Geen gelyke kans vir Afrikaans

  • 0

...........

“Die Konstitusionele Hof het Donderdag beslis die US se 2016-taalbeleid is grondwetlik regverdigbaar.”

...........

Afrikaans as onderrigtaal het ’n verdere knou gekry toe die hoogste hof in die land die drukgroep Gelyke Kanse se aansoek van die hand gewys het dat die Universiteit van Stellenbosch (US) se taalbeleid van 2016 ter syde gestel word.

Die Konstitusionele Hof het Donderdag beslis die US se 2016-taalbeleid is grondwetlik regverdigbaar. Gelyke Kanse wou gehad het dat die 2016-taalbeleid wat voorkeur gee aan Engels as onderrig- en administratiewe taal tersyde gestel moes word en dat die 2014-beleid van krag bly.

Gelyke Kanse sê die verengelsing van universiteite het ’n bedreiging vir onderrig op tersiêre vlak van toekomstige studente en onderwysers sowel as vir die kultuurbelange van alle taalgemeenskappe in Suid-Afrika geword. Die impak hiervan sal volgens hulle vernietigend inwerk op honderde Afrikaanse skole.

Gelyke Kanse is gestig om die toekoms van Afrikaans op tersiêre vlak te verseker en steun die opheffing van alle inheemse tale.

Gelyke Kanse se prokureur, Danie Rossouw, het sy teleurstelling uitgespreek oor die hof se bevinding. Hy sê dit is nou die einde van die pad wat die saak betref. Studente kan wel in Afrikaans klasloop indien dit redelik en prakties uitvoerbaar is. Dit is nou in die studente se hande om toe te sien dat die universiteit se taalbeleid wel uitgevoer word in soverre daar nog voorsiening gemaak word vir Afrikaans.

Regter Johan Froneman het in sy uitspraak gesê die vorige taalbeleid het studente wat nie Afrikaans praat nie, uitgesluit laat voel. Hy sê die huidige beleid is meer inklusief.

Die voormalige leier van die Vryheidsfront Plus, Pieter Mulder, het sy teleurstelling oor die hofuitspraak op Twitter uitgespreek. Hy sê dit is ’n negatiewe uitspraak en forseer Afrikaanse mense meer en meer om na hulleself te kyk.

“Jammer ons moet belasting vir dienste en opvoeding betaal en dan nog op eie koste ook self voorsien,”  het Mulder getwiet met die hutsmerk #BouOmTeBly.

Sommige mense het egter die uitspraak verwelkom en sê dit is die resultaat van opofferings wat swart studente en personeel van die US moes maak om te veg teen ’n apartheidskultuur en vir institusionele hervorming.

Dié deurslaggewende regsgeding oor moedertaal-onderrig in Suid-Afrika het volgens Gelyke Kanse in die besonder gegaan oor die inheemse tale, waarvan Afrikaans tans die verste op tersiêre vlak ontwikkel het.

Hulle skryf op hulle webwerf veral Afrikaans is in die laaste loopgraaf onder die huidige bedeling, aangesien die een universiteit na die ander verengels.

“Die appélsaak gaan allereers oor die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid, maar dit is ook ’n saak wat veel wyer implikasies vir Suid-Afrika se onderwysstelsel en die ontwikkeling van sy samelewing inhou. Moedertaal-onderrig word as een van die vernaamste ontwikkelingsinstrumente vir enige gemeenskap beskou, soos die geval inderdaad met Afrikaans as ’n gevorderde moderne taal is en was.”

Die hofsaak het volgens Gelyke Kanse nou ook in Suid-Afrika ’n nuwe dimensie verkry omdat die beoogde nuwe taalbeleid van die Departement van Hoër Onderwys die belang van die inheemse tale sterk beklemtoon. “Prominente status word daarin aan die Afrikatale verleen, hul aanwending en ontwikkeling moet daadwerklik gesteun word en die behoud van alle akademiese tale, Afrikaans inkluis, moet verseker word.”

Gelyke Kanse sê dit was uit die staanspoor duidelik dat die hofaansoek deur die Konstitusionele Hof bereg sou moes word omdat grondwetlike regte op die spel is.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top