’n Residensiële ontwikkelingsprojek van R840 miljoen wat bedoel was om Eskom-werknemers wat by die Kusile-kragstasie in Mpumalanga werk te akkommodeer, is nou ’n mislukte, multimiljoenrand-“spookdorp”.
Hierdie verlate behuisingsprojek is volgens die DA maar een van verskeie mislukte inisiatiewe wat Eskom, ondanks talle reddingsboeie van honderde miljarde rande, probeer verdoesel het.
Hierdie grootskaalse vermorsing van belastingbetalers se geld het opnuut aan die lig gekom tydens ’n besoek deur die DA aan Eskom se verlate Wilge-behuisingsontwikkeling die afgelope week.
Die DA sê in ’n verklaring dit wys hoe die nasionale elektrisiteitsmaatskappy honderde miljoene rande mors, terwyl hy terselfdertyd probeer om kragpryse vir Suid-Afrikaners te verhoog.
🚨 Eskom wasted R840m at the abandoned Wilge project with zero accountability, yet now seeks a 40% electricity price hike. SA shouldn’t pay for Eskom’s failure! We demand accountability and transparency. Sign our petition to reject this increase at https://t.co/eVMPGmDHlZ. pic.twitter.com/bHqXLfdWEL
— Democratic Alliance (@Our_DA) November 4, 2024
Die party se woordvoerder oor elektrisiteit en energie, Kevin Mileham, sê die DA het ’n wit-olifant-woonkompleks van R840 miljoen, wat deur Eskom met belastingbetalersgeld gebou is, ontbloot. Die projek is nou laat vaar en is besig om in puinhoop te verval. Die geboue staan leeg en is heeltemal ongebruik.
Die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings het reeds in Junie 2021 tydens ’n toesigbesoek aan die Wilge-woonstelle in Emalahleni, Mpumalanga, en Eskom se Kusile-kragstasie, hulle teleurstelling uitgespreek oor die onvoltooide Wilge-projek, wat laat vaar is nadat die beoogde koste van sowat R200 miljoen tot meer as R800 miljoen gestyg het.
Die voorsitter van die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings, Khaya Magaxa, was woedend en ontsteld oor die verslag van dié vrugtelose en verkwistende uitgawes deur Eskom.
In 2021 het News24 ook berig dat ’n maatskappy wat ’n tender gekry het om meubels aan die Wilge-behuisingsprojek te verskaf, na bewering met senior Eskom-amptenare saamgespan het om hul pryse vir snoekertafels, lessenaars en ander meubels met meer as 400% te verhoog en ten minste R3 miljoen se wins te maak.
#EskomFiles | A company given a tender to supply furniture to the Wilge housing project seemingly colluded with senior Eskom officials to excessively inflate their prices for pool tables, desks and more by over 400%, scoring at least R3 million in profitshttps://t.co/IDcGYJ8wob
— News24 🇿🇦 (@News24) June 28, 2021
Die woonstelle moes deur Eskom-werknemers bewoon word sodra die projek voltooi was, maar dit is nooit gebruik nie, omdat die projek nie voltooi is nie.
Die Eskom-bestuur het destyds aan die komitee gesê ’n proses om van die fasiliteit ontslae te raak, is aan die gang. Daar is gesê dat moontlike kopers die Departement van Openbare Werke en die Departement van Menslike Nedersettings insluit.
https://x.com/SABreakingNews/status/1359397072483491840
Die DA sê egter dit is niks anders as kriminele vermorsing nie en dat dit duidelik is dat Eskom geen agting het vir die openbare geld wat hy mors nie, ook dat daar min tot geen aanspreeklikheid is nie.
“Die ernstigste skynheiligheid van hierdie situasie is dat hierdie verlies van R840 miljoen geskied terwyl Eskom se jongste tariefverhogingsversoek tans voor Nersa dien en Suid-Afrikaners gevra word om die grootste deel van sy finansiële wanbestuur te dra,” sê Mileham.
Hy sê die feit dat Eskom ’n prysverhoging vra wat elektrisiteitsrekeninge met 40% kan verhoog, terwyl R840 miljoen vermors word, is onaanvaarbaar.
Nog R250 miljoen is verkwis op behuisingsprojekte in Limpopo, wat nou leeg en verwaarloos is. “Selfs meer kommerwekkend: Eskom het verlede jaar vrystelling van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur versoek en probeer om die ware omvang van sy onreëlmatige, verkwistende en vrugtelose uitgawes weg te steek,” sê Mileham.
Eskom het verlede jaar ’n finansiële verlies van R24 miljard gely, wat insluit:
- onreëlmatige uitgawes van R5 miljard
- verkwistende uitgawes van R105 miljoen
- materiële verliese van R6 miljard (R81 miljoen weens korrupsie; R5,6 miljard weens “nietegniese verliese” of geld wat verloor is weens wanbestuur van hulpbronne en ’n gebrek aan doeltreffendheid).
Die DA sê in die lig van hierdie verbysterende vermorsing eis hulle onmiddellike optrede en aanspreeklikheid vir die Wilge-projek.
“Ons doen ’n beroep op die direksie van Eskom en die Nasionale Departement van Menslike Nedersettings om voor die Energie- en Elektrisiteit-portefeuljekomitee te verskyn, aangesien dit tyd is dat diegene, wie se skuld dit is, verantwoordelik gehou word vir hierdie monumentale mislukking.”
Hulle het ook gevra vir deursigtigheid oor die verkwistende uitgawes en het ’n beroep op Eskom gedoen om die 2023/24-Jaarverslag dringend bekend te maak en ook die besonderhede oor sy finansiële prestasie. Dit sluit alle onreëlmatige verkwistende uitgawes en wesenlike verliese in wat nie aangespreek en gerapporteer is nie.
Hierdie stappe is volgens die DA van kardinale belang om Eskom aanspreeklik te hou en deursigtigheid vir belastingbetalers te verseker.