Gary Player is keelvol vir misdaad

  • 0

Die Suid-Afrikaanse gholflegende Gary Player het hom by ’n al groter wordende koor Suid-Afrikaners aangesluit wat protes aanteken teen die vlaag van geweld en misdaad in die land.

Die 84-jarige het die afgelope naweek tydens sy uitdaag-gholftoernooi by Sun City ’n ernstige pleidooi gelewer dat die spiraal van geweld in die land, wat besig is om buite beheer te raak, verbreek word.

Gary Player (Foto: Wikimedia Commons)

Player sê Suid-Afrika is ’n buitengewone en merkwaardige land en die enigste ding wat hom hartseer maak, is om te sien hoe die geweld ook die toerismesektor in die land benadeel.

Hy sê toerisme is een van die belangrikste bedrywe wat Suid-Afrika op die oomblik nodig het. Buitelanders is egter bang om hier te belê as gevolg van die hoë vlak van misdaad. Player sê dit het tyd geword dat Suid-Afrikaners opstaan en hulle stemme dik maak oor misdaad omdat dit almal in die land raak.

Volgens ’n onlangse Gallup-meningspeiling is Suid-Afrika een van die lande in die wêreld wat as minder veilig beskou word. Volgens die jongste Gallup-indeks het Suid-Afrika gedaal tot een van die vyf lande wat die slegste af is ten opsigte van misdaad uit 142 lande. Die vier lande wat slegter af is as Suid-Afrika is Liberië, Gaboen, Venezuela en Afganistan.

Player het die naweek gesê ter wille van die land se kinders moet Suid-Afrika sy huis in orde kry. “Daar lê ’n uitdaging voor ons en almal het ’n rol om te speel om hierdie uitdaging die hoof te bied,” het Player volgens Times Live gesê. Hy sê mense word in die land vermoor en dan hoor mens nooit weer daarvan nie. “Ons het ’n fenomenale land maar elkeen het ’n plig om na te kom.”

Netwerk24 het ook berig oor Player se uitlatings dat misdaad die land geweldige skade berokken. Hy het onder andere gesê as oud-president Nelson Mandela vandag kon sien wat hier in Suid-Afrika aangaan, sou hy gehuil en baie hartseer gewees het.

Intussen het president Cyril Ramaphosa Maandag gemaan dat diegene wat voortgaan om hulle skuldig te maak aan geslagsgeweld, moet weet dat hulle dae getel is. Hy het vanjaar se sestien dae van aktivisme-veldtog teen geweld teen vroue en kinders van stapel gestuur by die Witpoort-polisiestasie in Lephalale in Limpopo.

Ramaphosa sê misdadigers het geen agting vir die regte van die gemeenskap se mees kwesbare mense nie. Tientalle vroue en kinders in die land is sedert die begin van die jaar mishandel, verkrag en vermoor. Die veldtog eindig op 10 Desember.

Die president het ook verlede week in sy weeklikse nuusbrief gesê die regering werk tans aan planne en inisiatiewe om die land se hoë misdaadsyfer aan te spreek. Dit sluit strenger wetgewing en meer polisiebeamptes in.

Tientalle vroue in swart geklee het Maandag opgeruk na die hof vir seksuele oortredings in Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal. Hulle dring aan op strenger vonnisse vir verkragters. Die optog is gereël deur die nie-regeringsorganisasie, LifeLine, wat hulle beywer vir die regte van slagoffers van geslagsgeweld.

’n Direkteur van LifeLine, Sinikiwe Biyela, sê hulle betoog by dié hof omdat ’n groot aantal slagoffers in die steek gelaat word. Biyela sê verkragtingsake is aan die orde van die dag omdat oortreders nie swaar genoeg gestraf word nie.

Ramaphosa sê diegene wat hulle skuldig maak aan misdaad teen vroue en kinders moet weet hulle gaan gevang en voor die howe gedaag word. Hy sê geweld teen vroue en kinders het ’n plaag geword wat met wortel en tak uitgeroei moet word.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top