Suid-Afrikaners, wat die afgelope week weer deur aanhoudende kragonderbrekings geteister is, moet hulle maar voorberei vir ’n koue en donker winter.
Dit is die mening van energiekenners, wat waarsku dat die land se kragvoorsiening rampspoedige afmetings aanneem. Die erns van die situasie is Donderdag tydens ’n virtuele nuuskonferensie ook deur president Cyril Ramaphosa erken.
Die onafhanklike energie-ontleder Andrew Kenny sê beurtkrag is ’n realiteit vir die volgende vyf tot tien jaar, en Suid-Afrikaners sal eenvoudig hieraan gewoond moet raak. Kenny het volgens RSG gesê Eskom se beleërde situasie sal voortduur indien daar nie dringend opgetree word om verouderde infrastruktuur op te gradeer nie.
Die DA het ook Donderdag in ’n verklaring ’n beroep op Eskom se hoof, André de Ruyter, gedoen om die land in sy vertroue te neem oor die ware toedrag van sake ten opsigte van die elektrisiteitsituasie.
Die DA se skaduminister van openbare ondernemings, Ghaleb Cachalia, sê in die lig van Eskom se aankondiging die afgelope week dat fase 3- en fase 4-beurtkrag toegepas word, lyk dit asof die land se elektrisiteitstoevoer op die rand van algehele ineenstorting is.
Suid-Afrikaners moes die afgelope week inderhaas planne maak om die wiele aan die rol te hou te midde van verskeie onvoorsiene kragonderbrekings.
“Indien ons nou reeds in Juniemaand op fase 3- en 4-beurtkrag aangewese is, kan die land teen Augustus dalk in algehele duisternis wees?” is een van die vrae waarop die DA ’n antwoord wil hê.
Die DA sê beide De Ruyter en die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, skuil op die oog af agter ’n kleed van beweerde geheimhouding terwyl Eskom die land se ekonomie en gesondheidstelsel al hoe dieper die afgrond in lei.
Indien Gordhan nie oop kaarte met die publiek wil speel nie, volgens die DA, gaan hierdie politieke party die parlement versoek om hom en De Ruyter voor die parlement se portefeuljekomitee van openbare werke te daag sodat hulle kan rekenskap gee van wat die werklike situasie is.
Luister hier na ’n klanksnit van Cachalia.
Eskom het in ’n verklaring aangevoer dat bykomende herstelwerk by die Medupi- en twee ander eenhede by Duvha-kragstasies, tesame met die hoë landswye elektrisiteitsaanvraag gedurende die winter die belangrikste rede is waarom hulle fase 4-beurtkrag moes instel die afgelope week.
Die energiekenner Ted Blom het aan die media gesê die land moet hom staal vir die ergste, aangesien die elektrisiteitsnetwerk uiters kwesbaar is. Volgens hom kan fase 6-beurtkrag of erger Suid-Afrika se voorland wees as dinge nie drasties verbeter nie.
Eskom se hoof, André de Ruyter, het in ’n onderhoud met Netwerk24 gesê hy is ook moeg vir beurtkrag en begryp dat mense gefrustreerd en keelvol is. Hy het aan Jana Marx gesê hoewel beurtkrag die land die laaste ruk weer verlam, behoort Suid-Afrika teen September ’n beduidende afname in die risiko van beurtkrag te sien. Hy waarsku egter dat dit slegs ’n afname sal wees en nie ’n uitskakeling van beurtkrag nie.
Intussen het president Cyril Ramaphosa Donderdag die ekonomiese kwessies wat die land raak, tydens ’n virtuele mediakonferensie aangespreek. Dit was deel van die regering se plan om vinnige en volhoubare ekonomiese herstel te behaal.
Ramaphosa het die belangrikheid daarvan beklemtoon dat die regering die land se elektrisiteitstekort moet oplos, want beurtkrag het ’n uiters negatiewe uitwerking op die ekonomie. Ramaphosa sê die pas van ekonomiese herstel sal kan koers kry slegs indien die regering die krisis spoedig oplos. Hy sê dit is tans die regering se belangrikste prioriteit. Daarom word die 1 megawatt beperking op munisipaliteite en ondernemings om self krag op te wek opgehef om tot 100 megawatt sonder ’n lisensie toe te laat. Ramaphosa het bevestig dat skedule 2 van die Wet op Elektrisiteitsregulering gewysig gaan word, maar dat Nersa dit eers sal moet goedkeur. Hy sê Eskom sal egter die land se hoofenergiebron bly.
“Following an extensive public consultation and a significant amount of technical work undertaken by the @DMRE_ZA, we will be amending Schedule 2 of the Electricity Regulation Act to increase the NERSA licensing threshold for embedded generation projects from 1 MW to 100 MW.” pic.twitter.com/yzUFiziRZg
— Presidency | South Africa ?? (@PresidencyZA) June 10, 2021