Eskom hou die land in die duister(nis)

  • 0

Suid-Afrikaners is in die duister oor hoe lank Eskom die land nog letterlik in die donker gaan hou, en daar is geen lig aan die einde van die tonnel nie. Die enigste sekerheid in hierdie donker dae is dat Eskom se probleme veel groter is as wat ons dink en dat daar nie staatgemaak kan word op politici se leë beloftes nie.

’n Video waarin oudpresident Jacob Zuma die land tydens ’n vergadering met Eskom se personeel in 2016 verseker dat daar nooit weer beurtkrag in Suid-Afrika sal wees nie, word die afgelope week wyd op sosiale media gedeel.

Eskom het Maandag gesê fase 4-beurtkrag kan tot Woensdag voortduur en nie tot Dinsdag soos wat vroeër aangedui is nie. Daar word gehoop die land se kragvoorsiening sal teen Donderdag weer stabiliseer, maar daar is geen waarborg nie.

Die adjunk openbare beskermer Kevin Malunga het op Twitter gesê Eskom is ’n perfekte gevallestudie van hoe organisasies en lande nie bestuur moet word nie. “Enigiemand wat nog die nonsens glo om die krisis by Eskom te verduidelik, is baie naïef. Die probleem is wanbestuur. Suid-Afrika is ’n middelinkomsteland met genoeg hulpbronne om energiesekerheid te hê,” het Malunga op Twitter geskryf.

Die DA sê president Ramaphosa moet persoonlik verantwoordelikheid neem vir die Eskom-krisis en onmiddellik daadwerklike stappe doen om die land se energiesektor te transformeer.

Die DA-leier, Mmusi Maimane, sê in ’n verklaring Ramaphosa se “apologie” vir beurtkrag is nie goed genoeg nie.

Maimane sê Ramaphosa probeer desperaat om homself deur ’n apologie los te maak van kwessies waarin hy self ’n aktiewe rol gespeel het. “Die ongemaklike waarheid is dat hy as adjunkpresident van 2014 deel was en geweet het van talle besluite wat die land se energiesektor op sy knieë gedwing het.

Maimane se volledige verklaring kan hier gelees word.

Die finansiële joernalis Hilton Tarrant het op Moneyweb gesê die situasie rondom Eskom se steenkoolvoorsiening is erger as wat besef word. Hy sê Eskom deel nie die volle omvang van die krisis met die publiek nie.

Suid-Afrikaners het die afgelope week woedend op sosiale media uitgevaar oor die jongste vlaag kragonderbrekings. Hloni Nyetanyane was een van talle Suid-Afrikaners wat meen die kiesers moet die ANC op 8 Mei ’n dosis van hul eie medisyne gee en die party by die stembus straf. “SA kiesers moet op 8 Mei hulle eie beurtkrag instel. Dit is nie ’n Eskom-probleem nie maar ’n ANC-ramp,” het hy op Twitter geskryf.

Politieke kenners was dit eens dat die afgelope naweek se fase 4-beurtkrag die ANC stemme by die stembus kan kos. Mense is letterlik in die donker waarheen die ANC op pad is, het die politieke ontleder Ralph Mathekga verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland aan Netwerk24 gesê.

Mathekga sê die kragonderbrekings in die townships raak die kiesers direk, omdat dit ook hulle veiligheid bedreig. Vir daardie mense is dit ’n realiteit wat erger is as staatskaping. Hy sê dit gaan die ANC by die stembus kos en opposisiepartye hoef nie eers so hard te werk nie, want die ANC skiet homself in die voet.

Die politieke ontleder Theo Venter verbonde aan die Noordwes-Universiteit stem saam dat dit veral in die metropole waar die ANC se grootste uitdagings is, ’n groot probleem vir die party kan word. Venter het volgens Netwerk24 gesê die elektrisiteitskrisis is een van die belangrikste vraagstukke in die land se ekonomie en kan net op een van twee manier opgelos word: “Óf jy privatiseer óf jy gaan ’n openbare-private vennootskap aan.”

Die energiekenner Chris Yelland sê die onderbreking van kragvoorsiening uit Mosambiek is nie die hoofoorsaak van die huidige beurtkrag in Suid-Afrika nie. Eskom beweer die gebrek aan krag van Cahora Bassa in Mosambiek dra grootliks by tot fase 4-beurtkrag, hoewel ander opwekkingseenhede ook probleme ondervind.

Die Sunday Times het die naweek berig hulle beskik oor dokumente wat toon hoe die omstrede Guptas op groot skaal deel was van Eskom se plundery en dat die gesteelde geld miljarde rand beloop.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top