Eskom veg bakhand om oorlewing

  • 0

Suid-Afrikaners moet hulle staal vir ten minste drie prysskokke van 15% elke jaar vir ten minste die volgende drie jaar om die bankrot kragvoorsiener Eskom se ligte aan te hou.

Eskom bevind hom in ’n finansiële gemors met meer as R419 miljard se skuld wat volgens die instansie se uitvoerende hoof, Phakamani Hadebe, oor die volgende drie jaar tot R650 miljard kan styg.

Dit lyk onwaarskynlik of die beoogde kragtariefverhogings wat Eskom in die vooruitsig stel naastenby genoeg sal wees om die kragvoorsiener uit sy finansiële verknorsing te verlos.

Eskom se waarnemende finansiële hoof, Calib Cassim, sê die energiereguleerder, Nersa, se verhoging van 15% vir die volgende drie jaar sal nie noodwendig finansiële volhoubaarheid by die kragvoorsiener meebring nie. Nersa het Maandag met landwye openbare sittings begin oor moontlike tariefverhogings. Die eerste sitting het Maandag in Kaapstad begin en is Dinsdag voortgesit.

Die SA Vereniging van plaaslike owerhede (SALGA) sê sulke verhogings sal bloot veroorsaak dat ryk mense vinniger oorskuif na alternatiewe soos sonkrag, wat op sy beurt sal beteken dat Eskom nog minder krag sal verkoop.

Behalwe staatskaping wat die kragvoorsiener miljarde rand gekos het, skuld munisipaliteite Eskom ook miljarde rand. Cassim sê die 20 miljard rand wat munisipaliteite aan Eskom skuld, kan ’n groot verskil maak aan sy kontantvloei-posisie, omdat 40% van sy inkomste van munisipaliteite kom. Hy sê die interministeriële taakspan sal na die skuldkwessie moet kyk.

Volgens die energiesektor-annalis Roger Lilley kan Eskom nie meer gewoonweg met besigheid voortgaan nie. Hy stem saam dat die verhoging in kragtariewe nie die probleem sal oplos nie en meen ook die grootste probleem is die miljarde rand se skuld aan Eskom deur munisipaliteite.

Die finansiële koerant Business Day het Hadebe se pleidooi van ’n jaarlikse verhoging van 15% elke jaar vir die volgende drie jaar as ’n desperate poging bestempel om Eskom van ondergang te probeer red.

Hadebe het in sy voorlegging tydens die openbare sitting gesê Eskom besef dat die voorgestelde tariefverhogings vir elektrisiteit onder die huidige omstandighede moeilik is vir die verbruiker. Hy sê egter dit sal tot ’n onvolhoubare finansiële situasie vir Eskom lei indien dit nie gebeur nie en die land se ekonomie nog verder benadeel.

Eskom se verduideliking vir hul huidige finansiële posisie soos wat dit tydens die afgelope week se openbare sittings geopper is, verskyn ook op hulle webwerf hier.

Volgens Cassim verwag die kragvoorsiener ’n verlies van meer as R11 miljard vir die huidige boekjaar. Hy sê Eskom kan eenvoudig nie meer sy reuse-skuld bekostig nie. “Dit is soos om ’n kredietkaart te gebruik om ’n ander kredietkaart se skuld betaal,” het hy verduidelik.

Intussen weet niemand presies waarheen die miljarde rand by Eskom verdwyn het nie. Volgens die energiekonsultant Ted Blom wil dit voorkom of Eskom steeds gekaap is, omdat kontant steeds verlore gaan, instandhoudingskoste styg en die duur dieselkragstasies word weer toenemend gebruik.

Terwyl die land se ligte al hoe flouer flikker, oorweeg al hoe meer Suid-Afrikaners wat dit kan bekostig alternatiewe metodes vir kragopwekking, veral na beurtkrag verlede jaar weer toegepas is en die moontlike verhogings vir die volgende drie jaar.

Verskeie RSG-luisteraars het op die program Monitor se luisteraarsvraag reageer en gesê hulle kom reeds sonder Eskomkrag klaar of oorweeg om dit te doen. Gideon Erasmus skryf op Monitor se Facebook-blad: “Ek het vier jaar gelede vir my ’n huis gebou op ’n plaas in die Ellisras-omgewing en besluit om geheel en al van sonkrag gebruik te maak vanweë vorige nare ondervindings. Dit is absoluut wonderlik en ons het nog nooit ’n dag se probleme ondervind nie. Gasverwarmers word gebruik vir warm water en ’n sonpomp pomp water drie kilometer na my huis. My huis se sonkragsisteem is my eie Eskom en dit was die beste besluit ooit!”

Johan Coertze  sê ryk  mense kan bekostig om na sonkrag oor te skakel, maar die wat dit nie kan bekostig nie sal volgens hom weer begin om hout en steenkool te brand.

Vir nog ’n luisteraar, Rex Bester, is meer braaivleis die oplossing: “Die verhogings kan daartoe lei dat my braaivleisvuur meer gereeld gaan brand. Vleisbraai, potjiekos, broodbak en sommer koskook op die vuur is maar al uitweg vir my om te spaar.”

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top