Eskom is op rand van ’n afgrond

  • 0

Die kragvoorsiener Eskom bevind hom op die rand van ’n afgrond en noodmaatreëls moet dringend ingestel word om die land van algehele duisternis te red. Eskom pas tans weer fase 2 beurtkrag toe. Dit beteken dat, afhangend van die skedule, ’n area tot vyf uur per 24 uur (twee sessies van 150 minute elk) sonder kragtoevoer kan wees.

Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, het die bestuur van Eskom Donderdag gevra om dringend oplossings te vind vir beurtkrag wat op die oomblik plaasvind. Al die verlof van Eskom se senior personeel oor die Kerstyd is gekanselleer.

Gordhan het op Megawatt Park in Johannesburg gesê Eskom het met ’n plan vorendag gekom wat weekliks tussen nou en die einde Januarie bygewerk sal word oor pogings om die ligte aan te hou. Hy sê daar sal weekliks ontledings gedoen word van kragstasies wat nie krag lewer nie, aanlegte wat probleme ondervind en enige vaardigheidstekorte. Hy sê Eskom werk daaraan om beurtkrag voor Kersfees tot die minimum te beperk.

Gordhan sê hy kan ook nie die moontlikheid uitsluit dat die nasionale kragstelsel gesaboteer word nie. Dit kan onder meer die gevolg van arbeidsgeskille wees. Daar gaan ook ’n forensiese ondersoek geloods word om ondersoek in te stel na sommige van die kontrakteurs wat vir Eskom se mega-kragstasies Kusile en Medupi werk. Van die werk wat die kontrakteurs daar gedoen het, is glo substandaard. “Iemand maak geld met die verdubbeling van koste by Medupi,” het Gordhan gesê.

Gordhan het ook skokkende feite onthul oor hoe die Guptas en staatskaping verantwoordelik is vir die chaos by Eskom. Volgens die minister kom die krisis by Eskom al oor ’n tydperk van 10 jaar en hou dit direk verband met staatskaping. Die Guptas het  ’n groot aandeel in die elektrisiteitskrisis deurdat hulle steenkool wat vir Eskom se kragstasies bedoel was onder die tafel teen dubbel die prys uitgevoer het na die buiteland. Dit het die steenkooltekort veroorsaak. Die myne wat aan die Guptas behoort het, het op dié wyse miljarde rand in die sak gesteek.

Volgens Gordhan betaal Suid-Afrika nou die prys vir staatskaping van Eskom asook vir die verouderde kragstasies.  Hy sê die regering ondersteun die raad van Eskom se regrukstrategie ten volle. Gordhan het gesê om Eskom se uitdagings op te los berus by die regering en die kragvoorsiener sal nie geprivatiseer word nie. Hy sê egter Eskom kan nie aanhou om geld te leen nie en alle rolspelers sal moet saamstaan. Gordhan sê Eskom met sy skuldlas van R400 miljard behoort op ’n meer doeltreffende manier met die publiek te kommunikeer.

Terwyl die land onder beurtkrag gebuk gaan, ly die ekonomie miljarde rand se skade en word veral klein besighede swaar daardeur getref.

Die DA se woordvoerder oor openbare ondernemings, Natasha Mazzone, sê daar is net een oplossing vir Eskom op die korttermyn en dit is om die kragvoorsiener se monopolie te breek. “Eskom is besig om die Suid-Afrikaanse ekonomie, die staatskas en die Suid-Afrikaanse publiek as gyselaars aan te hou. Dit kan nie toegelaat word dat sy monopolie voortduur nie.”

 

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top