Geen gunsies vir Zuma in tronk nie

  • 0

Suid-Afrikaners het Donderdag wyd en syd bespiegel oor die omstandighede waaronder oudpresident Jacob Zuma in die Estcourt-gevangenis in KwaZulu-Natal aangehou word.

Hy het homself Woensdagaand kort voor middernag teensinnig maar vrywillig aan die polisie oorgegee om tronk toe te gaan. Sodoende het hy moontlik ‘n gevreesde bloedbad vermy.

Van die vrae op mense se lippe is of hy aansoek kan doen vir mediese parool, mag hy besoekers ontvang en sal hy enige voorkeurbehandeling geniet terwyl hy in die tronk is.

Die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, het joernaliste tydens ʼn nuuskonferensie voor die gevangenis waar Zuma aangehou word, die verskering gegee dat die voormalige staatshoof geen voorkeurbehandeling ontvang nie, maar dat hy menslik behandel sal word.

Zuma sal vir die volgende twee weke in isolasie aangehou word ingevolge COVID-19-riglyne. Gevangenes mag op die oomblik volgens Covid-regulasies geen persoonlike besoeke ontvang nie en dit geld ook vir Zuma.

Besonderhede van Zuma se aanhouding is ook op die regering se amptelike webwerf gepubliseer.

Hy sal geen persoonlike lyfwagte hê nie en Korrektiewe Dienste sal verantwoordelik wees vir sy veiligheid, net soos vir al die ander gevangenes sʼn. Wat mediese parool betref, sal hy volgens ʼn departementele amptenaar soos enige ander gevangene daarvoor aansoek moet doen. Hy sal ook net soos al die ander ʼn oranje oorpak moet dra en geen toegang tot sy selfoon hê nie.

Politieke partye het dit feitlik deur die bank verwelkom dat die oppergesag van die reg geseëvier het. Hulle het ʼn beroep op Suid-Afrikaners gedoen om dit te respekteer.

Die leier van die Vryheidsfront Plus, Pieter Groenewald, sê hy verwelkom die feit dat Zuma homself oorgegee het. Hy sê in ʼn verklaring Zuma het duidelik besef dat hy geen politieke mag meer het nie en sy voorafgaande bravade was bloot ’n rookskerm.

“Die vraag is nou of hy sy gevangenisstraf gaan uitdien in ’n gewone gevangenis soos ander misdadigers en of hy enige siektetoestande gaan voorhou om in ʼn hospitaal aangehou te word.”

Volgens Groenewald is die feit dat Zuma homself oorgegee het, ʼn oorwinning vir die polisie en die regstelsel van Suid-Afrika. Hy sê dit beteken egter nie dat diegene wat die COVID-19-regulasies met die saamtrek by Nkandla oortree het, skotvry daarvan kan afkom nie. Die organiseerders van dié saamtrek moet steeds in hegtenis geneem en vervolg word.

Die ANC het in sy reaksie gesê hy neem kennis van die situasie en respekteer Zuma se besluit om die lasbrief vir sy inhegtenisname te gehoorsaam. Die party se woordvoerder, Pule Male, sê in ʼn verklaring die ANC was nog altyd verbind tot die Grondwet, en in besonder die oppergesag van die reg, asook die onafhanklikheid van die regbank, wat een van die land se grondbeginsels is.

Hy sê dit ongetwyfeld ʼn moeilike tyd vir die ANC en het ʼn beroep op lede gedoen om kalm te bly. Volgens die ANC was Zuma se besluit om homself aan die polisie oor te gee “waarlik ʼn dapper en moeilike besluit” en hulle wens hom die beste toe.

Die DA-leier John Steenhuisen sê Zuma se arrestasie is ʼn waarskuwing vir die argitekte van staatskaping en Zuma se “handpoppe”. Steenhuisen sê dit is ʼn klein stap in die regte rigting. “Die groot stryd om die land terug te eis van roofsugtige politici en hulle netwerke het egter skaars begin,” sê Steenhuisen

Volgens Steenhuisen is dit ook ʼn belangrike oorwinning vir die oppergesag van die reg. Hy sê dit stuur ʼn boodskap aan almal wat hulle by die Zuma-faksie geskaar het, dat die reg nie onbepaald en ongestraf bespot kan word nie.

Die Inkatha Vryheidsparty (IVP) het opnuut ʼn beroep op Zuma gedoen om die Konstitusionele Hof se uitspraak en die oppergesag van die reg te respekteer. Die IVP sê die reg moet sy gang gaan. Die IVP het ook ʼn beroep gedoen vir kalmte en vra dat al Zuma se ondersteuners hulle by die COVID-19-regulasies sal hou.

Zuma se ondersteuners het egter gal gebraak oor sy inhegtenisname. Die geskorste sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule, het op Twitter gesê Zuma moet sterk wees, want dinge sal beter gaan. “Dit mag dalk nou stormagtig wees, maar dit kan nie vir altyd reën nie,” het Magashule gesê.

Een van Zuma se ander bondgenote, Carl Niehaus, wat Woensdag deur die ANC tydelik geskors is weens sy oproerige uitlatings vroeër die week by Nkandla, het kort na Zuma homself oorgegee het, op Twitter gesê hy is gebroke en kwaad. “Ek sal nooit diegene vergewe wat toegelaat het dat dit gebeur nie,” het hy geskryf.

Een van Zuma se seuns, Edward, wat voor sy pa se inhegtenisneming gesê het hulle sal hom eers moet doodmaak voordat hulle sy pa arresteer, het na die tyd op Twitter gesê hy het sy bes probeer, maar die “old man” het sy besluit geneem en hy respekteer dit. “Maar aan Ramaphosa en Zondo: Dit is nie verby nie. Julle het oorlog verklaar en ons sal tot die einde veg,” het hy gesê.

Vroeër het hy aan die media gesê daar is geen kans dat sy pa Woensdagaand in die tronk sou slaap nie. Hy het gespog dat hulle net sowel die sel aan iemand anders kan gee, want daar sal eers bloed vloei voordat Zuma tronk toe gaan.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top