Elke eerste Donderdagaand van elke nuwe maand is Kaapstad se middestad ’n miernies met die strate wat wemel van beweging. Die stad kry na sonsak lewe soos geesdriftige kunsaanhangers en naguile tot laataand die netwerk van strate verken en verdwaal tussen ou historiese geboue. ’n Lewendige en eklektiese atmosfeer hang in die lug. Die rede? First Thursdays.
First Thursdays is ’n inisiatief wat, soos die naam voorstel, elke eerste Donderdag van die nuwe maand plaasvind. Kunsgalerye se deure staan oop tot 9-uur die aand en die publiek word genooi om kunsgalerye gratis te besoek.
Die publiek word genooi om die plaaslike kunstoneel en kulturele erfenis wat Kaapstad bied, te voet na die werksdag te kom geniet. Soos die First Thursdays webtuiste verduidelik, daar is geen skedule of begeleide toer nie.
Vaar eenvoudig Kaapstad se strate in en sien wat die stad se liggies alles te bied het.
SMITH in Kerkstraat (Foto: SMITH)
Kom sonskyn, of self Kaapstad se kenmerkende koue, wind en reën van winter, First Thursdays vind regdeur die jaar plaas. Maak dus seker jy bring ’n lekker warm jas en sambreel saam in die koue wintermaande en siedaar, jy is reg vir die ding!
Buite koes jy dalk vir die reën, maar die galerye staan reg om jou met ’n heerlike snoesige atmosfeer te verwelkom.
EBONY/Curated in Loopstraat (Foto: EBONY/Curated)
Kunswerke in EBONY/Curated in Loopstraat (Foto: EBONY/Curated)
First Thursdays is ’n globale beweging wat onder meer in plekke soos New York en Londen plaasvind en sy pad ook later Kaapstad toe gevind het. Die inisiatief se doel is om die publiek na die tipiese 9‒5 werksdag die geleentheid te gee om galerye te besoek, daarom dat galerye tot 9-uur die aand oop is.
Die galerye is naby genoeg aanmekaar dat daar van die een na die ander gestap kan word, en dis juis die doel om die stad se hoekies en draaitjies te voet te leer ken.
First Thursdays poog om die kunstoneel meer toeganklik vir die algemene publiek te maak en die idee af te breek dat kunsgalerye net vir die elite is. Die inisiatief poog ook om ’n jonger gehoor na die galerye te lok.
First Thursdays in Kaapstad is die geesteskind van Suid-Afrikaners Gareth Pearson en Michael Tymbios, wat die konsep aanvanklik in Zurich beleef het en besluit het om dit Kaapstad toe te bring.
Toe die eerste First Thursday in 2012 in Kaapstad plaasgevind het, was daar maar slegs ongeveer ses galerye wat deelgeneem het, vertel Gareth in ’n Junie 2015 blog-inskrywing oor First Thursdays. Vandaar het First Thursdays van krag tot krag gegaan en deesdae neem oor die 50 galerye en besighede aan die inisiatief deel en duisende mense woon dit maandeliks by.
As gevolg van die groeiende gewildheid van First Thursdays in Kaapstad, het die inisiatief intussen ook uitgebrei na Johannesburg waar dit in 2015 begin is. First Thursdays is ook lankal nie meer beperk tot net galerye nie; deesdae neem museums, restaurante en winkels ook deel.
SMITH in Kerkstraat (Foto: SMITH)
Gareth skryf die sukses van First Thursdays onder andere toe aan die feit dat dit elke maand klokslag plaasvind en daarom ’n instelling geword het.
Hy vergelyk dit met rituele soos kerk toe gaan, elke oggend mediteer, of koffie maak voor jy werk toe gaan in die oggend ‒ dit raak deel van ’n mens se roetine en bestaan, en noop mense om dit elke maand by te woon.
99 Loop op die hoek van Loopstraat en Kerkstraat (Foto: 99 Loop Gallery)
Verder verduidelik hy ook dat hy glo daar ’n hunkering na kulturele ervarings in ons stede is, omdat die stagnante aard van die lewe in Suid-Afrika se stede dikwels versuim om aan ons sosiale, intellektuele en menslike behoeftes as stadsinwoners te voldoen; en ons dus deur die groot stede ingesluk word.
’n Mengsel van apatie, apartheidsera stadsbeplanning, vrees en luiheid veroorsaak dat ons ons wend tot winkelsentrums, oral heen ry met ons motors, en “leef” agter hoë mure. Dít, in plaas daarvan om ons stede se ryk kulturele rykdom te verken.
Ons mis uit op juis dít wat dit beteken om in ’n stad te woon, die essensie daarvan. Ons voer al meer ’n wegkruip-bestaan, maar hunker na meer.
Gareth verduidelik ook dat dit nie slegs ’n Suid-Afrikaanse verskynsel is nie, maar ’n wêreldwye verskynsel in die meeste moderne Westerse stede. Ons hunker al meer na betekenisvolle sosiale ervarings wat sinvol is.
First Thursdays is gewild omdat dit aan mense die platform bied om ’n betekenisvolle omvangende kulturele ervaring te beleef deur meer oor kuns, kultuur en geskiedenis te leer en ook sosiaal te verkeer. ’n Verrykende ervaring.
So hoe gemaak as jy nog nie vantevore First Thursday bygewoon het nie? Maklik! ’n Kaart van die middestad waarop al die deelnemende galerye, museums, winkels en restaurante aangedui word kan gratis by galerye gekry word.
Die kaart sal jou dus wys wat al die hoogtepunte is en jou help om jou roete te beplan. Dit help ook om in Kerkstraat te begin.
Hoewel First Thrusdays oor die hele middestad versprei is, vind die meeste van die aksie tussen Waal- en Strandstraat plaas, met talle van die galerye veral in Kerkstraat. Werk dus deur Kerskstraat en beweeg dan na die ander strate.
Breestraat is weer bekend vir oulike drink- en eetplekkies, so as jy lus is vir iets te ete of drinke kan jy nie verkeerd gaan met Breestraat nie.
Die binnekant van 99 Loop op die hoek van Loopstraat en Kerkstraat (Foto: 99 Loop Gallery)
Sommige van die galerye wat deelneem en besoek kan word, sluit in die Book Lounge in Roelandstraat, 99 Loop op die hoek van Loopstraat en Kerkstraat, EBONY/Curated in Loopstraat, SMITH in Kerkstraat en the Cape Gallery ook in Kerkstraat.
Hoogtepunte van Julie se First Thursday sluit in aspect: ratio ‒ Gallery MOMO se vyfde jaarlikse video-uitstalling met kurator Keely Shinners, Re-Imagined Realities by Open 24 Hours, Supermoon, Nathan Vuuren se eerste solo-uitstalling by 99 Loop en Die Berg is Geduldig ‒ Rentia Retief se eerste solo-uitstalling by EBONY/Curated wat houtskool-kunswerke insluit.
Elke maand verskil die uitstallings, so hou First Thursdays of die verskeie galerye se webtuistes dop.
Lus vir museums? Besoek die SA Sendinggestig Museum in Langstraat, die Cape Town Holocaust & Genocide Centre in Hatfield-straat of die Groote Kerk.
SMITH in Kerkstraat (Foto: SMITH)
Wat restaurante betref, stel Kaapstad ook nie teleur nie, daar is ’n wye verskeidenheid restaurante wat insluit die Japanese Tjing Tjing Rooftop, House of Machines, Secret Gin Bar en Village Idiot. Besluit waarvoor jy lus het, en kies daarvolgens.
Innoverende fynbos gegeurde drankies by die Botanical Bar of dalk ’n Rock ’n Roll atmosfeer by Aces and Spades? Daar is selfs Veganistiese opsies beskikbaar, met plekkies soos Lekker Vegan en Plant wat slegs Vegan-geregte verkoop. Maak ook seker jy vra of die betrokke plek dalk ’n First Thursday spesiale aanbod het.
Kunswerke in SMITH in Kerkstraat (Foto: SMITH)
Een ding is seker, voor jy jou kan kry is die aand verby ‒ daar is net te veel om jou besig te hou. Of jy nou belangstel in kuns, mode, dekor of slegs in die bui is vir ’n drankie by ’n nuwerwetse of interessante plekkie en om sosiaal te verkeer, First Thursdays het iets vir almal.
Besoek First Thursdays se webtuiste vir meer inligting oor wat elke maand se First Thursdays gaan bied en ook hulle Facebook-blad.
- Foto's met toestemming van die galerye gebruik