Gebeure in ANC is "malligheid" sê politieke ontleders

  • 0

Die handskoene in die ANC se opponerende faksies is behoorlik af. Dit volg nadat die party se geskorste sekretaris-generaal, Ace Magashule, gepoog het om sy leier en president, Cyril Ramaphosa, Woensdagaand óók uit die party te skors.

Die paleisrevolusie in die ANC het breekpunt bereik nadat Magashule vroeër die week per brief in kennis gestel is dat hy uit die party geskors word hangende die uitslag van sy hofsaak. Hy word aangekla van korrupsie, bedrog en geldwassery wat verband hou met ’n asbeskontrak van R255 miljoen in die Vrystaat terwyl hy die provinsie se premier was. Hy is borgtog van R200 000 toegestaan. Magashule hou egter vol hy is onskuldig.

Die Mail & Guardian het Donderdag berig dat ANC-amptenare ’n dringende vergadering belê het om die jongste verwikkelinge in die diep verdeelde organisasie bespreek. Ramaphosa was glo woedend oor Magashule se skorsingsbrief aan hom. Hy dring volgens Mail & Guardian se bronne aan dat daar nou nog strenger teen Magashule opgetree word.

Die meeste politieke ontleders is dit eens dat Magashule al hoe meer geïsoleerd raak in die ANC se gesagstrukture. Hulle sê sy uitdagende brief aan Ramaphosa was die laaste strooi en gaan hom verder in die pekel laat beland.

In die skorsingsbrief wat vroeër die week aan Magashule oorhandig is, word hy in kennis gestel dat hy hom gedurende sy skorsing nie oor enige ANC-aangeleenthede in die openbaar mag uitlaat nie. Hy mag ook nie enige ANC-takke of strukture mobiliseer oor die besluit om hom te skors of ander verwante aangeleenthede nie.

Die brief lui verder dat Magashule gedurende sy skorsing geen pligte of verantwoordelikhede van sy kantoor as sekretaris-generaal mag uitvoer nie. Die skorsingsbrief wat hy Woensdagaand in ’n rare terugvegpoging aan Ramaphosa gerig het, was dus ’n openlike uitdaging aan die ANC se gesagstrukture na sy tydelike skorsing.

Dit is algemene kennis dat Magashule se magsbasis op grondvlak by goedgesinde ANC-takke lê. Indien hy nie toegelaat word om hom in die openbaar oor enige ANC-aangeleentheid uit te laat nie, is hy basies polities ontman.

Hy en sy ondersteuners hou egter vol dat sy skorsing ongeldig is. Die woordvoerder van Umkhonto we Sizwe se Militêre Veterane-vereniging, Carl Niehaus, beweer ook dat die brief wat Magashule van sy skorsing in kennis stel, onwettig is. Niehaus sê die brief, wat deur Magashule se adjunk, Jessie Duarte, geskryf is, is onregmatig omdat sy nie enige seggenskap oor Magashule het nie.

Die ANC se voorsitter, Gwede Mantashe, het aan die ander kant in reaksie gesê Magashule het nie die mag om Ramaphosa te skors nie. Die ANC-veteraan Mavuso Msimang het in sy reaksie gesê die ANC moes Magashule al lankal geskors het, omdat dit die party se beeld skade berokken het.

RSG berig die politieke ontleder Ralph Mathekga bestempel die gebeure in die ANC as malligheid. Hy het op die program Spektrum gesê die twis in die ANC kan die organisasie duur te staan kom. Hy meen Magashule is besig om homself al hoe verder te isoleer en dat hy sy hand oorspeel het toe hy Ramaphosa sonder die steun van die nasionale uitvoerende komitee (NUK) eiehandig uit die party probeer skors het in ’n laataand-verklaring. Ander politieke kommentators meen ook Magashule se opdrag om Ramaphosa te skors is die werk van slegs een persoon en dat dit geen drakrag het nie.

Die ANC se parlementêre koukus het Donderdag tydens ’n koukusvergadering hulle volledige steun toegesê aan die skorsingsproses wat deur die NUK van stapel gestuur is en gevolglik aan Ramaphosa.

Een van die ANC se senior ministers en lid van die NUK, Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het haar in reaksie op Magashule se skorsing in ’n onderhoud met CNN ook sterk by Ramaphosa geskaar.

Pandor sê Ramaphosa wil die gebrek aan etiek en integriteit in die land aanspreek. Sy het aan CNN gesê almal wat aan korrupsie skuldig bevind word, hoort in die tronk.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top