Gatvol Kapenaars neem stad op horings

  • 0

Verkeer en treindienste in Kaapstad is Maandag ontwrig toe betogers op verskeie plekke in die Moederstad protes aangeteken het teen die toestande waarin agterplaasbewoners op die Kaapse Vlakte woon.

Die polisie en Stad Kaapstad se wetstoepassers het hulle hande vol gehad om die orde te handhaaf. Die stadsraad sê in ’n mediaverklaring hulle moes die afgelope week spandeer om orde te handhaaf, te midde van ’n toename in gewelddadige protes en verwante kriminele optrede in verskeie dele van die metropool.

Optogte het op verskeie plekke in die stad opgevlam. Wetstoepassers moes die afgelope week op 48 betogings reageer. Verskeie mense is tydens die operasies gearresteer, 18 van die stad se personeel is beseer en verskeie voertuie is beskadig.

Die stadsraad het Maandag ook alle vullisverwyderingsdienste opgeskort uit vrees dat die personeel en voertuie onder die oproerige betogers gaan deurloop.

Kaapstad word reeds weke lank deur betogings geteister wat verband hou met onwettige grondbesetting en behuising in plekke soos Delft, Khayelitsha, Mfuleni en Kraaifontein.

Van die betogers het reeds verlede week op Twitter gewaarsku hulle gaan die stad tot stilstand dwing. Hulle sê bruin mense word gemarginaliseer, terwyl hulle die oorspronklike inwoners van die stad en die provinsie is.

Die drukgroep Gatvol Captonian sê hulle is gatvol vir werkloosheid, bendes en om in agterplase te moet woon. Videos van die betogers waarin hulle Kapenaars oproep om hulle te steun is oral op sosiale media versprei.

Die EFF het ook betoog en eis dat grondonteiening sonder vergoeding verhaas moet word. Die Kaapstadse burgemeesterskomiteelid vir gesondheid, Zahid Badroodien, het ’n beroep gedoen op betogers om nie infrastruktuur te teiken te midde van die stryd teen die koronaviruspandemie nie. ’n Kliniek in Khayelitsha waaraan daar onlangs aanbouings van ’n miljoen rand gedoen is, is tydens protesoptrede die naweek aan die brand gesteek.   

RSG berig mense wat met COVID-19 gediagnoseer is, sou by die kliniek behandel kon word en ook in afsondering kon gaan. Badroodien het aan die radiostasie gesê hoewel die betogers se klagtes belangrik is, is dit ’n groot slag vir die gemeenskap as infrastruktuur beskadig word. Die kliniek sou ’n aansienlike groep mense in die gemeenskap, waar die virus ’n groot bedreiging inhou, kon bedien.

Foto: Pixabay.com

Die Cape Coloured People’s Congress het intussen protesgangers versoek om nie wetteloos op te tree nie en vreedsaam te betoog oor hul griewe, soos swak dienslewering en bende- en geslagsgeweld. Minstens vyf mense is vroeër in Bishop Lavis in hegtenis geneem. Verkeer in die Kaapstad-omgewing is ontwrig, maar volgens die verkeershoof, Kenny Africa, is verkeer op die meeste hoofpaaie nie geraak nie. ’n Leier van die betogers, Fadiel Adams, sê hulle is tevrede met die protesgangers se vreedsame gedrag, ten spyte van die polisie se intimidasie en uitdagende optrede.

“As al die bruin mense vir een party stem kan hulle die Wes-Kaap regeer en dit is tyd dat bruin mense op hulle regte moet staan want genoeg is genoeg. Ons is klaar daarmee om iemand baas te noem en uitrangeer te word vir werk en huise en wil nie vir die wit DA stem nie,” het een van die ontevredenes op Twitter getwiet.

Ander mense het weer uitgevaar teen diegene wat uit die Oos-Kaap kom om hulle in die Kaap te vestig en sê die ANC is verantwoordelik vir die probleme.

’n Polisiewoordvoerder, Novela Potelwa, het Maandag aan die media gesê die polisie is op ’n hoë gereedsheidsgrondslag as gevolg van die betogings. Sy sê die sporadiese voorvalle van openbare geweld wat op verskillende plekke in die Kaapse metropool plaasvind is kommerwekkend en nog hulpbronne word gemobiliseer om wetteloosheid te bekamp.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top