Eskom dompel die land vroeg in jaar in die duister

  • 0

Suid-Afrikaners is in die duister oor hoe lank beurtkrag, wat Woensdag vir die eerste keer die jaar ingestel is, sal duur.

Hoewel Eskom in hulle verklaring gesê het beurtkrag sal van Woensdag tot Maandag geld, kon die kragvoorsiener geen versekering gee dat dit wel Maandag opgehef sal word nie.

Volgens Eskom se uitvoerende hoof, André de Ruyter, moes beurtkrag ingestel word om ’n totale ineenstorting van die kragnetwerk, ’n algehele kragverduistering wat tot twee weke sou kon neem om te herstel, te voorkom.

De Ruyter het Woensdag tydens ’n mediainligtingsessie gesê Eskom het ’n “onvoorspelbare kragnetwerk” en beplande instandhouding neem langer as wat Eskom verwag het.

Verder meen Eskom dat beurtkrag toegepas moes word om ’n totale ineenstorting van sy kragnetwerk te voorkom, aangesien die diesel en water van sy noodreserwes uitgeput is. Eskom reken dat onbeplande kragonderbrekings (soos nou) die enigste uitweg is om ’n totale ineenstorting van sy kragnetwerk te voorkom.

De Ruyter het gesê dat hoewel fase 2-beurtkrag vanaf 11:00 op Woensdag tot 05:00 op Maandag ingestel sal word, beurtkrag verder sou kon voortduur.

Jan Oberholzer, bedryfshoof van die kragvoorsiener, wou ook geen voorspelling waag oor hoe lank die risiko van beurtkrag sal duur nie.

Hy sê as hy ’n voorspelling moet waag, sal hy nie die waarheid praat nie, aangesien die moontlikheid van beurtkrag sal voortduur solank as wat die probleme wat die afgelope week ervaar is, voortduur.

“Ek kan nie nou sê ons gaan nog vyf dae, of tien dae hê nie. Ek het nie daardie kristalbal om dit vir jou te gee nie, maar ons sal alles in ons vermoë probeer doen om seker te maak dat ons nie die land [onnodig] deur die pyn van beurtkrag sit nie,” het Oberholzer gesê.

De Ruyter wou dit ook nie waag om in die kristalbal te kyk nie. “Ek het nie ’n kristalbal om in die toekoms te kan sien nie,” was De Ruyter se antwoord op ’n medianavraag oor die moontlikheid dat beurtkrag ná Maandag sal voortduur.

De Ruyter sê dat die vooruitsigte van Eskom se risiko vir beurtkrag baie onvoorspelbaar is, maar dat die kragnetwerk veral oor somermaande onder erger druk is, aangesien talle opwekkingseenhede oor dié tydperk herstel word.

De Ruyter hoop dat beurtkrag selfs vroeër opgehef kan word, of uitgestel kan word, alhoewel dit nie tans na ’n moontlikheid lyk nie.

Eskom meen dat sy skuldlas van munisipaliteite én onvoldoende projekbestuur die kragmaatskappy se vermoë beperk om die land se ligte aan te hou. Dit neem ook lank om noodreserwes aan te vul.

Eskom sê in hulle verklaring die kragvoorsiener moes sedert die naweek aansienlike hoeveelhede noodreserwes benut, wat nou uitgeput is en aangevul moet word.

’n Eenheid elk by die Kusile- en Kendal-kragstasies het opgehou werk. Vertragings in die terugkeer na produksie van ander eenhede by Kusile, Tutuka, Duvha, Lethabo en Grootvlei het ook tot die huidige aanbodbeperkings bygedra.

Die totale onklaarrakings beloop 14 994 MW, terwyl beplande instandhouding 4 435 MW se kapasiteit eis solank daar voortgegaan word met betroubare instandhouding.

Drie opwekkingseenhede sou na verwagting teen Woensdagmiddag weer in diens wees.

Eskom het ’n beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen om te help om die impak van beurtkrag te beperk deur die gebruik van elektrisiteit te verminder en deur nienoodsaaklike items af te skakel.

Die volledige beurtkragskedule is op die nutstoepassing EskomSePush beskikbaar.

Die  moontlikheid dat sabotasie agter die jongste ronde van aanhoudende stroomonderbrekings lê, is Woensdag deur die Eskombestuur uitgesluit. Oberholzer het gesê hulle het geen tasbare bewys dat wat die laaste paar dae gebeur het, weens sabotasie was nie.

In November het De Ruyter onthul dat daar doelbewuste sabotasiedade naby die Lethabo-kragstasie was wat aansienlike kragonderbrekings kon veroorsaak het.

 

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top