Terwyl die plundering van besighede in verskeie dele van Suid-Afrika Woensdag voortgeduur het, staan plaaslike gemeenskappe saam om hulle besighede en eiendomme teen anargisme te beskerm.
In die Wes-Kaap was daar Woensdag nog geen gevalle van onluste en plundery aangeteken nie. Gemeenskappe in Gauteng, KwaZulu-Natal en Mpumalanga het ook in verskeie gebiede saamgestaan om hulle infrastruktuur te beskerm en om besighede oop te hou.
Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het inwoners van die provinsie bedank vir hulle samewerking om dié gewelddadige oproere te verhoed.
In Khayelitsha, Gugulethu en ander gebiede in Kaapstad het van die inwoners ’n menslike skild by sommige winkelsentrums gevorm teen moontlike plundering met plakkate wat lui: Geen plundering nie.
Die TV-netwerk eNCA het ook berig van buurtwagte en ander gemeenskapsforums in die provinsie wat saamstaan om te verhoed dat die plundering wat in ander dele van die land plaasvind, na die Wes-Kaap oorspoel.
In KwaZulu-Natal het die plundering Woensdag voortgeduur. Die adjunkminister van staatsveiligheid, Zizi Kodwa, het tydens ’n besoek aan Soweto gesê die opstande in KwaZulu-Natal en Gauteng is goed georganiseer met die oog op ekonomiese sabotasie en om die land te destabiliseer.
Hy het by die Maponya-winkelsentrum in Soweto gepraat. Dit is een van die sentrums wat nié aangeval en geplunder is nie. Kodwa sê diegene agter die geweld en misdaad probeer om paniek te saai.
#ProtectSouthAfrica Deputy Minister @zizikodwa at MaponyaMall in Soweto https://t.co/9nWWAWZcSk
— South African Government (@GovernmentZA) July 14, 2021
Die Netcare-groep in KwaZulu-Natal het gebeurlikheidsplanne ingestel om die veiligheid van sy hospitale in die provinsie te verseker. Die uitvoerende hoof van Netcare, Richard Friedland, sê in ’n verklaring die huidige geweld plaas ’n bykomende las op die gesondheidsorgstelsel, wat reeds onder enorme druk is.
Friedland sê die gebeurlikheidsplanne is ingestel om te verseker dat pasiënte die nodige sorg kry te midde van die voortslepende verwoesting in dele van die land. Hy sê die situasie is onbestendig en die hospitaalgroep is gereed om vinnig op enige moontlike nuwe verwikkelinge te reageer.
Die landbou-organisasie Agri SA het reeds vroeër die week ’n beroep op president Cyril Ramaphosa gedoen om ’n nasionale noodtoestand af te kondig om ’n einde te bring aan die vlaag van geweld en wetteloosheid wat besig om oor die land te spoel.
Verskeie ander belangegroepe, waaronder die bierbedryf, die Durbanse Kamer van Koophandel en die Verbruikersraad van Suid-Afrika, het ook gevra vir ’n noodtoestand in KwaZulu-Natal.
Agri SA sê in ’n verklaring die plundering van winkels, motors wat met klippe bestook word, die blokkering van paaie en die afbrand van eiendom skep ’n ernstige bedreiging vir voedselvoorsiening in die land.
“Dit is duidelik die kriminele het geen respek vir wet en orde nie en dat hulle sal plunder, steel en vernietig totdat daar niks oor is nie,” sê Agri SA se uitvoerende direkteur, Christo van der Rheede. Hy sê Suid-Afrika is ’n grondwetlike staat en die land se grondwet plaas ’n verpligting op die staat om sy burgers teen misdadigers te beskerm.
’n Nasionale noodtoestand moet volgens Van der Rheede gepaard gaan met die ontplooiing van veiligheidspersoneel in die geaffekteerde gebiede.
WATCH: Discussion on the impact of unrest to SA's food security - Christo van der Rheede
WATCH here: https://t.co/xnRzykuDfJ
Source: @SABCNews #looting #foodsecurity #risks #safety #agriculture #farmers #unrest
— Agri SA (@AgriSA1904) July 14, 2021
Van der Rheede het gewaarsku dat onskuldige burgers sal honger ly as die wetteloosheid toegelaat word om voort te duur en winkels aanhou geplunder word. Dit is volgens hom duidelik dat daar gepoog word om die hele land se ekonomie tot stilstand te dwing, wat ’n ernstige bedreiging vir alle Suid-Afrikaners inhou.
Die minister van polisie, Bheki Cele, het Woensdag meer polisiebeamptes na brandpunte in Gauteng en KwaZulu-Natal gestuur om die voortslepende geweld en plundering van winkels en geboue stop te sit.
Intussen het die DA-parlementslid Glynnis Breytenbach aanklagte van aanhitsing van geweld ingedien teen drie van oudpresident Jacob Zuma se kinders, sowel as die EFF-leier, Julius Malema. Breytenbach het die aanklagte Woensdag by die Kaapstad-polisiestasie ingedien. Sy sê dit hou verband met uitlatings deur Duduzile Zuma-Sambudla, Edward Zuma en Duduzane Zuma in die media of op sosiale media. Die aanklagte teen Malema hou verband met sy opmerkings op Twitter dat die ontplooiing van die weermag op ’n oorlogverklaring teen landsburgers neerkom. Breytenbach sê mense met invloed moet hulle ondersteuners aanmoedig om die wet te gehoorsaam.
Twitter het ook Malema se rekening vir 12 uur opgeskort as gevolg van sy opruiende uispraak.
📍| The DA lays criminal charges against Julius Malema, Duduzile Zuma-Sambudla, Duduzane Zuma and Edward Zuma for incitement of violence.
The violence and looting we are witnessing in KZN and Gauteng is causing unnecessary deaths and is devastating for livelihoods. pic.twitter.com/B3tMu4zny6
— Democratic Alliance (@Our_DA) July 14, 2021