Gedrukte koerante op hul sterfbed

  • 0

Baie van Suid-Afrika se gedrukte koerante is, soos op ander plekke in die wêreld, besig om hulle laaste asem uit te blaas.

Die jongste syfers soos verskaf deur die Audit Bureau of Circulations, of ABC soos wat dit algemeen bekend staan, toon ’n skokkende voortgesette daling in gedrukte koerante se sirkulasiesyfers die afgelope jaar.

Volgens die data van die laaste kwartaal in 2020 is daar geen omdraaikans meer vir gedrukte koerante nie. Die tegnologiewebwerf Tech Central sê die Suid-Afrikaanse koerantbedryf is op sy laaste bene wat gedrukte koerante betref.

“Die lang en stadige afname van dié sektor in Suid-Afrika het die punt van geen omdraaikans bereik,” berig die webwerf. Sirkulasiesyfers vir dagblaaie het oor ’n tydperk van slegs een jaar met gemiddeld 40% gedaal. Dit sluit nie die twee titels in wat verlede jaar in daaglikse gedrukte vorm ophou bestaan het nie. Volksblad in Bloemfontein kan sedert verlede jaar slegs digitaal gelees word en Diamond Fields Advertiser (DFA) in Kimberley verskyn nou slegs op Vrydae in gedrukte vorm.

Dit was veral die mediagroep Independent Media wat duisende koerantlesers verloor het. Die groep se gemiddelde daling in sirkulasiesyfers was meer as 60%.

Die koerant wat die grootste daling in sirkulasie getoon het die afgelope jaar, is die dagblad Pretoria News. Die koerant het ’n daling van 87% in sy sirkulasiesyfers gehad en verkoop tans slegs 1 957 koerante vergeleke met 9 942 ’n jaar gelede en 14 515 in die ooreenstemmende vierde kwartaal van 2016.

Sommige koerante het heelwat beter gevaar as die gemiddelde dalings. Goeie nuus vir ’n Afrikaanse koerant soos Die Burger in die Wes-Kaap is dat hulle veel beter vaar as die Engelse dagblaaie waarmee hulle meeding. Die Burger se sirkulasie het met slegs 7% gedaal teenoor die 62% van beide die Cape Times en Cape Argus die laaste kwartaal van 2020 vergeleke met die vorige jaar.

Wanneer mens die syfers oor ’n periode van vier jaar bekyk, word die kreeftegang van gedrukte koerante nog duideliker.

Die Cape Times se huidige sirkulasie is 9 643 en die Argus s’n is 8 932 vergeleke met Die Burger se 32 829. The Star se sirkulasie is die afgelope vier jaar gemiddeld 75% af en Cape Argus en Cape Times s’n ongeveer 70% elk.

Die Burger se susterkoerant Beeld in Gauteng se sirkulasie het in een jaar met 18% gedaal, maar sedert 2016 met 43%. Dié koerant se ABC-syfer is tans 23 823.

Vergelyk mens die gemiddelde syfers van 17 dagblaaie in die land, is hulle gesamentlike sirkulasie tans 60% laer as ’n jaar gelede.

Die dagblad waarvan die sirkulasie oor ’n tydperk van vier jaar die minste gedaal het, is The Citizen, waarvan tans sowat 30 000 per dag verkoop word, wat 19% minder is as die vorige jaar en 32% minder as in 2016.

Moneyweb wys op hulle webwerf daarop dat die afname in dagblaaie se sirkulasie geen nuwe of slegs ’n Suid-Afrikaanse verskynsel is nie. Baie lesers wend hulle wêreldwyd al hoe meer tot gratis webwerwe om hulle daaglikse nuus te kry. Naweekkoerante vaar ook nie beter as dagblaaie nie. Die Sunday Times se sirkulasie het byvoorbeeld binne een jaar met 44% gedaal.

Hoewel baie van die huidige dagblaaie in Suid-Afrika nie op lang termyn sal oorleef nie, beteken dit nie die einde van die mediabedryf nie. Volgens Moneyweb is daar steeds rede vir hoop.

Elektroniese koerante soos Daily Maverick, GroundUp, amaBunghane, News24 en Netwerk24, asook niswebwerwe soos Moneyweb, TechCentral en MyBroadband/BusinessTech kon reeds daarin slaag om lewensvatbare aanlyn besigheidsmodelle te skep.

Die vraag bly egter hoe die nuusbedryf daarin gaan slaag om genoeg mense te oorreed om vir aanlyn nuus te betaal en hoe digitale media genoeg adverteerders gaan lok om op lang termyn volhoubaar en lewensvatbaar te bly.

  • 0
Top