Eskom: Wie beskerm vir wie?  

  • 0

Terwyl parlementslede die afgelope week gepoog het om agter die kap van die byl te kom oor ernstige bewerings van bedrog, korrupsie, wanadministrasie en ander misdaad by die kragvoorsiener, het die betrokke partye die bal soos ’n warm patat van die een na die ander aangegee.

Eskom se direksie en senior bestuur het voor die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) verskyn oor die aantygings van bedrog wat die voormalige Eskom-baas, André de Ruyter, kort voor sy vertrek in ’n plofbare TV-onderhoud gemaak het.

Verskeie organisasies het reeds ’n beroep op De Ruyter gedoen om die identiteit bekend te maak van die minister en amptenare waarop hy tydens die televisie-onderhoud gesinspeel het wat na bewering betrokke was by korrupsie by die kragvoorsiener. De Ruyter weier egter om self die name te noem uit vrees vir moontlike regsimplikasies.

Die hoof van sekerheid by Eskom, Karen Pillay, het Woensdag tydens haar getuienis voor die parlementêre komitee bevestig dat daar ’n element van georganiseerde misdaad by die maatskappy gevind is.

Sy het getuig dat dit verbind kan word met steenkooldiefstal en onwettige steenkoolwerwe in veral Mpumalanga. Dit stem ooreen met De Ruyter se vroeëre bewerings.

Eskom se voorsitter, Mpho Makwana, sê intussen die direksie het tot die gevolgtrekking gekom dat De Ruyter se uitlatings in die opspraakwekkende TV-onderhoud die kragvoorsiener in oneer gebring het.

Lede van die parlement het wetstoepassingsagentskappe behoorlik geroskam oor De Ruyter se bewerings van korrupsie by Eskom.

Die DA sê in ’n verklaring ten spyte van dreigende stadiums van dubbelsyferbeurtkrag, is daar ’n kommerwekkende afwesigheid van dringendheid om die kriminaliteit by Eskom aan te spreek, en ’n duidelike poging om die bewerings van De Ruyter te ondermyn en tot die minimum te beperk.

’n Groot deel van Skoor se ondersoek die afgelope week het gedraai rondom die private ondersoek wat De Ruyter byna ’n jaar gelede binne die entiteit gelas het en ander ondersoeke wat daarmee verband hou.

“Die feit is, De Ruyter se verslag aan Skoor het presiese bewerings uiteengesit, asook die feit dat die SAPD-polisiehoof, Fannie Masemola, erken het dat die SAPD ’n gesentraliseerde span gestig het wat die uniformtak, spesiale magte en ondersoekers van beide die SAPD en Valke sou bystaan,” het twee van die DA se parlementslede, Benedicta van Minnen en Ghaleb Cachalia, Woensdag in ’n gesamentlike verklaring gesê.

Hulle sê die nasionale polisiekommissaris verswyg om redes wat net aan hom bekend is, die omvang van sy kennis voor die komitee, óf hy het ’n geheueprobleem.

In plaas daarvan om aandag te gee aan die bekommernisse wat verskeie kere die afgelope jaar geopper is, insluitend die potensiële betrokkenheid van ’n senior politikus by voortdurende plundering van die entiteit, fokus die betrokke  agentskappe op die formaat van die verslag wat deur De Ruyter ontvang is, sê die DA.

Die minister van polisie, Bheki Cele, gooi volgens die DA ook jakkalsdraaie en onderbeklemtoon die rol wat sabotasie by Eskom gespeel het. Dit laat vrae ontstaan ​​oor sy departement se verbintenis daartoe om korrupsie aan te pak.

“Ten spyte van dwingende bewyse van wangedrag is dit duidelik dat die ingrypings tot dusver onvoldoende was. Wat selfs meer kommerwekkend is, is die oënskynlike polities gemotiveerde onkunde oor gebeure wat tot die huidige situasie gelei het en ’n onwilligheid om met die een man [De Ruyter] te skakel wat hierdie kwessies konsekwent by wetstoepassingsagentskappe aangemeld het.”

Minister Pravin Gordhan, en die nasionale veiligheidsadviseur, Sydney Mufamadi, was bekend met hierdie bewerings, maar lyk nie gemotiveerd om die saak voort te sit nie, en die DA wil weet hoekom, sê die DA.

“Dit alles laat die vraag ontstaan ​​wie deur wie beskerm word, nieteenstaande president Cyril Ramaphosa se absurde opmerking dat hy nie weet nie, en nie van plan is om uit te vind watter politikus Eskom glo geplunder het nie,” lui die DA se verklaring.

Die party sê hulle bly onwrikbaar daartoe verbind om die proses te bespoedig om diegene wat verantwoordelik is vir beurtkrag, voor die gereg te bring. “Suid-Afrikaners eis die ondersoek na, en skuldigbevinding en opsluiting van diegene wat verantwoordelik is, en die DA is toegewyd daaraan om aan daardie eis te voldoen.”

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top