Theewaterskloofdam
Foto: Danie van der Merwe, Wikimedia CC-BY-2.0
Kapenaars hoef nie meer te vrees dat hulle krane binnekort sal opdroog as gevolg van die knellende droogte nie. Die huidige waterkrisis is verby.
Die stad se adjunkburgemeester, Ian Nielson, sê die gevreesde Dag Zero wanneer die stad se krane sou opdroog, is voorlopig van die baan. Dit sal beslis nie vanjaar of selfs volgende jaar plaasvind as Kapenaars aanhou water spaar en die goeie reënval van die afgelope weke voortduur nie.
Die goeie nuus vir Kapenaars is gister tydens ’n nuuskonferensie in die Moederstad bekend gemaak. Die Kaapstadse Metro het aangekondig Dag Zero sal nie vanjaar of in 2019 plaasvind nie, solank voldoende waterbeperkings gehandhaaf word. Te danke aan inwoners wat water bespaar en goeie reënval staan damvlakke van damme wat water aan Kaapstad verskaf nou op 43 persent. Neilson sê egter die stad kan nog nie waterbeperkings of tariewe verminder nie, aangesien die besluit deur die nasionale regering geneem moet word.
Die stadsraad sal binnekort samesprekings voer met die nasionale regering om die huidige waterbeperkings te bespreek. Die Kaapstadse Metro sê hulle sal in die toekoms ook permanente ontsoutingsaanlegte oorweeg. Die stad het 'n aantal tydelike ontsoutingsaanlegte gebou om die impak van die onlangse droogtesituasie te help verlig.
Daar is aanvanklik verwag dat dag zero op 22 April vanjaar sou aanbreek, maar dit is kort daarna vervroeg na 12 April. Dit is later geskuif na 16 April, en daarna weer verander na onderskeidelik 11 Mei, 4 Junie en 9 Julie.
Swak kommunikasie deur die stadsraad van Kaapstad en politieke opportunisme het die skuld gekry vir die onsekerheid wat die afgelope paar maande soos ’n swaard oor die koppe van Stad Kaapstad se inwoners gehang het.
Die stad het die afgelope tyd die ernstigste droogte in meer as 140 jaar beleef. Van 1 Februarie af mag inwoners elkeen slegs 50 liter water per dag gebruik.
Indien Dag Zero sou aanbreek, sou Kapenaars in toue moes staan om elke dag slegs 25 liter water per persoon by sekere punte in die stad te gaan haal.
Skaars twee maande gelede het die Wes-Kaap slegs 14% drinkbare water in sy damme oor gehad. Na die onlangse reën het die damvlakke aansienlik gestyg en is reeds voller as verlede jaar die tyd met nog ’n groot deel van die reënseisoen wat voorlê.
Inwoners word wel aangemoedig om steeds water te spaar.
Die huidige damvlakke en weervooruitsigte in die Kaap kan hier besigtig word.
Buro: NB