Eskom se ligte brand al flouer

  • 0

Beurtkrag kan vir ten minste die volgende paar maande weer Suid-Afrikaners se voorland wees en dit lyk of Eskom, wat die land van krag moet voorsien, se kersie besig is om al hoe flouer te brand.

Beurtkrag is nie net ontwrigtend vir die Suid-Afrikaanse publiek nie. Dit kos die land se ekonomie miljarde rand. Die energie-annalis Chris Yelland het aan die dagblad The Citizen gesê Fase Twee-beurtkrag van 2,000MW kos die Suid-Afrikaanse ekonomie reeds in die omgewing van R2 miljard per dag.

Behalwe dat Eskom vir alle praktiese redes reeds bankrot is, moes Suid-Afrikaners Sondag die slegte nuus hoor dat Fase Twee-beurtkrag van Maandag weer ingestel gaan word. Die ink op die verklaring was skaars droog toe Eskom uit die bloute aankondig dat beurtkrag van Fase Twee na Fase Vier opgeskuif is. Eksom het Dinsdagoggend aangekondig dat Fase Drie vir die dag toegepas sal word.

Dit wil voorkom of Eskom die publiek in die duister hou oor die erns van die situasie en die redes vir die skielike beurtkrag.

Die aankondiging dat Fase Vier in werking tree was nadat nog ses kragopwekkingseenhede glo sedert Maandagoggend buite werking is wat verdere druk op die kragnetwerk plaas. Fase Vier-beurtkrag beteken dat 4 000MW se krag van die netwerk verwyder moet word. Dit het verbruikers warm onder kraag gehad.

Talle Suid-Afrikaners het hulle woede en frustrasie op sosiale media uitgestort. “Die hele lot by Eskom moet bedank,” het een van die deelnemers aan die gesprek op Twitter geskryf.

Ramaphosa is vanaf die Afrika Unie se beraad in Addis Abeba sy skok oor die situasie uitgespreek. Sommige het gesê president Ramaphosa moet die land oor die krisis toespreek en daarop gesinspeel dat sabotasie nie uitgesluit is nie.

“Sommer net so uit die bloute? Hoe is dit moontlik dat niemand dit sien kom het en ons gewaarsku het nie?” wou Rob Brendel op Twitter weet.

Christo van der Rheede, adjunk-uitvoerende direkteur van AgriSA, het op Facebook geskryf Eskom is vasgevang in diep finansiële en strukturele probleme. “Eskom verdrink in die skuld teen ’n tempo van R420 miljard.”

Die sukkelende kragreus wat reeds tegnies bankrot is as gevolg van staatskaping en korrupsie, het ’n beroep op die publiek en sakesektor gedoen om elektrisiteit spaarsaam te gebruik en warmwater- en ander nie-noodsaaklike toestelle af te skakel om krag te spaar.

Eskom leen reeds geld om sy skuld te probeer delg en verkoop nie genoeg krag om sy koste te dek nie. Intussen skuld munisipaliteite die kragvoorsiener ook miljarde rand aan onbetaalde elektrisiteit.

Die kans dat president Ramaphosa se voorgestelde ontbondeling van Eskom hom uit sy finansiële penarie gaan red, lyk ook skraal.

Verskeie webwerwe wat beurtkragskedules verskaf was kort na Sondag se aankondiging vir 'n tyd buite werking omdat te veel mense gelyktydig die inligting wou bekom.

Fase Vier-beurtkrag is twee maal so ontwrigtend as Fase Twee en beteken mens kan twaalf keer binne vier dae elke keer twee en ’n half uur lank sonder krag wees.

Indien nóg beurtkrag ingestel moet word as wat reeds in fases een tot vier geskeduleer is, sal daar bykomende ongeskeduleerde beurtkrag wees. Dit beteken die krag kan bykans enige tyd sonder waarskuwing vir ’n onbepaalde tyd afgeskakel word.

Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordan het Sondag gesê hy beoog om binne 24 uur met Eskom se bestuur en direksie te vergader oor stappe om groter sekerheid aan Suid-Afrikaners oor kragvoorsiening te gee. Die laaste keer wat die land met beurtkrag gekonfronteer is, was Desember verlede jaar.

President Ramaphosa het reeds tydens die staatsrede gewaarsku die krisis by Eskom kan  die land se ambisies vir ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling ernstig skaad. “Eskom is in ’n krisis en die risiko’s wat dit vir Suid-Afrika skep is enorm,” het die president tydens sy staatsrede gesê.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top