President Emmanuel Macron van Frankryk was een van vele prominente figure regoor die wêreld wat hulde gebring het aan Breyten Breytenbach, wat Sondag oorlede is.
“Bryeten is op die ouderdom van 85 vreedsaam in Parys (Frankryk) oorlede met sy vrou Yolande aan sy sy,” het Breytenbach se familie in ’n verklaring gesê.
Breyten se dogter, Daphnée, het ook hulde gebring aan haar pa nadat sy dood Sondag aangekondig is.
In ’n kort huldeblyk het Daphnée op Instagram geskryf sy het nie woorde om hom te beskryf nie.
“Ek het nie die woorde nie. Ek het nog nie die woorde om alles te sê wat hy was nie. Hy laat ’n groot leemte. Hy was die mees uitsonderlike wese wat ek nog ooit geken het. Ek is geweldig trots om hom my pa te noem.”
Saam met haar boodskap was daar foto’s van haar en haar pa asook sy twee kleinseuns.
Daphnée het ook met die Franse media oor Breytenbach se dood gepraat. Hy was ’n enorme kunstenaar, militant teen apartheid, en het geveg vir ’n beter wêreld tot die einde toe,” het sy aan AFP gesê .
“Sy woorde, sy skilderye, sy verbeelding, sy veerkragtigheid sal ons aanhou lei,” het sy dogter gesê.
Sy sê hulle word oneindig geraak deur die woorde van die president van die Franse Republiek, Emmanuel Macron, wat hulde gebring het aan die lewe en werk van haar pa.
“Frankryk het so ’n belangrike rol gespeel in sy lewe, in sy stryd, in sy ontwaking tot die ongeregtighede van die wêreld. Dit was bowenal die land van sy asiel. Ons sal dit nie vergeet nie,” het die Franse president gesê.
Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het op X gesê hy sal nooit vergeet hoe Breyten dit ’n jaar gelede geniet het om op die maat van Brenda Fassie se “My president” saam met Fassie se familie te dans het nie.
I’ll never forget this moment, just a year ago, watching Breyten Breytenbach dancing in delight to Brenda Fassie’s “My President”, with Brenda’s family. This was just after the ceremony in which he received Civic Honours from Cape Town for his extraordinary contribution to poetry… pic.twitter.com/AdtKGyNPBn
— Geordin Hill-Lewis (@geordinhl) November 25, 2024
Dit was net ná die seremonie waartydens hy ereburgerskap van Kaapstad ontvang het vir sy buitengewone bydrae tot poësie en letterkunde.
“Ek is so bly dat ons hom in sy leeftyd kon vereer. Vandag vier ons die lewe van ’n poëtiese reus, Breyten Breytenbach,” het Hill-Lewis gesê.
Voor daardie seremonie het hy vir Breytenbach gevra of hy ’n gedig vir die geleentheid sou skryf. Hier is ’n deel van wat hy geskryf het: “Die witwolk stort vir die soveelste keer haar hart weldadig uit oor Tafelberg … verganklikheid is ’n geboortereg, tereg! Dis juis dáárom dat ons die droom bly veg wat hier iets verstaan het van saam mekaar-andersmaak.”
Breytenbach word oorleef deur sy vrou, Yolande, dogter Daphnée en twee kleinseuns.
Die familie sê in ’n verklaring hulle waardeer die ondersteuning en meegevoel wat gedurende hierdie moeilike tyd ontvang word en versoek privaatheid terwyl hulle begrafnisreëlings finaliseer. Besonderhede sal mettertyd gedeel word.
Die DA sê in ’n verklaring hulle neem met leedwese kennis van die afsterwe van die bekroonde Afrikaanse skrywer, digter, skilder en anti-apartheid kampvegter, Breyten Breytenbach.
🕊️ The DA mourns the loss of Breyten Breytenbach, a literary giant, anti-apartheid activist, and unwavering champion of democracy. His profound contributions to SA’s history and legacy of humanity will never be forgotten. We extend our heartfelt condolences to his loved ones. pic.twitter.com/QyiMRdKv7a
— Democratic Alliance (@Our_DA) November 25, 2024
“Breytenbach word wyd beskou as een van Afrikaans se belangrikste digters en is deur sy lang loopbaan bekroon met onder andere die Zbigniew Herbert Internasionale Letterkunde-prys (2017) en die Alan Paton-prys vir letterkunde,” sê die party se woordvoerder oor justisie en grondwetlike ontwikkeling, Glynnis Breytenbach.
Weens sy anti-apartheidsaktivisme is Breytenbach in 1975 gearresteer, van hoogverraad ingevolge die Wet op Terrorisme aangekla, en tot nege jaar tronkstraf gevonnis.
#BreytenBreytenbach — Prisoner of apartheid rulers. - Anthony Akerman https://t.co/4pQ4hoB3D4
— Pauli Van Wyk (@PaulivW) November 25, 2024
Hy is in 1982 vrygelaat en is na Frankryk, waar hy ’n Franse burger geword het.
Die Suid-Afrikaanse skrywer Justin Fox het ook hulde gebring aan Breytenbach in ’n sosiale-media-plasing.
Extract: Paging through the album, I came upon Dad’s photos, faded images of a band of smiling hikers: Breyten Breytenbach with his blue hat, Jan Rabie, Daantjie Saayman, James Polley.
Buy PLACE: https://t.co/6OWou7BK8u@PenguinBooksSA
@Umuzites#BreytenBreytenbach #Cederberg pic.twitter.com/UevtaoYYDr— Justin Fox (@JustinFoxAfrica) March 4, 2024
Fox het gesê Breytenbach se werk het “die letterkunde en die kunste diep gevorm, beide in Suid-Afrika en in die buiteland”.
Sy werk het getuig van ’n onverdraagsaamheid teenoor onreg en minagting vir die wrede, korrupte leiers van beide die ou regime en die nuwe, het hy gesê.
“Breytie was geestig, saggeaard, vermaaklik en ’n formidabele intellek. Hy was van kleins af deel van my lewe,” het Fox gesê.
Breytenbach was bevriend met Fox se ouers en ooms, Francois en Uys Krige.
As Dakar-ganger en vriend van Frederik van Zyl Slabbert het Breyten sy ywer vir die totstandkoming van ’n demokratiese Suid-Afrika voortgesit en was hy tot onlangs nog betrokke by die Gorée Instituut in Dakar, Senegal, waar die aanvanklike samesprekings met die ANC plaasgevind het.
Breyten se digkuns is deurentyd gekenmerk deur menslikheid, wat die versinnebeelding van sy eie waardes en menswees was. Hy was iemand wat nie die dood gevrees het nie, en was deeglik bewus van sy verganklikheid, wat weerspieël word in sy tekort aan ego en selfbelang. In een van sy laaste bundels, die na-dood, skryf hy:
wanneer dit laat word in die lewe
en die aandster reeds teen die dalende dag
se skuinstes bewe
soos ’n hartklop
is elke kwashaal vry
elke woord onbesonne los
van sin en sinne se dop.
“Mag jy die uiterste vryheid nou beleef, liefste Breyten. En dankie. Die DA dra ook ons medelye oor aan sy geliefde Yolande,” skryf die DA in hulle verklaring.
Lees ook:
Persverklaring: Huldeblyk aan Breyten Breytenbach, ’n pionier in Afrikaanse Letterkunde