Geen einde in sig van nasionale ramptoestand nie

  • 0

Dit sal volgende maand ’n jaar wees sedert die regering ’n nasionale ramptoestand afgekondig het weens die COVID-19-pandemie, en die einde daarvan is nog lank nie in sig nie.

Die kabinet het Woensdag op die vooraand van president Cyril Ramaphosa se staatsrede aangekondig dat die nasionale ramptoestand met nóg ’n maand tot 15 Maart verleng word.

Die meeste waarnemers sê Suid-Afrikaners moet soos die res van die wêreld besef die hele landskap van hulle bestaan het verander. Die wetenskapjoernalis Elsabé Brits het op haar Facebook-blad geskryf dat om te wag dat alles “verby” gaan wees, nie meer op die horison is nie.

“Ons het so baie infeksies gehad, dat die virus moes aanpas om te oorleef. Dis evolusie. So hoopvol, of steeks, of hartseer as wat ons mag wees, ons gaan nie terugkeer nie. Hieroor mag ons maar treur. Dit gaan nie gou verby wees nie, dit gaan dalk nooit verby wees in ons leeftyd nie, tensy jy jonk is.”  

Ramaphosa het sy staatsrede Donderdagaand tydens ’n afgeskaalde seremonie gelewer te midde van die COVID-19-pandemie wat die hele land se ekonomie lamgelê het.

In ’n verklaring wat Woensdag namens die kabinet uitgereik is, blyk dit dat daar tydens die afgelope week se kabinetsvergadering groot klem gelê is op COVID-19. Volgens die verklaring het die staatsrede plaasgevind op ’n tydstip wanneer almal in die land moet saamstaan om die impak van COVID-19 te oorkom. Die kabinet het ’n dringende beroep gedoen op alle sektore in die samelewing om ’n nuwe maatskaplike pakt te sluit wat Suid-Afrika op ’n beter koers sal plaas.

Die nasionale ramptoestand is op 15 Maart verlede jaar deur Ramaphosa aangekondig ingevolge artikel 27(1) en (2) van die Rampbestuurswet om die pandemie te help bestuur.

Hoewel die verklaarde ramptoestand aanvanklik op 15 Junie verlede jaar ten einde moes gekom het, maak die wet daarvoor voorsiening dat die minister van samewerkende regering en tradisionele sake dit daarna telkens met ’n maand kan verleng by wyse van ’n kennisgewing in die Staatskoerant.

Ten spyte van hewige kritiek vanuit opposisiegeledere, nieregeringsorganisasies en veral die sakesektor dat die wet te veel mag aan die regering gee en die land duur te staan kom, hou die regering vol dit is in landsbelang om COVID-19 op hierdie wyse te beveg en die verspreiding van die dodelike virus so tot die minimum te beperk.

Van die grootste kritiek teen die voortsetting van die ramptoestand is dat dit te veel burgerlike vryhede beperk en die parlement se oorsigrol dramaties afskaal, wat ruimte skep vir korrupsie en heeltemal te veel mag in die hande van die regering plaas.

Volgens die DA het die gebruik van artikel 25 van die wet en die herhaalde verlenging daarvan elke maand voordat dit verstryk ’n permanente “de facto-noodtoestand” geskep waar die regering feitlik alle mag oor elke aspek van die Suid-Afrikaanse samelewing ingepalm het.

Die DA wil hê president Ramaphosa moet enige verlenging van die ramptoestand eers aan die parlement voorlê om daaroor te besluit. Die DA is van plan om vanjaar wetgewing by die parlement in te dien om die Rampbestuurswet so te wysig dat toekomstige inperkings ingevolge ’n ramptoestand deur die parlement goedgekeur moet word.

Die Vryheidsfront Plus eis ook groter verantwoordbaarheid van die President en sy regering. Die leier van die party, Pieter Groenewald, sê in ’n verklaring die VF Plus wil nie hoor van nóg ’n konferensie saam met sakelui oor werkskepping sonder dat iets daadwerklik gedoen word nie.

Hy sê Ramaphosa moet besef die privaatsektor is nie die vyand nie en dat ekonomiese groei en werkskepping juis van die privaatsektor afhanklik is. Daarom wil die VF Plus ’n meer gunstige omgewing vir die privaatsektor sien wat oa belastingverligting moontlik maak, en vrystelling van drakoniese wetgewing wat ontwikkeling strem.

  • 0
Top