Terwyl Suid-Afrikaners die afgelope weke meer as ooit vantevore onder beurtkrag gebuk moes gaan, dring Eskom aan op ’n prysverhoging van meer as 32 persent vir hulle krag.
Volgens mediaberigte het Eskom die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) gevra om die prysverhoging goed te keur.
Nersa het vroeër vanjaar Eskom se aansoek om ’n tariefverhoging van 20,5% van die hand gewys en 'n veel kleiner elektrisiteitsprysverhoging van 9,61% toegestaan.
Eskom het destyds gesê die verhoging was nodig om die koste van sy skuld, koolstofbelasting en die hoër prys van elektrisiteitsaankope van onafhanklike kragprodusente te dek.
Die DA het met verontwaardiging reageer op Eskom se voorgestelde tariefverhoring. Die party sê in ’n verklaring Suid-Afrikaners weier om 'n tariefverhoging van 32,7% deur Eskom te aanvaar terwyl Eskom die land letterlik in die duister hou.
Eskom se jongste tariefaansoek is volgens die DA immoreel en ’n belediging vir Suid-Afrikaners.
Die DA se skaduminister van mineraalhulpbronne en energie, Kevin Mileham, sê in ’n verklaring hulle sal hul besware teen hierdie voorgestelde “Eskom-uitbuitery” indien sodra Nersa op 1 Augustus openbare kommentaar ontvang.
Nersa is deur die Hooggeregshof in Pretoria beveel om Eskom se tariefaansoek vir 2023/24 voor of op 1 Augustus te publiseer en teen 24 Desember ’n beslissing te maak.
Die DA sê Suid-Afrikaners sukkel reeds om kop bo water te hou weens stygende lewenskoste en ’n hoë inflasionêre omgewing. “Vir Eskom om 'n bykomende hoë elektrisiteitstariefverhoging by te voeg vir ’n diens wat hulle nie kan lewer nie, is eenvoudig onaanvaarbaar.”
Eskom’s latest application for a 32.7% increase in the price of electricity is immoral and an insult to South Africans who have endured loadshedding. The DA will fight this Eskom rip-off.
Citizens are already struggling with the rising costs of living!https://t.co/ciGu3xp2DB
— Democratic Alliance (@Our_DA) July 18, 2022
Volgens die DA kan daar nie van verbruikers verwag word om Eskom se onlewensvatbare sakemodel en die ANC se dekades lange weiering om die energiemark vir onafhanklike kragprodusente oop te stel, te subsidieer nie.
“In plaas daarvan om die energiemark oop te maak en onafhanklike kragvoorsieners (IPP's) toe te laat om nuwe energieopwekkingskapasiteit aanlyn te bring, is Gwede Mantashe besig om tyd te mors op ’n fantasie oor ’n nuwe Eskom-entiteit om met Eskom te kompeteer.
“Dit is tyd dat Suid-Afrikaanse verbruikers eerste gestel word en dat die regering – en Eskom – hul maneuvers laat vaar waar die verbruiker aanhou om die rekening te betaal vir hul mislukkings,” sê die DA.
Die party sê Nersa moet Eskom se buitensporige tariefaansoek verwerp omdat sy eerste verpligting teenoor verbruikers is, nie teenoor Eskom nie.
Intussen blyk dit dat dit nog maande kan duur voordat beurtkrag heeltemal opgeskort sal kan word.
AfriForum het intussen gedreig met regsaksie indien die regering dit oorweeg om ’n energieramptoestand in te stel. Dit volg op berigte dat president Cyril Ramaphosa dit oorweeg om ’n ramptoestand aan te kondig as deel van sy regering se aksieplan om beurtkrag te beëindig.
.@AfriForum gereed om regsaksie te neem teen beoogde noodtoestand.
Klik hier om jou naam by die regsaksie te voeg: https://t.co/4IjWdRvR89 pic.twitter.com/QXislUxftd— AfriForum (@afriforum) July 15, 2022
Volgens AfriForum het die regering in die afgelope paar jaar herhaaldelik bewys dat hy nie vertrou kan word met die uitgebreide magte wat ’n ramptoestand aan hom gee nie en gaan hierdie ramptoestand waarskynlik net soos die Covid-ramptoestand misbruik word om politici te verryk, onreëlmatige tenders uit te deel en parlementêre oorsig vry te spring.
“Dit wil voorkom of die rampbestuurswet nou die regering se nuwe gunstelingvoertuig geword het om korrupte aktiwiteite te vergemaklik en mee uit te voer. Die wet word duidelik misbruik en ’n ‘ramp’ wat deur wanbestuur veroorsaak is, val beslis nie binne die bestek van die wet nie,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir Strategie en Inhoud by AfriForum, in ‘n verklaring.
“Die feit dat kragonderbrekings Suid-Afrika nou al vir 14 jaar teister weens die ANC se wanadministrasie, rasbeheptheid, korrupsie en vasklou aan Eskom as kragmonopolie, is beslis ’n katastrofe. Juis daarom kan ons nie die regering vertrou met ekstra magte nie, tensy ons ’n tweede ramp wil bylas by die kragkrisis,” het Van Zyl gesê.