Eskom is ’n ramp, sê energiekenners

  • 0

Die regering verstaan ​​blykbaar nog nie die omvang van Suid-Afrika se kragkrisis nie en die kragvoorsiener het nie ’n greep op sy eie bedrywighede nie.

Dit is die gevolgtrekking waartoe elektrisiteitskenners gekom het nadat Eskom die land die afgelope week begin voorberei het op ’n koue donker winter.

Suid-Afrika moet ’n yslike 50 000 MW – gelykstaande aan die vervanging van sy hele vloot – se bykomende opwekkingskapasiteit oor die volgende 13 jaar by die nasionale transmissienetwerk voeg om die gaping in energievoorsiening te dek en uitgediende steenkoolstasies te vervang, het Eskom se bedryfshoof Jan Oberholzer dié week bekendgemaak.

Die afgelope boekjaar was Eskom se swakste prestasie tot dusver. Teen die einde van Maart het die energiebeskikbaarheidsfaktor (EBV) van die steenkoolvloot tot 55,5% gedaal, wat beteken dat byna die helfte daarvan gemiddeld nie op enige tydstip energie kon verskaf nie.

Eskom se huidige opwekkingstekort is 6 GW. En omtrent die helfte van Eskom se steenkoolkragstasies sal oor die volgende 15 jaar buite werking gestel word. Minstens 50 GW se nuwe kapasiteit sal gebou moet word, het die energiebeleidspesialis Anton Eberhard op Twitter gesê.

Oberholzer en Eskom-bestuurders het die media die week ingelig oor die stand van die stelsel soos aan die einde van die boekjaar.

Die energiekenner Lungile Mashele het aan die TV-stasie eNCA gesê Eskom het nie ’n greep op sy eie bedrywighede nie. Sy sê dit is die eerste keer in jare dat die nutsdiens eerlik met die publiek is en die diagnose is erger as wat verwag is.

“Ek dink vir die eerste keer in ’n lang tyd was Eskom eksplisiet oor die toestand van hul aanleg en om vir ons te sê dat hulle die swakste presteer wat hulle nog ooit presteer het, en al kyk jy na hul prestasierekord sedert die huidige leierskap die afgelope drie jaar oorgeneem het, het dit ongelooflik versleg,” het sy gesê.

Die DA het Donderdag in ’n verklaring gesê indien daar nie ’n gesamentlike poging is om die knelpunte te verwyder wat onafhanklike kragopwekking tans verhoed nie, kan Suid-Afrika nog vir die volgende dekade onder beurtkrag en kragonderbrekings gebuk gaan.

Die DA het aangekondig dat die party die ongekende stap gedoen het om hierdie kwessie op die agenda van die volgende kabinetsvergadering te plaas.

Tydens ’n perskonferensie wat Donderdag in Kaapstad gehou is, het die DA-skaduminister vir openbare ondernemings, Ghaleb Cachalia, en vir minerale bronne en energie, Kevin Mileham, verduidelik waarom die party Eskom tot ramptoestand verklaar wil hê.

Die DA-parlementslid Solly Malatsi het tydens die mediakonferensie gesê die voortdurende beurtkrag bedreig die ekonomie en berokken die land se beeld as ’n beleggingsbestemming groot skade.

Die party sê Suid-Afrika se 15 jaar oue beurtkragkrisis, wat onlangs rekordhoogtes bereik het, vereis ’n omvattende benadering van die hele samelewing om elektrisiteitsopwekking die grootste prioriteit vir die land in die volgende vyf jaar te maak.

“Die versuim om beurtkrag se jare lange eksistensiële bedreiging vir die land se ekonomie en sy mededingendheid op te los, het werklose Suid-Afrikaners van broodnodige werk beroof en die land se aansien as ’n beleggingsbestemming beskadig.”

Die DA sê tensy dringende stappe gedoen word om bestaande rompslomp vir IPP's te verwyder, daar ’n groot waarskynlikheid bestaan dat Suid-Afrika nog ’n dekade van voortdurende beurtkrag in die gesig staar.

“Dit is nou die tyd om enige politieke verskille opsy te skuif en ons gesamentlike poging aan te wend om beurtkrag aan te spreek, wat ’n eksistensiële bedreiging vir Suid-Afrika geword het,” sê Malatsi.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top