Die DA het ’n beroep op die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) gedoen om dringend duidelikheid te gee oor die metode waarvolgens hulle tariefverhogings goedkeur, na aanleiding van die reguleerder se erkenning dat die voortslepende krisis rakende elektrisiteitbekostigbaarheid vererger is deur tariefverhogings wat gebaseer is op “’n verkeerde interpretasie van die wet”.
Nersa het vroeër dié week bevestig dat hy Eskom se voorgestelde tariefverhogings vir die 2025/26-, 2026/27- en 2027/28-boekjare ontvang het.
Die aankondiging maak nie melding van die voorgestelde prysverhogings nie. Die Daily Maverick het egter onlangs berig dat ’n konsepdokument wys dat Eskom vra vir ’n verhoging van 43,55% vir munisipale klante en 36,15% vir direkte klante.
Die DA sê hierdie voorgenome verhogings sal miljoene Suid-Afrikaners dwing om ’n onmoontlike keuse tussen kos en elektrisiteit te maak. “Ons weier om ’n toekoms te aanvaar waar elektrisiteit onbekostigbaar is vir die gemiddelde huishouding,” sê die DA in ’n landwye petisie wat daarop gemik is om ’n stokkie voor die verhogings te steek.
🪫Eskom’s electricity hike is based on “a mistaken interpretation of the law" as conceded by NERSA! The DA is taking the fight to Parliament, as the people shouldn’t have to choose between keeping the lights on or paying for water. Sign our petition here: https://t.co/evNIHUxID5. pic.twitter.com/mI5QRUoYoh
— Democratic Alliance (@Our_DA) August 27, 2024
Die DA gaan die stryd nou in die parlement verder voer. Die party sê in ’n verklaring mense behoort nie voor ’n keuse gestel te word om te kies tussen krag en water omdat hulle nie albei kan bekostig nie.
Nersa se hoof van elektrisiteitsregulering, Nhlanhla Gumede, het in ’n verstommende erkenning toegegee dat hulle “’n onvanpaste prysmetodologie gebruik” wat nie op die Wet op Elektrisiteitsregulering (ERA) gegrond is nie, maar eerder op die herroepte 1987-Eskom-wet.
Hierdie kritieke oorsig kan volgens die DA verwoestende gevolge vir verbruikers hê. Gumede het verder erken dat Nersa versuim het om sy mandaat, soos uiteengesit in die ERA, na te kom, en sê: “Die doel van die ERA is om die belange van Eskom, verbruikers en die voorsieningsbedryf te balanseer. Ek dink nie ons het dit gedoen nie.”
💡The DA has taken the fight against Eskom’s unjust 40% increase to Parliament.
Citizens should not have to choose between filling up their cars or keeping the lights on. The increase will be unbearable, join us in this fight by signing the petition at https://t.co/evNIHUxID5 pic.twitter.com/KlzbUZ9Rt3
— Democratic Alliance (@Our_DA) August 26, 2024
Die DA se woordvoerder oor elektrisiteit en energie, Kevin Mileham, sê as Nersa nie die verwarring rondom sy model aanspreek nie, kan sy goedkeuring van elektrisiteitsverhogings onder gebrekkige wetlike interpretasies verbruikers moontlik van hul swaarverdiende geld beroof en sodoende die bestaande elektrisiteitstariefbepalingsmodel onhoudbaar maak.
Hy sê Nersa moet verseker dat sy prosesse en besluite aan wetlike vereistes voldoen en openbare ondersoek kan deurstaan. Die onlangse hofsaak oor munisipale tariewe beklemtoon volgens hom die behoefte aan konsekwentheid in die toepassing van sy eie reëls.
“Suid-Afrikaners is belas met buitensporige elektrisiteitskoste terwyl hulle voortdurende stroomonderbrekings en onbetroubare toevoer verduur. Konserwatiewe ramings toon dat tussen 2007 en 2022, Nersa-goedgekeurde Eskom-tariewe met 653% gestyg het terwyl inflasie met 129% gestyg het.”
Die erns van die impak van hierdie verregaande elektrisiteitstariewe op verbruikers word volgens die DA die beste verduidelik in die DA se petisie teen hoë elektrisiteitstariewe, wat reeds meer as 50 000 handtekeninge gekry het.
“Dit is eenvoudig onaanvaarbaar dat verbruikers hierdie finansiële las moet dra wat moontlik gegrond is op Nersa se regsfoute in die toepassing van die wet en die bepaling van elektrisiteitstariewe,” sê Mileham.
Die DA gaan nou hulle oproep vir ’n hersiening van elektrisiteitstariewe na die parlement neem nadat die speaker van die nasionale vergadering, Thoko Didiza, ’n debat van dringende openbare belang oor die aangeleentheid toegestaan het.
Hierdie deurslaggewende debat is vir volgende Dinsdag, 3 September 2024, geskeduleer.
Die DA sê hulle sal voortgaan om te veg teen ongeregverdigde tariefverhogings en om te werk aan ’n meer deursigtige en verbruikergefokuste regulatoriese omgewing.
DA-regerings op plaaslike vlakke het ook die stryd met Nersa opgeneem en sê hulle is daartoe verbind om namens hul inwoners teen enorme rekeningverhogings te veg. Selfs al moet hulle die nuwe tarief implementeer, is hulle bereid om terug te veg, sê die DA.
- Die DA se petisie teen die massiewe kragtariefverhogings kan hier onderteken word.