Lidlande van die Europese Unie (EU) het hulle refleksreaksies laat vaar en ingestem om die lugreisverbod op Suid-Afrika en ander Suider-Afrikaanse lande op te hef.
Frankryk, wat tans die EU se presidentskap beklee, het in ’n twiet gesê EU-lidlande het op 10 Januarie ooreengekom om die beperking op te hef sodat lugreise met die Afrikalande hervat kan word.
Reisigers van die streek sal steeds aan gesondheidsmaatreëls onderhewig wees. Volgens EU-vereistes moet mense wat van enige land af reis, negatief getoets het vir COVID-19 in ’n PCR-toets wat hoogstens 72 uur voor aankoms geneem is.
🔴🇪🇺 Member States have agreed this morning at IPCR meeting to lift the emergency break to allow air travel to resume with southern African countries. (...) 1/2 ⤵️
— Présidence française du Conseil de l’UE 🇫🇷🇪🇺 (@Europe2022FR) January 10, 2022
Verskeie lande regoor die wêreld het verlede jaar November ’n reisverbod teen Suid-Afrika ingestel nadat die Omikron-variant van die koronavirus deur Suid-Afrikaanse wetenskaplikes ontdek is.
Dit het paniekgolwe deur die wêreld gestuur en talle lande het hulle grense tot groot ontsteltenis van Afrikalande vir besoekers uit die streek gesluit.
Europese lande het die meeste lugreise vanaf Botswana, Eswatini, Lesotho, Mosambiek, Namibië, Suid-Afrika en Zimbabwe opgeskort terwyl wetenskaplikes geskarrel het om die erns van die Omikron-variant te bepaal. Die EU het die verbod gehandhaaf selfs nadat Omikron regoor die wêreld aanhou toeneem het en ondanks ’n uitroep van verontwaardiging uit die Suider-Afrikaanse streek.
Die Europese Kommissie het lidlande verlede maand gevra om dit te oorweeg om die vlugverbod so gou as moontlik op te hef en na ’n voorvertrek-PCR-toets oor te gaan. Sommige lidlande het reeds die beperkings verlig.
Die EU koördineer reisriglyne binne lidlande, maar die lidlande is self verantwoordelik vir die opstel en implementering van spesifieke reisbeperkings.
Die besluit om die verbod op te hef doen weg met die sogenaamde noodrem wat in November ingestel is. Volgens die besluit het EU-lande ingestem om tydelike noodbeperkings in te stel op alle reise na die EU vanaf die Suider-Afrika-streek.
📍BREAKING— The European Commission has recommended that EU countries introduce an "emergency brake" on travel from southern Africa due to #B11529… to help "limit the spread", recommending all air travel to affected countries be suspended & "respect strict quarantine rules". 🧵 pic.twitter.com/whvss4ff8i
— Eric Feigl-Ding (@DrEricDing) November 26, 2021
Hierdie tydelike beperkings het ook die opskorting van passasiersvlugte van geaffekteerde lande ingesluit. Lidlande is gevra om reise na hierdie lande vir EU-burgers te ontmoedig. Dit het die Suid-Afrikaanse ekonomie miljarde rand gekos, aangesien talle toeriste wat Suid-Afrika oor die Kersseisoen sou besoek het, nie toegelaat is om hierheen te reis nie.
Afrika-leiers het die verbod as diskriminerend en onregverdig beskryf. Daar is ook gevrees dat die beperkings ander lande sou ontmoedig om nuwe variante van die koronavirus aan te meld, aangesien hulle deur reisbeperkings gestraf kan word.
Wetenskaplikes het die doeltreffendheid van die verbod bevraagteken en die Wêreldgesondheidsorganisasie het lande versoek om refleksreaksies op die ontdekking van die Omikron-variant te vermy.
Sommige lande, insluitend die Verenigde Koninkryk en die VSA, het reeds vroeër beperkings op reisigers van suidelike Afrika opgehef.
Die VSA se reisbeperkings teen agt lande van suidelike Afrika is in Desember opgehef nadat die Biden-administrasie aanvanklik in Brittanje se spore gevolg het en ook ’n reisverbod ingestel het nadat Suid-Afrika en Botswana die Omikron-variant geïdentifiseer het.
Die EU se kommissaris vir justisie, België se Didier Reynders, het reeds verlede maand gesê sy land dring daarop aan om die reisverbod op te hef, en het dit as “ondoeltreffend” beskryf.
Intussen het Omikron binne ’n paar weke oor die wêreld gestyg, wat tot miljoene nuwe gevalle gelei het, terwyl die variant se uitbreking in Suid-Afrika dramaties afneem.
Suid-Afrika is egter steeds op Nederland se oranje lys, wat beteken mense word aangeraai om die land te besoek slegs as dit noodsaaklik is. Volgens Nederland se regering is dit nie veilig om op vakansie te gaan na lande met ’n oranje status nie.
Sien Nederland se amptelike advies aan reisigers na Suid-Afrika hier.