Die land se onderwysstelsel bevind homself in ’n finansiële krisis wat leerders, onderwysers, skoolhoofde en gemeenskappe oor alle provinsies heen raak.
So het die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, Woensdag gewaarsku tydens ’n media-inligtingsessie in Pretoria.
Gwarube sê dit is ’n harde werklikheid wat die land konfronteer. Tensy daar proaktiewe maatreëls getref word, staar die land se provinsiale onderwysdepartemente binne die volgende twee tot drie jaar groot uitdagings in die gesig.
Vier provinsiale departemente sal in die volgende boekjaar sukkel om kop bo water te hou, vyf provinsies sal die jaar daarna sukkel om hul begrotings te dek en in die 2027/2028-boekjaar sal sewe uit die land se nege provinsies dieselfde probleem hê.
Gwarube sê die aantal leerlinge in skole het die afgelope vyf jaar met bykans 300 000 toegeneem. Gwarube het tydens ’n mediakonferensie die impak van begrotingbesnoeiings op die onderwyssektor op provinsiale vlak verduidelik. Die raad van onderwysministers het onlangs spesiale vergaderings gehou om die kwessies te bespreek.
Die minister sê sy het reeds ’n dringende vergadering met die minister van finansies, Enoch Godongwana, geskeduleer om die dringende begrotingsuitdagings wat die land tans in die gesig staar, te bespreek.
Basic Education Minister, Ms @Siviwe_G, hosts a media briefing to provide an update on the provincial level analysis of the impact of budget cuts in the education sector @GCISMedia in Hatfield, Pretoria. pic.twitter.com/wYO3aLeVZ5
— Dep. Basic Education (@DBE_SA) September 25, 2024
“Ek waardeer minister Godongwana se samewerking en ondersteuning oor hierdie belangrike saak en ek glo dit sal ons ’n duideliker begrip gee van hoe om die tesourie te betrek om hierdie uitdagings aan te spreek.
“Die onderwysstelsel is deurslaggewend vir ons nasie se toekoms. Die uitdagings wat in die gesig gestaar word, kan oorkom word met beslissende optrede en ’n verbintenis om onderwys te prioritiseer.”
Die DA het reeds vroeër sy kommer in ’n verklaring uitgespreek oor wat die party bestempel as “verwoestende besnoeiings” wat nie net die lewensbestaan van onderwysers raak nie, maar ook die gehalte van onderwys vir leerders ernstig sal ondermyn, veral in skole met gebrekkige hulpbronne.
In die Wes-Kaap alleen is meer as 2 000 kontrakonderwysposte in gevaar weens ’n begrotingstekort van R3,8 miljard. In KwaZulu-Natal is ’n verdere 11 000 onderwysposte in gedrang en die Gautengse LUR vir basiese onderwys, Matome Chiloane, het onthul dat 3 400 poste in dié provinsie in gevaar is.
Tydens Woensdag se inligtingsessie het Gwarube bevestig dat ander provinsies regoor die land in ’n soortgelyke posisie is, met baie wat desperaat probeer om maniere te vind om te vermy om begrotings vir sleuteldienste soos handboeke, administratiewe ondersteuning en skoliervervoerprogramme te sny.
Sy sê elke provinsie worstel met hierdie pynlike keuses. Provinsiale onderwysdepartemente sal dit in die volgende twee tot drie jaar al hoe moeiliker vind om hul bestaande aantal poste en bestaande programme binne die beskikbare begroting te finansier, tensy maatreëls proaktief getref word om hierdie risiko te versag, het sy gesê.
Gwarube sê hierdie finansiële druk op die onderwysstelsel is nie net ’n onlangse gebeurtenis nie. Dit is reeds jare aan die gang as gevolg van aggressiewe begrotingbesnoeiings, ekonomiese stagnasie en fiskale wanbestuur regoor die regering.
Sy sê dit is nou besig om ook die departement se frontliniedienste te raak. “Hierdie begrotingsdruk is nie net getalle op papier nie en beteken minder onderwysers en verminderde handboeke.”
[HAPPENING NOW] Watch The Minister of Basic Education live briefing on the link below.
https://t.co/4kHuxy3ZBs— Dep. Basic Education (@DBE_SA) September 25, 2024
“Ons onderwysstelsel is die basis van ons nasie se toekoms. Alhoewel ons beduidende uitdagings in die gesig staar, is dit nie onoorkomelik nie. Maar dit vereis beslissende optrede en ’n onwrikbare verbintenis om onderwys eerste te stel.”
Die DA het verlede maand gewaarsku dat hierdie begrotingbesnoeiings van basiese onderwys, tesame met die onlangse ondertekening van die Bela-wetsontwerp wat graad R verpligtend maak sonder om voldoende befondsing te verskaf, geweldige druk op provinsiale onderwysdepartemente sal plaas. Die R17 miljard wat nodig is om verpligte graad R te implementeer sal die reeds uitgeputte begrotings verder knou en dreig om noodsaaklike dienste soos skoolvoeding en leerdervervoer te besnoei.
Die DA het gepleit vir die nodige finansiële hulpbronne om die land se onderwysstelsel van ineenstorting te red. Die party sê Suid-Afrika kan nie bekostig om ’n kompromie aan te gaan oor die toekoms van sy leerders of die werk van onderwysers nie.