The quiet girl
1h 34m
Ierland
2022
Spelers: Catherine Clinch, Carrie Crowley, Andrew Bennett, Michael Patric, Kate Nic Chonaonaigh
Regisseur: Colm Bairéad
Tale: Iers en ’n bietjie Engels, met Engelse onderskrifte
Die Europese Filmfees het Donderdagaand geopen en ek het The quiet girl gekies om my fees mee te begin.
The quiet girl is ’n lieflike, onderspeelde film, nie noodwendig maklik nie, maar tog baie mooi.
Ierland
The quiet girl is die Ierse inskrywing vir die fees en speel af in Ierland – anders as byvoorbeeld Blackbird blackbird blackberry van Switserland, wat in Georgië afspeel, of Sweet dreams van Nederland, wat bewustelik oor die lewe in Indonesië gaan
Die milieu is plaasgemeenskappe.
Cáit is nege jaar oud en een van talle sibbe. Die Ierse platteland is Katoliek en geboortebeperking word nie daar aangemoedig nie. Wanneer ons Cáit ontmoet, is daar ’n huilende peuter in die huis, ’n baba in die ma se maag en nog talle ander kinders in en om hulle woning.
Cáit is die stil enetjie, die een wat nie maklik vriende maak nie en eerder onder haar bed wegkruip as om met haar rowwe sibbe te speel.
Ma is moeg. Pa tel ander vroue op, drink en dobbel.
Wanneer Cáit wegloop van die skool af (en die kyker vermoed dis nie die eerste keer nie), besluit haar ma dat Cáit dalk liewer by haar niggie en dié se man moet gaan bly.
Dit is ’n rit van drie uur na die nuwe huis, waar Cáit niemand ken nie.
Haar pa ry weg met haar tas en daar sit die arme kind.
Gelukkig hang daar hemde en broeke in die kamer, dus het sy darem klere om aan te trek ná haar tannie haar ’n slag behoorlik gebad het.
Wat dan gebeur, maak van hierdie stadige, beeldskone film ’n kykgenot.
Stiltes
Cáit is nie spraaksaam nie, vandaar die titel.
Haar tannie praat met haar en sing vir haar.
Die tannie se man is ’n boer en staan in die hoekie van die kombuis, totaal onseker hoe om hierdie mooi, sagte wese in sy huis te hanteer. Stilte is sy antwoord.
Tot Cáit ’n ruk lank onder sy toesig verdwyn. Hy skrik en spreek haar hard aan.
Later, om jammer te sê, sit hy ’n enkele koekie op die tafel naby haar neer. In stilte. Die ys is gebreek en die twee stil mense ontwikkel ’n hegte vriendskap.
Geheime
Vroeg aan die begin van haar verblyf word Cáit deur haar tannie genooi om saam te stap na die put van waar hulle drinkwater kom.
Cáit, wat slegs negatiewe interaksies met grootmense ken, is onseker hoe om te reageer en vra die tannie of dit ’n geheim moet wees as hulle na die put stap.
Nee, sê die tannie dadelik. In hulle huis is daar nie geheime nie.
Dit klink baie goed, maar Cáit kom baie gou agter dat daar wel talle geheime in hierdie huis is.
Stilte as ’n positiewe
Nadat ’n baie spraaksame buurvrou Cáit se onskuld gebruik het om uit te vis oor die twee mense wat Cáit onderdak geneem het, en die buurvrou sommer ook heelwat van hulle geheime uitgeblaker het, gaan sit die stil boer en die stil meisie op die strand.
Stadig, en in frases van onsekerheid, begin hulle gesels oor perde wat weghardloop. Dan sê die boer vir Cáit dat stiltes soms ’n goeie antwoord is. Hy maak dan ’n opmerking wat ek wil raam: Baie mense mis ’n gulde geleentheid om stil te bly.
Nie Aspoestertjie nie
Cáit blom onder die liefdevolle aandag wat sy van haar ma se niggie en die boer ontvang.
Sprokies het egter ongelukkig nie altyd sprokieslotte nie, en teen die einde van die film is daar ’n pampoenoranje motor wat die einde van die verhaal moet aankondig.
Ek gaan natuurlik nie sê hoe dit eindig nie – kyk maar self. Hou ’n sakdoekie of twee byderhand.
Musiek, regie, filmwerk en toneelspel
Die musiek is skynbaar vir hierdie film geskryf, deur Stephen Rennicks. Dit is stil en onderspeel, presies soos die film.
Die kamerawerk is konserwatief en goed. Nêrens word kameras rondgeskud en die gehoor laat voel hulle is in ’n boot nie. Enkelskote duur soms lank.
Colm Bairéad se regie is so sag en onderspeel soos die musiek. Jy weet nie dis daar nie, en tog word jy deur ’n lieflike reis gelei. Ek wil nog van sy films sien.
Dit is maklik om opgewonde te wees oor Catherine Clinch se debuutrol as Cáit, maar ook die ander akteurs was werklik noemenswaardig en kykenswaardig.
Michael Patric speel Cáit se pestelike pa met enorme oortuiging, al het hy die looks om ’n held in ’n romkom te wees.
Kate Nic Chonaonaigh as Cáit se ma oortuig as die vloerlap wat altyd swanger is en deur haar man verniel word.
Carrie Crowley se rol as die simpatieke tannie sou sentimenteel kon geraak het. Hier is dit egter gewoon stil en onderspeel, net reg vir die dogtertjie wat ’n vreemde bed soek, soos Gouelokkies van ouds.
Andrew Bennett, as die stil boer wat sukkel om aanvanklik met Cáit te kommunikeer, oortuig ook.
Almal, selfs die sibbe en die paar skoolkinders of die pratende buurvrou, doen wat van hulle verwag word.
Dis die kyk werd
The quiet girl het sewe toekennings by die Irish Film and Television-toekennings gewen, en toe ook die eerste Ierse rolprent geword wat ’n Oscar-benoeming by die 2023 Academy Awards verdien het.
The quiet girl is gebaseer op ’n kortverhaal getiteld “Foster” deur Claire Keegan.
Om hierdie lieflike film as deel van die Europese Filmfees gratis te kan kyk is ’n voorreg.
Lees ook:
Press release: 11th European Film Festival in SA line-up announced