Eskom se liggies brand alweer flouer die week

  • 0

Skaars twee weke nadat president Cyril Ramaphosa sy frustrasie in ’n landwye TV-toespraak oor die voortdurende beurtkrag te kenne gegee het, moes Eskom Woensdag vir die soveelste keer die afgelope jaar wéér beurtkrag instel.

Die onderbrekings sou voorlopig Woensdag en Donderdag (3 en 4 Augustus) tussen 16:00 en middernag geïmplementeer word.

Eskom het Woensdag onverwags in ’n verklaring gesê weens ’n tekort aan opwekkingskapasiteit sal fase 2-beurtkrag gedurende die aandspitstyd van 16:00 tot 24:00 Woensdag, en Donderdag weer dieselfde tyd geïmplementeer word.

Eskom sê die vertraging in die werksaamhede om opwekkingseenhede by Arnot-, Koeberg- en die Kusile-kragstasies te diens, sowel as die onbeplande onderbreking van ’n opwekkingseenheid elk by Camden, Medupi en twee eenhede elk by Grootvlei-, Hendrina- en Majuba-kragstasies, het die kapasiteitsbeperkings vererger.

Sommige opwekkingseenhede sal volgens Eskom na verwagting oor die volgende paar dae weer in diens wees. “Ons het tans 2 931 MW aan beplande instandhouding, terwyl nog 15 051MW se kapasiteit onbeskikbaar is weens onklaarraking,” lui die verklaring.

Eskom sê in hulle verklaring hulle wil die publiek daaraan herinner dat beurtkrag slegs as ’n laaste uitweg geïmplementeer word om die nasionale netwerk te beskerm. “Ons doen dus ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om voort te gaan om elektrisiteit spaarsamig te gebruik, veral gedurende hierdie onsekere tye op die kragstelsel.

Ramaphosa het verlede maand in sy landwye TV-toespraak gesê ná meer as ’n dekade sonder ’n betroubare elektrisiteitsvoorsiening is Suid-Afrikaners met reg gefrustreerd en kwaad.    

“Hulle is keelvol,” het die President gesê toe hy die regering se planne aankondig om weg te doen met beurtkrag.

Ramaphosa het erken dat Eskom se verval tot ’n groot mate toegeskryf kan word aan jare se  staatskaping en wanbestuur en dat ’n “doeltreffende en bekwame bestuurspan” nou moet poog om jare se verval om te keer.

Die DA het Woensdag sinies reageer op Eskom se jongste aankondiging dat beurtkrag weer ingestel word en op die President se energieplan wat verlede maand aangekondig is.

“Skaars twee weke sedert hy sy energieplan aangekondig het, begin president Ramaphosa se beloftes van ’n terugkeer na betroubare kragvoorsiening reeds ontrafel,” sê die DA in ’n verklaring.

Die DA se skaduminister van minerale hulpbronne en energie, Kevin Mileham, sê Eskom se skielike terugkeer na fase 2-beurtkrag as gevolg van verskeie eenhede van sy opwekkingsvloot wat gesukkel het of nie betyds na diens terugkeer nie, gebeur alles terwyl die parlement op die kantlyn staan ​​en weier om sy toesigfunksie uit te oefen oor wat in wese ’n nasionale elektrisiteitskrisis is.

Volgens die DA word die parlement se oorsigfunksie ondermyn omdat die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, nie wil toegee aan ’n versoek van die DA vir ’n ad hoc-komitee om toesig te hou oor Ramaphosa se nasionale energiekrisiskomitee (Necom) en die implementering van sy energieplan nie.

Die DA het twee weke gelede aan Mapisa-Nqakula geskryf en aanbeveel dat die parlement onmiddellik stappe doen om so ’n parlementêre ad hoc-komitee te stig.

Volgens hierdie 5-punt-energieplan word daar van Necom verwag om toesig te hou oor die begroting vir Eskom se kragstasie-instandhoudingsprogram, ’n kruisdepartementele reeks regulatoriese kwytskeldings om nuwe opwekkingskapasiteit van onafhanklike kragprodusente (OKP’s) te verkry en om die nakoming van vasgestelde tydlyne moontlik te maak.

Die parlement kan volgens die DA nie bekostig om met arms gevou te staan ​​en ’n toeskouer te wees nie, veral nie weens die uitvoerende gesag se swak rekord met implementering nie.

Kapenaars wat in Stad Kaapstad se metropolitaanse gebied woon en nie hulle krag direk van Eskom af kry nie, kom soos gewoonlik weer effens ligter daarvan af. Terwyl die res van die land Woensdag en Donderdag tussen 16:00 en 24:00 met fase 2-beurtkrag opgesaal is, het Kapenaars slegs fase 1-beurtkrag tussen 16:00 en 19:00 gehad.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top