Eskom is in totale verval, sê opposisie

  • 0

 ’n Wonderwerk is nodig om in Suid-Afrika se huidige elektrisiteitsbehoeftes te voorsien vanweë die haglike toestand waarin Eskom tans verkeer en die totale verval by die organisasie.

Dit was die reaksie van politieke partye soos die DA en die VF Plus nadat Eskom se uitvoerende hoof, André de Ruyter, Dinsdag die land tydens ’n nuuskonferensie ingelig het oor die stand van sake by Eskom. Dit volg nadat die land die vorige paar dae fase na fase met beurtkrag gebombardeer is.

Die DA-leier, John Steenhuisen, het op Twitter gesê president Ramaphosa en Eskom kan nie toegelaat word om aan te hou om alle Suid-Afrikaners in die duister te hou nie. Hy sê kragonderbrekings kos die land se ekonomie meer as R100 miljard per jaar en die land se kragnetwerk moet onder beheer van ’n onafhanklike entiteit geplaas word.

Hy sê die DA het ’n plan, en het sy plan op ’n video wat op Twitter geplaas is, verduidelik.

Die VF Plus het in hulle reaksie na afloop van De Ruyter se nuuskonferensie gesê kragvoorsiening aan buurlande bó Suid-Afrika se belange, regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) het Eskom op sy knieë.

Die party sê in ’n verklaring Eskom sal net deur onmiddellike privatisering reggeruk kan word.

“Die ANC het reeds gewys hy is nie bereid om weg te beweeg van skadelike beleid soos SEB en RA nie en terwyl dit van toepassing is, sal Eskom ’n dooie perd [De Ruyter se woorde] bly,” sê die party se leier, Pieter Groenewald.

Groenewald sê in De Ruyter se verduideliking van probleme by Eskom is dit duidelik gemaak hoe Suid-Afrika feitlik tot stilstand kom om buurlande aan die gang te hou terwyl die land se kragnetwerk oor ’n wye front besig is om in duie te stort.

“Suid-Afrika se kragkrisis is duidelik die direkte gevolg van kraglewering aan buurstate soos Zambië en Zimbabwe ten koste van Suid-Afrika, korrupsie onder die vaandel van swart ekonomiese bemagtiging en onbevoegde amptenare wat die gevolg van regstellende aksie is.”

Hy sê die beeldspraak van ’n dooie perd wat De Ruyter tydens die nuuskonferensie gebruik het om Eskom te beskryf, dien as bewys in watter haglike toestand die kragvoorsiener tans verkeer.

“Die lys probleme wat genoem is, is tekenend dié van ’n organisasie in totale verval: Van wye, algemene onderhoudsprobleme, ’n tekort aan diesel, onbeskikbare onderdele tot onbekwame personeel aan wie die onlangse ontploffing by die Medupi-kragsentrale toegeskryf word.”

Die DA en die VF Plus het albei ook skerp kritiek uitgespreek teen Ramaphosa se skynbare onvermoë om Eskom reg te ruk.

Groenewald sê Ramaphosa moet die volle verantwoordelikheid vir die situasie by Eskom neem. “Hy het voorheen misluk met ’n volhoubare regrukplan waarvoor hy aangestel is en as president faal hy nou weer om Eskom reg te ruk.”

Die DA se skaduminister van openbare ondernemings, Ghaleb Cachalia, sê in sy verklaring Suid-Afrika word tot op die randjie van rampspoed gedryf, tog is Pravin Gordhan, sy direksie by Eskom en sy senior bestuur jammerlik stil, terwyl die President se enigste bydrae is om te sê: “As daar iets is wat my snags wakker hou, is dit Eskom en elektrisiteitsopwekking.”

Cachalia sê die publiek wil nie meer lang en betekenislose geskarrel van omkeerstrategieë en gebeurlikheidsplanne hoor nie, want daar is duidelik geen planne nie. Hy sê Suid-Afrikaners wil die eerlike waarheid hê oor die stand van Eskom en of die netwerk op die randjie van ineenstorting is.

“Om munisipaliteite wat hul ekonomieë probeer beskerm vir Eskom se mislukkings te blameer, is eenvoudig oneerlik. Eskom het om elke draai gefaal om in die groeiende behoeftes van die land te voorsien, en daar is alle aanduidings dat Eskom nooit die agterstand sal inhaal nie.”

Hy sê ten spyte van gereelde pleidooie en gedokumenteerde waarskuwings oor die jare van die DA in die parlement en van verskeie deskundiges op die gebied oor die stand van Eskom, het die ANC-regering herhaaldelik gevroetel terwyl die nutsdiens letterlik gebrand het en die land voortdurend in duisternis gedompel is.

Eskom het Woensdag beurtkrag verminder na fase 3 tot Vrydag 05:00; daarna sal fase 2-beurtkrag geïmplementeer word tot 05:00 Saterdag.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top