Suid-Afrika se kragvoorsiener Eskom is in ’n finansiële gemors en miljarde rand is vermors as gevolg van korrupsie en onreëlmatighede.
Skokkende syfers is die afgelope week bekendgemaak oor Eskom se finansiële probleme. Volgens ontleders sal Suid-Afrikaanse kragverbruikers duur vir die gelag moet betaal. Kragtariewe kan as gevolg daarvan oor die volgende drie jaar met soveel as 110% styg.
Kommentators het ’n donker prentjie vir Eskom geskets nadat die maatskappy se jongste finansiële resultate bekendgemaak is. Die maatskappy se kumulatiewe onreëlmatige besteding sedert 2012 beloop bykans R20 miljard.
Sowat R3 miljard se onreëlmatige besteding is vir verlede jaar alleen aangedui.
Eskom spog op sy webwerf daarmee dat hy ondanks “finansiële uitdagings” daarin kon slaag om voortgesette verbeterings in die land se kragvoorsiening aan te bring. Die voorsitter van Eskom se direksie, Jabu Mabuza, het die afgelope week probeer walgooi en beloof Eskom “gaan hierdie kas skud tot al die geraamtes uitval”.
Hy het egter toegegee die gemors kan nie oornag reggemaak word nie en hy weet self nie of dit moontlik sal wees om ooit al die geraamtes uit die kas te skud nie.
Eskom se weergawe van hulle finansiële resultate kan op hulle webwerf gelees word: http://www.eskom.co.za/news/Pages/2018Jul23.aspx.
Die adjunkredakteur van Business Day, Sikonathi Mantshantsha, sê die huidige raad het die vermoë om Eskom uit sy probleme te lig, maar dit gaan lank neem. Eskom se jongste finansiële state toon ’n verlies van R2,3 miljard, vergeleke met ’n wins van R900 m verlede jaar. Ongemagtigde uitgawes van sowat R19,6 miljard het ook voorgekom. Eskom sê die situasie word toegeskryf aan probleme met leierskap en administrasie.
Verskeie ander kommentators het sterk te velde getrek teen die korrupsie en geldvermorsing by Eskom. Die politieke kommentator Simon Grindrod het op Twitter gesê die korrupsie het van ’n dun straaltjie diefstal tot ’n vloed ongerymdhede vermeerder.
Volgens die leier van die UDM, Bantu Holomisa, hou Eskom aan om die armes met hoër tariewe te melk. Hy sê Eskom kom weg met moord terwyl hulle voortgaan om geld te mors. Waarheen gaan al die geld? wou Holomisa weet.
Die organisasie Outa het op hulle webwerf gewaarsku dat daar nie veel lig aan die einde van die tonnel is nie. Outa sê Eskom se finansiële verslag skets ’n donker prentjie en Suid-Afrikaners sal nog vir jare lank moet opdok vir Eskom se gebrek aan goeie bestuur namate die skade van diefstal en onreëlmatighede by die kragvoorsiener al hoe meer aan die lig kom. Outa sê ook Suid-Afrikaners moet hulle staal vir drastiese verhogings.
Eskom se finansiële penarie word vererger deur die feit dat munisipaliteite die kragvoorsiener miljarde rand skuld. Munisipaliteite se skuld aan Eskom het met meer as R4 miljard toegeneem tot bykans R14 miljard namate munisipaliteite voortgaan om hulle skuldooreenkomste met Eskom te verbreek. Soweto alleen het byvoorbeeld ’n betalingskoers van slegs 15% en ’n agterstand van bykans R14 miljard ten spyte van 50 000 nuwe meterlesers wat die afgelope jaar in die gebied aangebring is.
Landswyd skuld munisipaliteite Eskom in die omgewing van R30 miljard.
Outa se volledige kommentaar op die Eskom-fiasko kan hier gelees word: https://www.outa.co.za/appalling-extent-eskom-damage-emerges.
Buro: NB