Een van die getuies wat voor die Zondo-kommissie verskyn het om oor staatskaping te getuig, het landuit gevlug uit vrees vir sy lewe en sê hy het geen beskerming van die regering ontvang nie.
’n Voormalige etiekdosent aan die Universiteit Kaapstad (UK), Athol Williams, sê hy is gedwing om die land te verlaat weens vrese vir sy veiligheid nadat hy die fluitjie geblaas het oor maatskappye en individue wat by staatskaping betrokke is.
Williams, wat ook ’n bekroonde skrywer is, sê in ’n verklaring dit is ’n tragedie dat diegene wat kies om die regte ding te doen, se lewens verpletter word terwyl almal toekyk.
“Om te weet dat die regering my geen beskerming bied nadat ek in die openbare belang opgetree het nie, is ’n ontstellende werklikheid. Ek het 39 partye in my getuienis geïmpliseer en die dreigemente kan van baie oorde kom. Nadat ek waarskuwings van betroubare bondgenote en ’n burgerlike organisasie ontvang het oor ’n gekoördineerde poging teen my, het ek die hartseer stap gedoen om die huis te verlaat, weer sonder enige hulp.”
Williams beweer in sy verklaring hy is deur die regering, die universiteit waar hy etiek doseer het en deur baie vriende in die steek gelaat.
Athol Williams, state capture whistle-blower, has left the country after growing concerns for his safety. Below is his statement released this evening: pic.twitter.com/mHPd6fkZkV
— Eusebius McKaiser (@Eusebius) November 7, 2021
Hy sê hy het alle bronne van inkomste verloor en moes van sy besittings verkoop om sy verpligtinge na te kom. Dit sluit die finansiering van sosiale projekte soos Read to Rise in wat jaarliks met 20 000 kinders werk.
“My gesondheid en reputasie het ernstige skade gely. Nou het ek ook my huis verloor omdat ek gedwing is om te vlug uit die einste land wat ek wou verdedig. Ek voel diep hartseer wat my in trane laat. Ek skud my kop en vra: Hoe het dit so gebeur?”
’n Emosionele Williams sê in sy verklaring hy het op Maandag 1 November 2021 elke lid van sy onmiddellike familie in trane omhels en gegroet voordat hy op die vliegtuig geklim het.
Hy sê as hy by die huis gebly het, was daar ’n goeie kans dat hy stilgemaak sou word, maar hy sal voortgaan om vir waarheid te pleit en die saak van geregtigheid te bevorder, maak nie saak hoe ver van die huis af hy is nie.
Williams het in Junie ook beweer die Universiteit Kaapstad het hom geld aangebied as hy sou ophou vra of die universiteit maatskappye gebruik wat in staatskapingsbewerings vasgevang is.
Die universiteit ontken die bewerings en sê Williams verdraai feite en dat hulle hul bes probeer het om sy bekommernisse te akkommodeer.
Volgens Williams verloor die land die stryd teen korrupsie omdat Suid-Afrikaners verkies om stil te bly wanneer hulle moet praat. “Ek verstaan hierdie stilte. Ons hoef net na Babita Deokaran se lot te kyk en na die verwoestende ervarings van fluitjieblasers om die vrees te verstaan. Dit is hoekom ons mense met morele moed nodig het, diegene wat die regte ding sal doen selfs wanneer hulle gevaar in die gesig staar.”
Volgens Williams heers daar ’n baie gevaarlike situasie in Suid-Afrika waar die narratief aanvaar word dat slegs ’n paar slegte appels by staatskaping betrokke is. Hy sê die realiteit is dat daar baie belangrike en invloedryke mense op rade en kommissies dien wat by korrupsie baat.
“Die korrupte web strek oor ons hele samelewing en ons het dapper optrede nodig om dit uit te roei. Dit begin by elkeen van ons. Daag diegene rondom jou uit om met hul gewete en met moed op te tree,” sluit Williams sy verklaring af..
Lees Williams se volledige verklaring hier.