Feeste gekelder, nog oorstromings met gepaardgaande rukwinde en hael

  • 0
Die stryd teen die water

België het opnuut onder hewige oorstromings deurgeloop toe swaar buie Saterdag oor die provinsies Namen en Luxemburg getrek het met gepaardgaande rukwinde en hael. Verskeie paaie was onder water en die brandweer moes spook om op al die oproepe oor oorstromings in Namen te reageer. De Morgen berig dat daar aansienlike skade in Dinant was en minstens vier mense moes hul huise verlaat. Talle huise is ook oorstroom. In Waals-Brabant is sommige gebiede wat die vorige week ook oorstromings moes meemaak, opnuut getref. Veral in Chamon-Gistoux, Walhain en Waver was daar swaar reënval. In sommige strate van Walhain was die modder tot 1,5 m hoog. Oos-Vlaandere is ook nie ontsien nie, toe verskeie strate in Temse onder water te staan gekom het. Ook in Antwerpen was daar verskeie aanmeldings van kelders wat oorstroom is.

Die NOS berig dat swaar reën Sondag ook in Friesland in Nederland uitgesak en tot oorstromings in sommige gebiede gelei het. In die dorpe Harkema, Koostertille en Buitenpost het strate verspoel en het kelders oorstroom. In sommige versorgingstehuise moes inwoners vanweë oorstromings na hoër verdiepings geskuif word en die nooddienste moes spook om probleme met oorstromings die hoof te bied.

Intussen word berig dat minstens 200 mense ná die oorstromings in Limburg verlede week nog maande lank ’n ander heenkome sal moet vind weens skade aan hul huise. Volgens die versekeraars Interpolis en Centraal Beheer kan dit tot die einde van die jaar duur voordat die beskadigde huise weer bewoonbaar is. Om sake te vererger heers daar op die oomblik ’n tekort aan boumateriaal in Nederland.

Rebonieuws berig dat ’n dyk in Reeuwijk naby Gouda Maandagoggend meegegee het. Die gat het in die middel van die dyk ontstaan en veroorsaak dat weilande oorstroom het. Die nooddienste is ingespan om vee te red en die polisie het die omgewing afgesper. Die oorsaak van die gat in die dyk is nog nie bekend nie. Geen voorvalle van beserings is aangemeld nie en inwoners is nie gevra om hul huise te ontruim nie.

Pukkelpop se dop geklink

Die Belgiese driedaagse musiekfees wat vanjaar van 19 tot 22 Augustus sou plaasvind, is ná ’n vroeëre bevestiging tog afgelas, berig VRT NWS. Volgens die organiseerders sou dit onhaalbaar wees om sulke hoë getalle jongmense deurentyd tydens die fees vir COVID-19 te toets. Die organiseerders verwyt ook die regering dat hy telkens die reëls verander het, maar volgens Guy Hans, mediese direkteur van die Universitair Ziekenhuis Antwerpen en adviseur van Pukkelpop, is die organiseerders al in Junie gewaarsku. “We hebben toen gezegd, pas op, nu ziet het er nog goed uit, maar de omstandigheden zijn nadien en zeker de laatste vier weken enorm veranderd en duidelijk verslechterd. Niemand had op dat moment de snelheid van de deltavariant kunnen voorspellen. We zien nu pas wat de gevolgen zijn en de snelheid waarop die zich verspreidt. We zitten nu in een totaal andere situatie dan pakweg een viertal weken geleden.”

Twee maande gelede het die organiseerder Chokri Mahassine nog oor die radio aangekondig dat die fees wel vanjaar sou plaasvind en wel op volle kapasiteit – dit wil sê 66 000 besoekers per dag. Mahassine se aankondiging was kort voor dié van premier De Croo, wat twee dae voor die tyd gesê het: “Tegen augustus hebben alle volwassenen in ons land de kans gehad om zich te laten vaccineren. Bovendien hebben we in ons land ontzettend veel expertise in de evenementen- en festivalsector. Het gaat om professionals die tot de wereldtop behoren.” Volgens De Morgen blyk dit toe agteraf dat De Croo sy aankondiging gemaak het sonder om die Belgiese minister van volksgesondheid, Frank Vandenbroucke, te raadpleeg. Vandenbroucke het die oggend op TV nog daarteen gewaarsku om versoepelinge te vinnig in te voer: “We moeten opletten dat de optelsom van alle verzuchtingen ons niet te snel laat gaan.”

Weens die verspreiding van die deltavariant van die koronavirus is die Belgiese regering genoop om maatreëls te verskerp, wat sou beteken dat feesgangers elke 48 uur getoets sou moes word. Hans sê egter selfs voor die verskerping van die maatreëls, ingevolge waarvan feesgangers elke drie dae getoets sou moes word, sou dit op ’n logistieke nagmerrie uitloop. Die kansellering van die fees is egter ’n enorme teleurstelling vir jongmense wat daarna smag om weer in groot groepe te dans en fees te vier.

Maar dit is nie die einde van die verhaal nie. Volgens De Morgen is daar ook ’n finansiële kinkel in die kabel. Die feesorganiseerders het ’n voorskot van €1,8 miljoen (sowat R31,4 miljoen) van die Vlaamse regering gevra. Die bedrag is al goedgekeur, maar nog nie uitbetaal nie. Normaal gesproke moet die feesorganiseerders die voorskot terugbetaal as die fees wel plaasvind, maar noudat die fees gekanselleer is weens die COVID-19-maatreëls, hoef die organiseerders nie die geld terug te betaal nie. Teleurgestelde jongmense wat reeds kaartjies gekoop het, het heftig op sosiale media gereageer. Sommige sê vir organiseerders was dit dus juis meer lonend as die fees gekanselleer sou word en nou moet húlle daaronder ly.

Musiekfeeste ook in Nederland afgelas

Intussen het die Nederlandse regering ook aangekondig dat feeste wat meer as ’n dag lank duur, nie mag voortgaan nie. Die Alliantie van Evenementenbouwers het die aankondiging as “een hele trieste constatering” beskryf, maar sê dat hulle wel begrip vir die besluit het. Die alliansie sê voorts weens die vinnige opgang van die deltavariant kan die kwaliteit en ’n verantwoordelike belewing van feeste nie gewaarborg word nie. Die kabinet het sowat €400 miljoen (sowat R7 miljard) beskikbaar gestel om organiseerders te kompenseer. Geen besluit is nog geneem oor feeste wat net ’n dag lank duur nie. ’n Aankondiging in dié verband sal na verwagting teen 13 Augustus gemaak word. Die onsekerheid beteken egter dat verskeie eendaagse feeste nou al gekanselleer word. Die direkteur van die organisasie ID&T sê: “Het is voor ons geen optie om tot 13 augustus te wachten op een besluit voor evenementen die al op de dag erna gepland staan.”

Nog plekke in Nederland en België op die Wêrelderfenislys

Die Nuwe Hollandse Waterlinie en Kolonies van Weldadigheid in Nederland asook die Wortel-kolonie in Hoogstraten, België, is in Unesco se Wêrelderfenislys opgeneem. Die Nuwe Hollandse Waterlinie is een van die belangrikste verdedigingslinies in die geskiedenis van Nederland. Die doel daarvan was om ’n groot deel van die provinsie Holland en die stad Utrecht te beskerm en was tussen 1879 en 1945 in gebruik. Die waterlinie is sowat 85 km lank en tussen 3 en 5 km breed en huisves altesaam 46 forte. Die vestingstede Muiden, Weesp, Naarden, Gorinchem en Woudirichem maak ook deel van die linie uit.

Die Kolonies van Weldadigheid in Frederiksoord, Wilhelminaoord en Veenhuizen was ’n ambisieuse projek wat in 1818 van stapel gestuur is om armoede te bestry. Armlastiges het ’n stuk grond op die platteland gekry wat hulle kon bewerk met die doel om vir hulself te sorg. Hul kinders is ook verplig om skool by te woon. Die kolonies, in ’n skilderagtige landskap geleë, was uniek aan Europa en kan beskou word as die begin van die Nederlandse welsynstaat.

Die kolonie Wortel in België is vir dieselfde doel opgerig en was tot 1993 nog in gebruik. Die Vlaamse minister van onroerende erfenis, Matthias Diependale, is verheug oor die insluiting van die Wortel-kolonie op die Wêrelderfenislys en het die hoop uitgespreek dat die insluiting toerisme in die gebied sal bevorder.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top