Gemengde gevoelens oor regering se beoogde ramptoestand vir Eskom

  • 0

Suid-Afrikaners is versigtig optimisties, maar ook skepties, oor die voorgenome ramptoestand wat president Cyril Ramaphosa wil aankondig om die land se kragkrisis te hanteer.

’n Nasionale ramptoestand kan Eskom-tenders en die verkryging daarvan bespoedig, aangesien dit baie reëls wat tot rompslomp lei, opskort, maar dit kan ook die deur vir korrupsie oopmaak. Daar is politieke partye en waarnemers wat vrees dat, volgends hulle, die ANC weer soos tydens die Covid-tyd sogenaamde “drakoniese magte” kan misbruik en dat dit geen wesenlike verskil gaan maak nie.

Die Vryheidsfront Plus en die DA het Dinsdag albei gewaarsku dat daar nie ’n herhaling mag wees van die misbruik van mag soos wat met die Covid-ramptoestand die geval was nie.

Die leier van die VF Plus, Pieter Groenewald, sê in ’n verklaring daar moet baie duidelik uitgespel word wat hierdie moontlike ramptoestand sal behels.

Groenewald sê ramptoestande is nie ongewoon nie. In KwaZulu-Natal is verlede jaar byvoorbeeld ’n ramptoestand afgekondig vir die spesifieke doel om te help met die stormvloede wat groot skade aangerig het.

Die VF Plus wil egter presies weet wat die redes en die bepalings is wat sal geld met so ’n ramptoestand.

“Dit is belangrik om te voorkom dat korrupsie nie weer soos met die Covid-19-ramptoestand op groot skaal plaasvind met fondse wat maklik toeganklik raak deur spesiale maatreëls nie.”

Groenewald sê die President sal duidelik moet uitspel hoe lank die ramptoestand sal geld. “Die ironie in hierdie geval is dat die regering self die probleem veroorsaak het wat hy nou met ’n ramptoestand wil beëindig.”

Die DA-skaduminister vir openbare ondernemings, Ghaleb Cachalia, sê hierdie inisiatief van Ramaphosa, wat die eerste keer deur die DA ter tafel gelê is, sal fyn dopgehou word. “Dit is nie ’n carte blanche vir ’n 20 jaar lange ondeursigtige kontrak met klandestiene kragverskaffers nie. Dit is noodsaaklik dat elke sent wat spandeer word, verreken word en die impak daarvan gemeet word.”

De DA sê in hulle verklaring dit is van kardinale belang dat die beoogde ramptoestand rondom Eskom beperk word en dat dit onder toesig geskied van ’n onafhanklike paneel toepaslik gekwalifiseerde kundiges om eerlikheid en deursigtigheid te verseker.

Volgens die DA het die ANC uiteindelik geen ander keuse gehad as om te voldoen aan die DA se jare lange eis om Eskom tot ’n ANC-gemaakte rampsone te verklaar nie. “Met meer as ’n dekade van beurtkrag wat reeds miljarde uit die ekonomie gevee het, lyk dit of die realiteit dat die ANC ons elektrisiteitstelsel in ’n onversadigde ramp verander het, uiteindelik besig is om in te sink.”

Die aanbeveling van die ANC, Cosatu en die SAKP dat ’n nasionale ramptoestand oor Eskom verklaar word, kom sowat ses maande nadat Ramaphosa die idee van ’n energie-aksieplan verwerp het. Hy het gesê die land het nie ’n ramptoestand nodig om die kragprobleem op te los nie.  

Die leier van die EFF, Julius Malema, sê sy party verwerp die voorgenome ramptoestand. Die EFF sê in ’n verklaring dit is ’n nuttelose stap deur ’n onbevoegde president en sal aan lande soos Amerika die geleentheid bied om die land se steenkoolbedryf verder te vernietig met hulle planne om Eskom te privatiseer.

Die behoefte om beurtkrag vanaf fase 4 op te stoot was die gevolg van ses opwekkingseenhede wat onklaar geraak het, het Eskom gesê.

Die maatskappy het gesê ’n opwekkingseenheid elk by Duvha en Hendrina is ook nog nie weer in diens geneem nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top