Die leier van Build One South Africa en voormalige DA-leier Mmusi Maimane het Maandag ’n kriminele klag by die Kaapstad-polisiestasie gelê teen onder andere Eskom se voormalige uitvoerende hoof, André de Ruyter, in verband met wydverspreide plundering by Eskom.
Maimane wil hê hulle moet gedwing word om die name bekend te maak van die senior politici wat by De Ruyter se bewerings oor korrupsie by Eskom betrek word. Hy sê as De Ruyter die inligting aan Gordhan oorgedra het, moet Ramaphosa gedwing word om te sê wat hy van die bewering geweet het en of hy iets daaromtrent gedoen het.
BOSA leader Mmusi Maimane at the Cape Town Police Station to compel Andre de Ruyter to provide evidence about the corruption he’s said has taken place at #Eskom. pic.twitter.com/szma1VXwiW
— EWN Reporter (@ewnreporter) February 27, 2023
ActionSA het op hulle beurt in ’n verklaring gesê ’n beëdigde verklaring deur De Ruyter en Eskom toon na bewering reeds dat die regerende ANC nie genoeg gedoen het om seker te maak dat die land se kragbehoeftes aangespreek word nie.
Die beëdigde verklaring is deel van die hofsaak wat deur die United Democratic Movement (UDM) en 17 ander van stapel gestuur is om, onder meer, die regering se reaksie op beurtkrag ongrondwetlik en ’n skending van fundamentele menseregte te verklaar.
De Ruyter se beëdigde verklaring bevestig volgens ActionSA húlle oortuiging dat die ANC ’n kriminele sindikaat is wat direk verantwoordelik is vir die beurtkragramp. Hulle sê die ANC moet aanspreeklik gehou word daarvoor dat hulle die land in duisternis gedompel het, en as gevolg daarvan mense se veiligheid en lewensbestaan in gedrang gebring het.
Die saak word volgende maand in die Noord-Gautengse Hooggeregshof aangehoor.
ActionSA sê die beëdigde verklaring deur De Ruyter bewys sonder enige twyfel dat die besluite van die ANC-geleide regering, so ver terug as 1998, regstreeks te blameer is vir die toestand van beurtkrag waarin Suid-Afrika hom tans bevind.
De Ruyter’s affidavit reaffirms ActionSA’s belief that the ANC is a criminal syndicate that is directly responsible for the disaster that is loadshedding. https://t.co/d78vw2AWum
— ActionSA (@Action4SA) February 26, 2023
Die Eskom-direksie het verlede week aangekondig dat De Ruyter die maatskappy met onmiddellike ingang verlaat nadat hy ’n reeks verdoemende aantygings gemaak het in ’n TV-onderhoud wat op eNCA uitgesaai is.
Die hofsaak sal op 20 Maart 2023 in die Gautengse Hooggeregshof aangehoor word.
De Ruyter het in sy beëdigde, beantwoordende verklaring aangedui dat Eskom in die 1990’s sy vermoë verloor het om in nuwe elektrisiteitsopwekking te belê, en het sedertdien goedkeuring van die staat gevra om nuwe opwekkingsvermoë te bou.
De Ruyter se beëdigde verklaring lui: “Met die bou van nuwe kragstasies wat vir meer as ’n dekade vertraag is, moes Eskom sy verouderde steenkoolvloot teen veel hoër gebruiksvlakke as aanvaarde internasionale bedryfspraktyke bestuur en beplande instandhouding uitstel.”
Toe die ANC-geleide regering uiteindelik aan Eskom goedkeuring verleen het om nuwe kragstasies te bou, het De Ruyter gesê die bou van die Medupi- en Kusile-kragstasies moet verhaas word om beurtkrag te verminder, wat tot ontwerpfoute en swak konstruksie gelei het.
De Ruyter sê verder dat indien Eskom se voormalige uitvoerende beamptes Brian Molefe en Matshela Koko nie geweier het om ooreenkomste met Renewable Energy Independent Power Producers (REIPP) te sluit nie, 96% van beurtkrag vandag vermy kon gewees het.
Sy beëdigde verklaring lui: “Mnr Molefe en mnr Koko het hierdie besluite geneem in stryd met ’n bepaling deur die minister van minerale en energie dat Eskom REIPP-ooreenkomste moes sluit om die voorsienbare aanbodbeperkings, wat ons nou ervaar, te versag.
“Deur hierdie besluite te neem, het mnr Molefe en mnr Koko die nodige groei van Suid-Afrika se opwekkingskapasiteit belemmer.”
De Ruyter het gesê die regering het ’n “hou ligte aan”-beleid aanvaar, wat beteken dat Eskom effektief verbied is om eenhede af te skakel om die nodige instandhouding te verrig, indien dit tot beurtkrag sou lei.
Verder meld De Ruyter dat Hitachi – wat gehelp het om ketels by die Medupi- en Kusile-kragstasies te bou – 25% van sy belang in ’n filiaal aan die ANC se beleggingsarm, Chancellor House, verkoop het.
“Hitachi het Chancellor House aangemoedig om sy politieke invloed te gebruik om te verseker dat hy kontrakte van Eskom verkry, en Hitachi het Chancellor House ongeveer US$5 miljoen aan ‘dividende’ betaal,” lui De Ruyter se beëdigde verklaring.
ActionSA sê dit is slegs deur etiese leierskap en oppergesag van die reg dat die beurtkragramp opgelos kan word, eienskappe wat die ANC keer op keer gewys het hy nie besit nie.