheer is, aan te spreek,” sê Yelland.

In Kaapstad het Eskom se bestuur en direksie voor die parlement se elektrisiteits- en energiekomitee verskyn om onder meer sy prestasie en finansies vir die 2024/25-boekjaar te bespreek.

Dan Marokane, uitvoerende hoof van Eskom, sê hul prestasie het ’n opswaai beleef en die besparings wys dit.

Eskom sê hulle is vol vertroue dat die feestyd en selfs volgende winter sonder enige beurtkrag sal wees.

Volgens die Eskom-bestuur is die volgehoue ​​tydperk sonder beurtkrag te danke aan verhoogde opwekkingsprestasies.

Mteto Nyati, voorsitter van die Eskom-raad, het ontken dat die agt maande sonder beurtkrag die gevolg is van groot hoeveelhede diesel wat gebruik. Hy sê dit is weens Eskom se finansiële en operasionele prestasie wat verbeter het.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top