Gebrek aan moedertaalonderrig knou wiskunde en wetenskap

  • 0

Die standaard van Suid-Afrikaanse leerders in graad 5 en 9 in wiskunde en wetenskap is steeds van die heel swakste in die wêreld.

Die skokkende stand van wiskunde en wetenskap in Suid-Afrikaanse skole word vervat in die resultate van die Trends in International Mathematics and Science Study (TIMSS) van 2019 wat Dinsdag bekendgemaak is.

Die studie toon hoe Suid-Afrikaanse leerders vergelyk met die res van die wêreld. Die resultate toon dat Suid-Afrikaanse leerders deurgaans onder die swakste drie lande tel. Die enigste twee provinsies wat goed presteer is die Wes-Kaap en Gauteng.

AfriForum sê in ’n verklaring hulle het met kommer kennis geneem van die resultate van die TIMSS van 2019, wat dié week bekendgemaak is.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, kan baie redes vir die wanprestasie aangevoer word, maar is een van die vernaamste probleme die gebrek aan moedertaalonderrig in die land.

“Veral in vakke soos wetenskap en wiskunde, waar leerders abstrakte begrippe moet bemeester, is dit noodsaaklik dat hulle vir so lank as moontlik in hulle moedertaal studeer om werklik te bemeester wat hulle leer. In ander vakke kan hulle dikwels lank wegkom daarmee om werk bloot te memoriseer, maar in wiskunde en wetenskap word die gebrek aan begrip al vroeg duidelik.”

Bailey sê dat Afrikaanse enkel-, dubbel- en parallelmediumskole van oor die land tans weer by AfriForum om hulp aanklop, aangesien provinsiale onderwysowerhede meedoënloos druk op hulle uitoefen om, onderskeidelik, ruimte vir Engelse leerders te skep, of meer Engelse leerders in te neem.

Hy sê internasionaal is bewys dat wanneer onderrig in twee tale binne een inrigting aangebied word, hetsy met parallel- of dubbelmediumonderrig, die dominante taal uiteindelik die enigste onderrigtaal word. Dit gebeur vinniger in dubbelmediumskole omdat die aanhoudende herhaling die leerders en onderwysers uitput. In parallelmediumskole neem dit langer, maar die uiteinde is gewoonlik dat daar teruggeval word na enkeltalige onderrig in die dominante taal, wat in die geval van Suid-Afrika Engels is.

Bailey sê die stelselmatige uitfasering van Afrikaanse onderrig is slegte nuus vir alle Suid-Afrikaners. “Volgens die 2011-sensus is minder as 10% van die land se inwoners moedertaalsprekers van Engels. Wanneer ’n taal wat reeds sterk in onderrig gevestig is, soos Afrikaans, onder druk van Engels swig, beteken dit dat die kans vir die ander nege amptelike tale om verder te ontwikkel, toenemend afneem. Uitslae soos dié van TIMSS 2019 bewys wat die uitkoms is – jongmense wat al minder indiensneembaar is wanneer hulle hul skoolloopbane voltooi, wat weer tot ernstige vaardigheidstekorte en ekonomiese inkrimping lei.”

“AfriForum moedig dus alle ouers aan om sterk standpunt ten gunste van moedertaalonderrig in te neem en gaan voort om op te tree om leerders se reg daarop te beskerm,” het Bailey gesê.

Die Wes-Kaapse minister van onderwys, Debbie Schäfer, sê in ’n verklaring die resultate van die TIMSS-studie bevestig dat die Wes-Kaap die provinsie in die land is wat die beste presteer ten opsigte van wetenskap en wiskunde.

Die Wes-Kaap en Gauteng het albei aansienlik beter gevaar as die ander provinsies. Die Wes-Kaap het ’n telling van 441 vir wiskunde en 415 vir wetenskap onder die graad 5’s behaal, teenoor ’n nasionale gemiddeld van 374 vir wiskunde en 324 vir wetenskap.

Gauteng het ’n telling van 410 vir wiskunde en 379 vir wetenskap ontvang.

Schäfer sê in haar verklaring die Wes-Kaap het verlede jaar saam met ses ander stede en streke, insluitend Gauteng, aan die normstellig vir graad 9’s deelgeneem.

Die provinsie is agt plekke hoër as die land in geheel vir wiskunde en ses plekke hoër vir wetenskap op ’n ranglys geplaas is.

Die WNNR se verklaring oor die TIMSS-verslag kan hier gelees word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top