Eskom struikel val-val voort

  • 0

Suid-Afrikaners moet hulle maar voorberei vir ’n donker somer as dit van Eskom afhang en sal nie vir die volgende 12 maande die voordele van president Cyril Ramaphosa se nuwe energieplan sien nie.

Die donker nuus het Maandag tydens ’n nuuskonferensie aan die lig gekom nadat beurtkrag die afgelope naweek van fase tot fase rondgespring het namate die kragvoorsiener se vervalle kragstasies die een na die ander onklaar geraak het.

Verlede week het 42 opwekkingseenhede van Eskom se vloot steenkool- en kernkragstasies onklaar geraak. Dit beteken ongeveer 24 GW se onbeplande kapasiteit.

Die sukkelende nutsmaatskappy moes van sy dieselaangedrewe oopsiklusgasturbines en pompopgaarskemas se noodreserwes gebruik om die ligte aan te probeer hou.

Eskom het tot dusver vanjaar reeds R7,7 miljard bestee aan die verbranding van diesel om die ligte aan te hou – dit is omtrent sy hele begroting vir die hele jaar vir diesel.

Die kragvooruitsigte vir die jaar wat voorlê lyk maar donker.

Vir 49 van die volgende 52 weke word die “waarskynlike risiko-scenario” vir beurtkrag hoog aangeslaan. Die enigste uitsondering is twee weke met Kersfees, en gedurende een week in September 2023.

Boonop kan Eskom nie behoorlike instandhouding doen voordat nuwe kapasiteit by Suid-Afrika se nasionale netwerk gevoeg word nie.

Jan Oberholzer, Eskom se bedryfshoof, het tydens Maandag se nuuskonferensie gesê Eskom vra opreg om verskoning vir die situasie waarin die kragvoorsiener hom bevind.

Oberholzer het gesê beurtkrag sal Dinsdagoggend tot fase 2 afgeskaal word en vir die res van die week op daardie vlak bly.

Die dieselvlakke is steeds laag, aangesien diesel meestal per landvervoer na die kragstasies vervoer moet word. Eskom sal voortgaan om hierdie noodhulpbronne te gebruik om beurtkrag te beperk, en aanhou om beurtkrag gedurende die nag te implementeer om dit te kan aanvul.

Die huidige beurtkragvoorspelling kan op kort kennisgewing verander, aangesien die kragstelsel onbetroubaar en onvoorspelbaar bly.

Anton Eberhard, een van Suid-Afrika se top energiebeleidspesialiste, het mense op Twitter aangemoedig om so gou as moontlik oor te skakel na son- of batterykrag as hulle kan. Hy het gesê die volgende 12 maande “sal ’n stryd wees”  nadat hy Eskom se kleurtabel bestudeer het.

Eskom het Maandag ook bevestig dat ’n R5 miljard-kernkragopwekker wat vir die Koeberg-aanleg bestem is, “op die fabrieksvloer laat val is”, wat groot skade aan die 360-ton-struktuur aangerig het.

Keith Featherstone, waarnemende kernkragbeampte, het gesê die voorval het meer as 18 maande gelede in China gebeur toe die kragopwekker sowat 30 cm gegly het toe die been van die roterende struktuur waarop dit gerus het, ineengestort het. Al die herstelwerk is reeds gedoen. Dit is ná toetsing en ontleding deur onafhanklike inspekteurs aanvaar en word teen 14 Desember op die terrein verwag.

Chris Yelland, ’n vooraanstaande energie-ontleder, sê dit is ’n fout van epiese proporsies, en daar is ernstige gevolge vir Suid-Afrikaners. “Met een van Koeberg se eenhede tans van lyn bly die nasionale netwerk uitgeput.”

Hy sê dit kan die verlenging van Koeberg se bedryfslisensie na Julie 2024 vertraag en hou ’n groot bedreiging in vir die sekerheid van elektrisiteitsvoorsiening in Suid-Afrika. Hy sê meer besonderhede word van Eskom benodig om die risiko's te bepaal.

Featherstone het bevestig dat Koeberg se bedryfslisensie in Julie 2024 verval en het gesê daar is baie werk wat gedoen moet word om die lewensverlengingsprojek voor dan te voltooi. "Dit sal ’n bietjie van ’n druk vir ons wees" om alles betyds klaar te kry, het hy gesê.

Oberholzer kon nie antwoord wanneer Suid-Afrikaners kan verwag dat die instandhouding resultate sal begin lewer nie, maar het die personeel in Eskom se opwekkingsonderneming bedank en gesê: “Ons is daartoe verbind om die lewenstandaard van 61 miljoen mense (in Suid-Afrika) te verbeter.”

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top