Duisende inwoners van Gauteng staar opnuut werkloosheid in die gesig nadat die provinsie se werkskeppingsprogram, die Nasi iSpani-program van premier Panyaza Lesufi, glo besig is om in duie te stort.
Die program, wat aan duisende mense werk verskaf, is voor die verkiesing deur opposisiepartye bestempel as niks anders as ’n “foefie” om niksvermoedende kiesers te lok om vir die regerende party in die provinsie te stem nie.
Talle werknemers wat deel was van die programme, is die afgelope week in kennis gestel dat hulle kontrakte nie hernu sal word nie.
Die DA sowel as ActionSA in Gauteng het skerp reageer op die nuus dat duisende Gautengers opnuut werkloos sal wees.
Die DA se leier in Gauteng, Solly Msimanga, sê duisende inwoners van Gauteng wat in diens is van Lesufi se Nasi iSpani-program, sal nou die swaarkry van werkloosheid in die gesig staar aangesien die swak beplande werksprogram verbrokkel weens ’n gebrek aan finansiering.
ActionSA het in hulle reaksie gesê hulle is nie verbaas om te verneem van die ineenstorting van Lesufi se “iSpani-werkfoefie” kort na die verkiesing nie. Hulle sê hulle het ’n brief van die Gautengse regering gesien waarin “alle Green Army-deelnemers” ingelig word dat hul kontrakte op 31 Mei 2024 tot ’n einde gekom het.
The collapse of Panyaza Lesufi’s Nasi iSpani mass employment scheme just two days after the elections proves that it was an election gimmick with no genuine intention of creating jobs.https://t.co/KICDbJ9xZQ
In a country with an over 60% youth unemployment rate, it is…
— ActionSA (@Action4SA) June 27, 2024
In ’n memorandum gedateer 25 Junie 2024 wat onderteken is deur die waarnemende hoof van die Departement van Landbou, Landelike Ontwikkeling en Omgewingsake, word Green Army EPWP-deelnemers ingelig dat hul kontraktuele ooreenkoms met die departement op 31 Mei 2024 geëindig het. Volgens die memorandum sal daar ook vertragings wees in die betaling van toelaes vir die werk wat deelnemers in Junie voltooi het weens “administratiewe en sistematiese prosedures”.
Lesufi het op X gesê die brief van die Gautengse regering wat die werknemers in kennis stel dat hulle kontrakte nie hernu word nie, is sonder sy toestemming of goedkeuring geskryf. Volgens hom is die bedoeling duidelik om die gesag van sy administrasie te ondermyn en sê dit sal nie geduld word nie.
Someone is too excited. This letter was written without my consent or approval. The intentions are clear to undermine the authority of the 7th administration. This, will not be allowed! pic.twitter.com/5yTKc1TqPi
— Panyaza Lesufi (@Lesufi) June 26, 2024
Die Departement van Onderwys in Gauteng het intussen ook ’n memorandum op 12 Junie 2024 uitgereik wat die Gautengse Jeugbrigade-program-werknemers daaraan herinner dat hul kontrakte op 30 Junie 2024 eindig. Die departement het egter op 19 Junie 2024 ’n terugtrekking uitgereik waarin vermeld word dat nuwe inligting oor die program se status gekommunikeer sal word voor die heropening van skole.
Die Nasi iSpani-massawerwingsprogram is met sy totstandkoming in Junie verlede jaar deur die ANC bestempel as ’n eerste in sy soort wat mense hernude hoop gee om werk te kry.
Msimanga sê in sy verklaring die DA het Lesufi sedert die aanvang van hierdie program herhaaldelik gewaarsku dat die Gautengse provinsiale regering nie voldoende fondse het om die program te onderhou nie.
Someone is too excited. This letter was written without my consent or approval. The intentions are clear to undermine the authority of the 7th administration. This, will not be allowed! pic.twitter.com/5yTKc1TqPi
— Panyaza Lesufi (@Lesufi) June 26, 2024
“Die ineenstorting van Nasi iSpani wys dat werksgeleenthede vir die meer as 2,5 miljoen werklose Gautengse inwoners, van wie baie jeugdiges is, nie geskep kan word deur swak beplande korttermynprogramme nie. Polities geïnspireerde programme wat nie op lang termyn volhoubaar is nie as gevolg van begrotingsbeperkings, sal die mense wat broodwinners is, afhanklik maak van hierdie kontrakte en hulle vertroue in die regering verminder,” het Msimanga gesê.
Die DA eis dat Lesufi Gautengers in sy vertroue neem en die mislukking van die Nasi iSpani-program erken. Die party sê die mense van Gauteng verdien ’n werkskeppingstrategie waarvoor goed beplan en begroot is, nie foefies nie.
ActionSA se provinsiale koukusleier in Gauteng, Funzi Ngobeni, sê hulle het Lesufi ook herhaaldelik gewaarsku om nie die desperaatheid van miljoene jongmense vir sy selfsugtige politieke ambisies uit te buit nie.
“In plaas daarvan het premier Lesufi sy foefies verdubbel met die bekendstelling van nuwe indiensnemingskemas soos Aga le Rona Road-werkers en Sawbona Mhlali, om net ’n paar te noem.”
Volgens ActionSA het dit duidelik geword dat hierdie massa-indiensnemingskemas nie geskep is met die opregte bedoeling om werk te skep nie, maar dat dit die ANC se verkiesingstaktiek was. Ngobeni sê in ’n land met ’n jeugwerkloosheidsyfer van meer as 60% is dit ontmoedigend om te sien hoe politici los en vas omgaan met die lewensbestaan van jongmense.
Selfs die stoere ANC-ondersteuner “Goolam” wat gereeld kommentaar lewer op X, sê hy het gewaarsku dit is ’n verkiesingsfoefie van Lesufi en dat die programme nie volhoubaar is nie. Hy sê daarvoor is hy verguis en deur Lesufi geblok op X.
“Ons het gesê dit is net verkiesingspraatjies en sal nie volhoubaar wees nie. Ons het onmiddellik ná die verkiesing gesê dit sal heeltemal in duie stort. Ons is verguis. Ons is name genoem. Ons is deur Panyaza Lesufi geblokkeer maar ons was almal reg. Jammer vir die jeug dat Lesufi hulle vir sy eie politieke gewin gebruik het,” het hy op X geskryf.
PANYAZA LESUFI'S NAS'ISPANI HAS COLLAPSED.
We told you it was just electioneering from him and will not be sustainable. We said immediately after elections it will completely collapse. We were maligned. We were called names. We were blocked by Panyaza Lesufi. We were all… pic.twitter.com/n2ZoNkkwY8
— Goolam (@goolammv) June 26, 2024