Titel: Die mooiste meisie van Genua
Outeur: Ilja Leonard Pfeijffer (uit Nederlands vertaal deur Fanie Olivier)
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781485309253
Hierdie resensie is op 18 Maart 2020 in Boekkeuse olv Amanda Botha uitgesaai.
Die motto voorin waarsku tereg: Genua neem maar gee niks terug nie. Wees dus gewaarsku: Hierdie roman verg meer van die leser as net lekkerlees vir ontspanning. ’n Bereidwilligheid om ’n bietjie op die internet te snuffel en kreatief met die simbole en metaforiek om te gaan, sal egter ryklik beloon word met ’n vars kyk op historiese en eietydse kwessies, aangebied in verlokkende, hoewel soms onthutsende, taal en beskrywings.
Ilja Leonard Pfeijffer is op 17 Januarie 1968 in Rijswijk, Nederland gebore. Hy bestudeer en doseer Klassieke Grieks aan die Universiteit Leiden en debuteer in 1998 met ’n digbundel getiteld Die vierkantige man. Hy publiseer daarna verskeie digbundels, romans en akademiese artikels en verwerf ’n lang lys toekennings, onder andere die Libris- en Inktaap-letterkundepryse vir La Superba, wat in Afrikaans as Die mooiste meisie van Genua verskyn het. Pfeijffer word gereken as een van Nederland se toonaangewende eietydse digters, maar hy verwerf notoriteit weens ’n artikel waarin hy pleit vir “gewaagde metafore, vernuwende woordkombinasies, ongebruiklike woorde of verontrustende sintaksis”.
Daarby skroom hy nie om sy sê te sê, vyande te maak en opsetlik omstrede te wees nie – hy poseer byvoorbeeld poedelnakend op die agterblad van ’n digbundel.
Die mooiste meisie van Genua is ’n postmodernistiese metaroman, oftewel ’n roman oor ’n roman. Pfeijffer het in 2008 na Genua verhuis nadat hy en sy Russiese meisie, die fotograaf Gelya Bogatishcheva, op die ingewing van die oomblik ’n fietstoer deur Rome afgelê het. Die verteller in die roman is eweneens ’n beroemde skrywer uit die noorde wat uit verveling in Genua beland. Om te probeer inpas, verander hy sy tweede naam, Leonard, na die Italiaanse “Leonardo” en koop hy ’n paar Italiaanse somerpakke, hemde volgens maat, ’n verfynde paar skoene, so sag soos botter, maar so skerp soos ’n mes, en ’n regte panamahoed.
Pfeijffer speel egter ’n speletjie met die leser. Leonard en Leonardo is soms dieselfde persoon en dan weer verskillende karakters – ’n kenmerk van die onbetroubare verteller, oftewel “the unreliable narrator” (’n literêre term wat in 1961 deur Wayne C. Booth geskep is in sy seminale werk The rhetoric of fiction). Outeurs gebruik onbetroubare vertellers om spanning te skep deurdat die leser op sy tone moet bly om die verteller uit te vang wanneer hy lieg en veral wil agterkom hoe en hoekom hy ons manipuleer. Alle fiktiewe vertellers lieg uiteraard, maar die onbetroubare verteller is spesifiek ontrou aan sy teikenlesers en hulle opvatting van die teks se geskepte werklikheid. Die verteller sê dan ook: “In die vaderland is ek Ilja, wat kennis dra van die samestelling van kameraspanne, en hier in die labirint is ek Leonardo, wat verlof het om te verdwaal in my fantasie sonder dat dit onmiddellik gepaard hoef te gaan met ’n snedige verantwoording in een van die landelike geselsprogramme.”
Die roman bevat drie dele wat deur twee intermezzo’s onderbreek word, naamlik die verhaal van Donald Perrygrove Sinclair, ’n Engels-professor wat sy eie verhaal versin en wat die “pruttende Engelse kolonialisme” verteenwoordig, en daarteenoor die verhaal van Djiby P. Souley as verteenwoordigend van die Senegalese bootvlugtelinge en hulle lewensgevaarlike reis, wie se hoop op ’n paradys deur die harde Genuese werklikheid gestuit word.
Pfeijffer plaas dan die geskiedenisse van die hedendaagse immigrante (homself inkluis) teenoor die lot van die sowat vier miljoen Italiaanse kleinboere wat tussen 1880 en 1920 na La Merica verhuis het met die hoop op die “American dream”, waar jy glo “’n nuwe Mercedes koop as die asbakkie vol is”. Genua moes oor die afgelope 25 jaar verskeie “migrasie-tsunami’s” vanaf Senegal, Bangladesj, Roemenië, Indië en Rusland absorbeer. Dié wettige maar werklose immigrante word hoofsaaklik in groot behuisingskomplekse van twyfelagtige kwaliteit in die Prè-woonbuurt gehuisves, maar die onwettiges skuil onder snelweë en in smal stegies met die gevolg dat die historiese stadskern, wat eens die glorieryke “La Superba” was, deesdae oortrek is met Afrika-stalletjies en politieke graffiti ter ondersteuning van asielsoekers wat net so onwelkom is soos die rotte waarteen die stad ’n futiele stryd voer en wat in 1346 die swart pes via Genua na Europa gebring het.
Die verteller sit op ’n terras voor die Kroeg met Spieëls en skryf ’n lang brief aan ’n vriend in sy tuisland waarin hy verslag lewer oor sy lewe as emigrant en ontdekker van die ware Genua. Hy raak verlief op ’n naamlose kelnerin en mettertyd word sy die maatstaf waaraan hy verskillende interessante vrouekarakters, asook vroulikheid as sodanig, meet.
Een nag struikel hy oor ’n vrouebeen, wat hy bemin en tot volledige liggaam fantaseer. Dit word dan ’n metafoor vir die “afskil” van die romantiese idee van Italië. Genua is afgelei van “genu”, Italiaans vir “knie”, en Genua is immers die “knie” van die Italiaanse “been”.
Die roman word dan as ’t ware self ’n “Kroeg met Spieëls” waarin die leser op verskeie vlakke deur gekaatste beelde van verskillende karakters, maar ook van homself en sy eie vooroordele, gekonfronteer word. Terselfdertyd word dit ’n labirint waarin die leser, soos die toeriste en inwoners van Genua, verdwaal en homself gedurig teëkom.
Op postmodernistiese wyse dekonstrueer Pfeijffer dus sy eie roman, maar ook die opvatting van vroulikheid en beskawing. In Genua ontdek (en ont-dek) die verteller ’n historiese stad van paleise, fonteine en marmerplaveisel, met daaronder die hedendaagse ellende van die miserabele vlugteling-immigrante wat onder brûe en spoggerige snelweë krepeer, waar “geen regdenkende mier met ’n gesin sal begin nie” en waar die waarskuwing “Knaagdierbeheer; moenie aanraak nie” ook op die menslike inwoners van toepassing word. Hy skryf dan aan sy vriend: “Ek raak steeds meer lus om ’n bietjie tyd deur te bring in die argiewe, en briewe en dagboeke op te diep wat onthul hoe dit werklik gegaan het en wat g’n enkele Italiaanse instituut dus sou waag om op sy webwerf te plaas nie. […] In elk geval, dit is materiaal wat van pas sou kon kom as ek hierdie aantekeninge, wat ek met ’n sekere reëlmatigheid aan jou stuur, gaan verwerk tot ’n roman waarin immigrasie en emigrasie sentrale temas moet word.”
Verskeie kritici verwys na die intertekstualiteit in die roman, wat jou laat wonder of dit blote toeval is dat daar werklik ’n “mooiste meisie van Genua” bestaan het. Simonetta Vespucci van Genua is algemeen beskou as die mooiste meisie van haar tyd en was die model vir Sandro Botticelli se bekende skilderye Primavera en Die geboorte van Venus. Op die laasgenoemde skildery, wat uit ongeveer 1486 dateer, word Venus, wat uit die seesproei gebore is, deur Lente op Siprus verwelkom. Op p 353 sê die mooie kelnerin: “Ek is ’n Suidelike meisie, gebore uit die skuim van die Middellandse See, dogter van die Serenissima Repubblica di Genova wat geen meerdere erken nie en ek glo in liefde.” Sy word die verteller se muse en wanneer sy hom verlaat, skep hy ’n speletjie genaamd “meisiebranderry” waarin hy meisies agtervolg en só die stad verken. Só ontmoet ons dan die jong Cinzia wat hom na die ware hartklop van Genua se verrottende “underbelly” stuur, die “antrasietswart hoertjies wat hul wit tande in die swak wit vlees van mans inslaan” en Monia, die ouer seksbehepte alkoholis uit “hoë kringe” met “beklimbare bene” wat “ruik na beskikbaarheid”.
Dan is daar die gedaante van ’n ou vrou wat aanwysings vra na die Vico dei Librai, wat reeds in 1942 deur ’n Engelse bom verwoes is, en nou ronddwaal soos die spook van die majestueuse handelstad wat Genua eens was. En dan is daar uiteindelik Ornella, die transvestiet en eienaar van die been wat hy eens bemin het, wat sy opvatting van vrouwees uitdaag en die roman op ’n verrassende noot laat eindig.
Hoogtepunte van hierdie verrykende leeservaring is die fyn waarneming en verbysterende beskrywings, die skalkse (hoewel soms kru) humor, die meesleurende beelde wat soms tot klein allegorieë uitgebrei word, en die heerlike woordvondste wat aan Fanie Olivier se vaardige vertaling toe te skryf is. Hierdie roman is ’n ontdekkingstog vir die intellek en die siel, veral vir die leser wat met behulp van die internet nuwe plekke en ervarings verken.
Buro: MvH