Eskom is in die hande van energiemafia, sê kenners

  • 0

Die vermeende poging om Eskom se uitvoerende hoof, André de Ruyter, dood te maak is die werk van kriminele sindikate binne Eskom wat van hom wou ontslae wou raak en voornemende aansoekers vir sy pos te intimideer om nie daarvoor aansoek te doen nie.

Dit is die algemene gevoel onder energiekenners in die land nadat daar glo gepoog is om die Eskom-baas met sianied te vergiftig.

Die DA het ’n beroep op president Ramaphosa gedoen om aan die land te sê presies wat daar van regeringskant gedoen word om die chaos in Eskom aan te spreek.

Die DA se skaduminister van openbare ondernemings, Ghaleb Cachalia, sê in ’n verklaring Ramaphosa moet die land dadelik in sy vertroue neem en rekenskap gee van elke daad of gebrek aan optrede wat tot hierdie jammerlike toedrag van sake gelei het.

Hy sê die DA sal aan die President skryf om onverwyld optrede hieroor te eis.

Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, meen ook die vermeende aanslag op De Ruyter se lewe in Desember dui op die “intense stryd wat in Suid-Afrika plaasvind”.

Gordhan het aan Reuters gesê die beweerde voorval “sal deeglik ondersoek word” en enigiemand wat verantwoordelik is, sal aangekla word.

Sonder om enige besonderhede te gee, het Gordhan gesê ’n intense stryd vind plaas “tussen diegene wat wil hê dat Suid-Afrika moet slaag en floreer en diegene wat korrup is en hulself wil verryk”.

Die energiekenner Chris Yelland beweer die poging om De Ruyter te vermoor was bedoel om geloofwaardige professionele persone wat wil aansoek doen vir die top pos by die sukkelende kragvoorsiener te intimideer.

Yelland het die naweek op Twitter berig dat De Ruyter ’n sluipmoordpoging oorleef het nadat hy koffie gedrink het wat na bewering met sianied vergiftig is.

Die poging tot moord het op 13 Desember by De Ruyter se kantoor in Megawatt Park in Sunninghill plaasgevind.

Nadat hy die koffie gedrink het, het De Ruyter volgens Yelland duiselig, verward en gedisoriënteerd gevoel voordat hy siek geword en inmekaargesak het en nie meer kon loop nie. Hy is met sianiedvergiftiging gediagnoseer en is daarvoor behandel.

Yelland het gevra vir verhoogde veiligheidsmaatreëls by Eskom en bygevoeg dat dit vir Eskom moeiliker gaan wees om ’n plaasvervanger vir De Ruyter te vind.

André de Ruyter was bestem om op sy eie swaard te val, sê David Richard Walwyn in ’n News24-meningstuk.

Walwyn het ’n opiniestuk op News24 geskryf waarin hy die stappe uiteensit wat gedoen moet word om ’n goed-funksionerende Eskom te skep ná De Ruyter se vertrek. Hy sê dit moet die skoonmaak van “energiemafia” insluit wat voordeel trek uit sabotasie en huurgeld, en dat beheer oor die beleërde kragstasie herwin moet word.

Die DA sê in hulle verklaring dit is duidelik dat niks die kriminele sindikate binne Eskom sal keer in hulle poging om ’n wurggreep uit te oefen op die kragvoorsiener nie en dat dit besig is om die ekonomie te vernietig.

“Dit speel alles af soos in ’n mafiafliek terwyl die ANC niks doen om die land se elektrisiteitstoevoer te verseker nie, ondanks DA-versoeke om beslissend op te tree. Beurtkrag en deurlopende stroomonderbrekings gaan voort om die ekonomie te kelder en het ’n ingebedde kenmerk geword in die daaglikse lewens van miljoene Suid-Afrikaners,” sê die DA se skaduminister in sy verklaring.

Cachalia wil weet wanneer dit gaan eindig en sê die land kan nie wag tot 2024 “wanneer die kriminele sindikaat wat die ANC is” uit die kussings gelig word nie. Hy sê ferm en beslissende optrede moet nou geskied. Volgens hom is die probleem dat enigiemand wat probeer om die gemors op te ruim nie net uitrangeer word nie, maar dat hulle lewe in gevaar is.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top