Eskom moet tot ’n ramptoestand verklaar word, sê DA

  • 0

Eskom moet tot ’n ramptoestand verklaar word omdat hy versuim het om voortdurende beurtkrag te voorkom.

So sê die DA nadat Eskom Dinsdag skielik aangekondig het dat fase 4-beurtkrag dié week ingestel word ná die soveelste keer dat daar van Eskom se kragstasies onklaar geraak het.

Eskom se uitvoerende hoof, André de Ruyter, het die jongste terugslag Dinsdag bestempel as ’n wekroep om die gesloer tot bykomende kragvoorsiening te beëindig.

De Ruyter het tydens ’n mediavoorligtingsessie gesê daar word reeds agt jaar gesloer om gehoor te gee aan Eskom se pleidooi vir bykomende kragopwekkingsvermoë. Hy het ’n beroep gedoen vir die onmiddellike verligting van regulatoriese struikelblokke om bykomende krag van sowat 500 MW te voorsien en die versnelde verkryging, of inwerkingstelling, van die opwekkingskapasiteit wat nodig is om die konstante risiko van beurtkrag te verlig.

Die DA het in ’n verklaring gewaarsku dat Eskom “bo enige twyfel bewys het dat hy nie in staat is om Suid-Afrika se 14 jaar oue beurtkragkrisis op te los nie”. Die entiteit se ou eenhede is op lewensondersteuning en gee voortdurend in, wat daartoe lei dat kragonderbrekings op kort en uitmergelende kennisgewing aangekondig word, sê die party in ’n verklaring.

Die leier van ActionSA, Herman Mashaba, sê ter wille van almal se geestesgesondheid kan Eskom maar net sowel ophou om hierdie negatiewe nuus met ons te deel. “Wat is die punt? Die misdadigers wat hierdie entiteit vernietig het, is binne-in die regering of in Dubai en loop ongestraf in die strate rond,” het Mashaba op Twitter gesê.

Anton Eberhard, afgetrede professor in elektrisiteitsregulering aan die Universiteit van Kaapstad se sakeskool, het op Twitter gesê Suid-Afrika gaan ’n rowwe week binne. Hy sê fase 6-beurtkrag kan nie uitgesluit word nie en dit sal groot ekonomiese implikasies hê indien dit gebeur.

De Ruyter sê die enigste volhoubare oplossing vir Eskom se probleme is om so gou as moontlik bykomende krag by die land se kragnetwerk te voeg. Hy sê die struikelblokke wat in die weg daarvan staan moet so gou moontlik uit die weg geruim word. Hy het Suid-Afrikaners daaraan herinner dat sy voorganger onafhanklike kragvoorsieners vir ’n hele aantal jare geblokkeer en vertraag het.

“Dit is nou hoog tyd dat daar aan ons eise aandag gegee word,” sê die DA in hulle reaksie. Die haglike situasie in KwaZulu-Natal word vererger deur elektrisiteitsvoorsieningskwessies wat onder meer die vermoë beïnvloed om broodnodige watervoorrade te pomp. Mense sterf, besighede sal sterf, hawens word gesluit en die land sal tot stilstand kom, het die DA se skaduminister van openbare ondernemings, Ghaleb Cachalia, gesê.

Die DA eis dat die kabinet die Eskom-krisis dadelik as ’n ramptoestand aanspreek as voorloper van ’n kommissie van ondersoek na die opwekking van die land se elektrisiteit.

Die party het verlede week aan die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, en die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe, ’n versoek gerig om te vra vir ’n kabinetsresolusie om die dreigende ramp weens die swak beheer by Eskom aan te spreek.

“Noudat 17 GW se onbeplande onderbrekings aangekondig is en ’n verdere 5 GW van lyn af is vir beplande instandhouding  – wat neerkom op ’n derde van Eskom-opwekkingskapasiteit – is die land in ’n toestand van rampspoed, wat aangedryf word deur Eskom se voortdurende mislukkings,” sê Cachalia.

Intussen het die VF Plus die administrateur van die Emfuleni plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging), Gilberto Martins, versoek om ondersoek in te stel na die sekuriteitsmaatskappy wat verantwoordelik is vir die beveiliging van substasies.

Dit volg op ’n voorval van beweerde sabotasie by die Town-substasie wat groot dele van Vanderbijlpark oor die Paasnaweek sonder krag gelaat het.

Emfuleni betaal maandeliks R6 miljoen aan die sekuriteitsmaatskappy om die veiligheid van geboue en substasies, wat in die verlede erg onder vandalisme deurgeloop het, te beskerm.

’n Groep mans het glo op Goeie Vrydag aan die sekuriteitswagte gesê dat hulle daar is om onderhoudswerk aan die substasie te doen, waarna hy hulle ingelaat het. Die mans het gevlug nadat hulle twee kabels geknip en daar ’n brand ontstaan het. Twee kVA-brekers en ’n transformator is in die brand beskadig.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top