Gee kouevleis die koue skouer

  • 0

Suid-Afrikaners word aangeraai om voorlopig weg te bly van alle voorafverwerkte vleisprodukte soos polonie en ander kouevleise.

Dit volg na die uitbreek van die dodelike listeriose wat reeds byna 180 lewens geëis het.

Die minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi, het die naweek op ʼn nuuskonferensie in Johannesburg gesê alle verwerkte vleisprodukte moet vermy word omdat listeriose-besmetting oorgedra kan word na ander produkte waarmee dit in aanraking kom.

Verskeie produkte wat moontlik besmet is, is reeds van winkelrakke verwyder. Tiger Brands wat die houermaatskappy van Enterprise Foods is, sê verbruikers wat reeds van die kouevleis-produkte het, word aangeraai om dit nie te gebruik nie.

Die Enterprise-fabriek in Polokwane word verantwoordelik gehou vir die grootste uitbreiding van listeriose wat nog ooit in die wêreld uitgebreek het, het Motsoaledi gesê.

Intussen het die Shoprite-groep in ʼn verklaring gesê klante word genooi om enige van die kouevleisprodukte wat deur Enterprise Foods en Rainbow Chickens vervaardig is, terug te neem na hulle winkels, waar hulle ten volle vergoed sal word daarvoor.

Suid-Afrika se twee grootste supermarkgroepe Pick n Pay en Shoprite/Checkers het aangekondig dat hulle alle produkte wat moontlik met listeriose besmet is van hulle winkelrakke verwyder het.

Hoewel dit hoofsaaklik polonie is wat betrokke is, waarsku Motsoaledi dat daar ʼn gevaar van kruisbesmetting is wat beteken dat ander verwerkte vleisprodukte moontlik ook besmet kan wees.

Hy het bevestig die bron van die huidige listeriose-uitbreking in Suid-Afrika is die Enterprise-fabriek in Polokwane.

Hy sê alle verwerkte vleisprodukte moet vermy word omdat listeriose van die verpakking van polonie oorgedra kan word na ander produkte soos Weense, Russiese en Frankfurter-worsies, asook ander worse en kouevleise waarmee dit in aanraking kom.

Dit is nie net in Suid-Afrika waar die siekte voorkom nie. Drie bejaardes in Nieu-Suid-Wallis in Australië is ook dood aan listeriose. Die land se gesondheidsdepartement het verlede Vrydag aangekondig dat daar 15 gevalle van listeriose aangemeld is en dat drie pasiënte gesterf het as gevolg daarvan.

 

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top