Suid-Afrikaners is steeds diep verdeeld oor die viering van die gelofte wat na afloop van die slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838 deur die Voortrekkers afgelê is.
President Cyril Ramaphosa se toespraak tydens Versoeningsdag die afgelope Maandag by Bergville in KwaZulu-Natal het die uiteenlopende standpunte oor dié dag, wat voorheen as Geloftedag bekend gestaan het, opnuut onderstreep.
Foto: Pixabay.com
Ramaphosa se verwysing na die Voortrekkers as “indringers” en die Zoeloes as “vryheidsvegters” wat geveg het vir die vryheid van grond het baie Suid-Afrikaners warm onder die kraag gehad.
Die bestuurshoof van Solidariteit, Dirk Herman, vaar in ’n ope brief uit teen die president. Hy beskuldig hom daarvan dat hy die land se geskiedenis vir sy eie politieke ideologie verdraai en misbruik.
Herman skryf in sy ope brief die gebeure by Bloedrivier het niks met vryheidsvegters se trotste stryd ter verdediging van grond te doen gehad nie.
“Dit het alles te doen gehad met ’n Voortrekkerleier wat onderhandel het vir grond, sy voorwaardes nagekom het en ’n ooreenkoms bereik het. Dit het te doen met ’n wrede diktator wat die Voortrekkers misbruik het, sy woord verbreek het, wrede moorde laat pleeg het en wou terugvat wat regmatig bekom is.”
Volgens Herman is hierdie gebeure ’n skandvlek op die trotse Zoeloenasie se geskiedenis wat in die onderbewussyn van Afrikaners ingeprent is en hy voel hom verbind aan die gelofte.
Alle Afrikaners deel egter nie Herman se siening oor die gelofte nie. Die skrywer Hans Pienaar skryf in Vrye Weekblad die nare waarheid omtrent die gelofte was dat selfs die Trekkers “nie mooi geweet het wat om met die ding te doen nie”.
Pienaar sê die onaangenaamste feit was dat God hulle nou wel Bloedrivier gegee het, maar sy weë het duister gebly. “Dit was eintlik maar ’n troosprys: Waarom het hy hulle dan uit Natal verjaag en, sal vandag se fringe-Afrikaners in Durban-Noord vra, dit aan Goodwill Zwelithini en die Indiërs gegee?”
Op die ou end kan die idee – dat God een groep vaag gedefinieerde mense sal uitsonder ná ’n veldslag waarin bloed en slagting verheerlik is in nasionalistiese kuns en monumente – volgens Pienaar nie anders as erg aanstootlik vir enigeen van die “vyand” se nasate wees nie.
Hy sê die wit Afrikaanssprekendes wat die gelofte verdedig – en dit sluit invloedryke mense soos Danie Langner, voorsitter van die FAK in – maak hulself daarmee eintlik ’n kwasi-godsdienstige groep. “Hulle is iets soos die Moslem Broederskap in Egipte, ’n politieke sekte.”
In sy brief aan Ramaphosa sê Herman egter die president het die slagoffers van 1838 die indringers en oortreders gemaak, en van die oortreders en moordenaars het hy vryheidsvegters gemaak. “U poog om Afrikaners se geskiedenis in sy geheel te kriminaliseer,” skryf Herman aan Ramaphosa.
Sy volledige brief aan die president kan hier gelees word.
Ramaphosa het in sy toespraak gesê almal is slagoffers van hulle verlede maar moet hulle nie daardeur gevange laat hou nie. Hy het gesê versoening gaan nie net oor ras nie maar oor menswees. “Versoening gaan oor die genesing van die wonde van die verlede deur die terugbesorging van die grond en rykdom van die land vir al die mense, en die besef dat Suid-Afrikaners die reg het tot waardigheid, veiligheid en gemak.”
President Ramaphosa se volledige toespraak kan hier gelees word.
Pienaar sê in sy artikel in Vrye Weekblad daar word gereeld van wit Afrikaanssprekendes verwag om verskoning vir apartheid te vra, wat om verskeie redes en 25 jaar ná hul magsoorgawe problematies is.
Hy sê miskien bied die gelofte ’n uitweg: “het dit nie tyd geword om ’n teen-gelofte uit te vaardig nie? Daarin kan wie ook al verklaar dat hulle ontken dat God sekere mense bo ander uitverkies en selfs al staan dit in die Bybel, verwerp hulle dit.”
Buro: MvH