Suid-Afrika se uitgeskopte ambassadeur in die VSA, Ebrahim Rasool, sal met sy terugkoms in Suid-Afrika later dié week met gemengde gevoelens ontvang word.
Die vakbond Cosatu in die Wes-Kaap het belowe om hom ’n heldeverwelkoming te gee wanneer hy na die provinsie terugkeer, terwyl sy kritici soos AfriForum meen Rasool se optrede in die VSA wat tot sy uitsetting gelei het, is ’n bewys daarvan dat die ANC se diplomatieke dobbelspel misluk én die land en sy mense duur te staan gaan kom.
Terwyl Cosatu en die EFF hom as ’n held voorhou, was die regering tot dusver baie versigtig met hulle kommentaar.
President Cyril Ramaphosa het die uitsetting as “betreurenswaardig” beskryf en gesê Rasool sal met sy terugkeer ’n volledige verslag lewer.
PRESIDENCY NOTES RASOOL EXPULSION
The Presidency has noted the regrettable expulsion of South Africa’s Ambassador to the United States of America, Mr. Ebrahim Rasool.
The Presidency urges all relevant and impacted stakeholders to maintain the established diplomatic decorum in…
— The Presidency 🇿🇦 (@PresidencyZA) March 15, 2025
Ramaphosa het beklemtoon dat Suid-Afrika steeds verbind is tot die heropbou van ’n wedersyds voordelige verhouding met die VSA, maar sommige plaaslike ontleders en amptenare het Rasool se opmerkings as ’n oortreding van diplomatieke protokol bestempel.
Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking (Dirco) sê hulle respekteer die VSA se besluit, maar noem dit “ongewoon” en sê verdere gesprekke sal via diplomatieke kanale plaasvind.
Rasool is verlede week deur die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Marco Rubio, as persona non grata verklaar. Dit volg na ’n toespraak van Rasool op ’n webinaar van die Mapungubwe Instituut vir Strategiese Refleksie, waartydens hy gesê het dat Donald Trump ’n wêreldwye superheerskappybeweging aanvoer. Rubio het Rasool daarvan beskuldig dat hy ’n “rasaangedrewe politikus” is wat Amerika en Trump haat, en hom 72 uur gegee om die land te verlaat.
Just in:
U.S. State Dept Spokesperson Tammy Bruce refers to Ambassador Ebrahim Rasool's comments as "pretty much obscene", unacceptable to the United States, further states that his remarks to the Mapungubwe Institute did not meet diplomatic standard that could facilitate… pic.twitter.com/MwV6E6yhC4
— Sherwin Bryce-Pease (@sherwiebp) March 17, 2025
Rasool se diplomatieke immuniteit het gister (18 Maart 2025) verstryk en hy moet voor die einde van die week uit Amerika padgee. Hy word Sondag in Suid-Afrika terug verwag.
By sy aankoms sal hy waarskynlik in Kaapstad, sy tuisbasis, land, waar hy moontlik ’n laeprofielontvangs sal kry voordat hy na Pretoria reis vir amptelike vergaderings. Die presiese aard van sy ontvangs hang af van hoe die ANC en regering die situasie verder hanteer, maar dit sal waarskynlik ’n kombinasie van formele diplomatieke prosedures en ’n verdeelde openbare reaksie wees.
In ’n teksboodskap wat die afgelope Sondag aan familie en vriende gestuur is, het Rasool volgens Eyewitness News gesê hy en sy vrou Rosieda het reeds gepak en sien daarna uit om terug te keer huis toe.
Expelled ambassador to US Ebrahim Rasool says he has no regrets https://t.co/6QNmhXer9c
— Eyewitness News (@ewnupdates) March 17, 2025
“Ons neem sonder spyt afskeid van die VSA; dit is wat dit is,” lui die boodskap.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het in ’n verklaring gesê dat die ANC-leiers en Rasool, as ontplooide kader, direk verantwoordelikheid vir dié diplomatieke flater moet aanvaar.
Hy kritiseer die ANC se “openlike en hardnekkige diplomatieke optrede” die afgelope week en hou vol dat dié tipe optrede die verhouding met die VSA ongekende skade berokken. “Te midde van die huidige diplomatieke spanning het die ANC-leiers dit goedgedink om Iran se ambassadeur in Suid-Afrika, Mansour Shakib Mehr, verlede week na die ANC-hoofkantoor te nooi.”
SA-ambassadeur uitgeskop: @MYANC dobbel met land se toekoms – @AfriForum https://t.co/j1dVU1BKci
— AfriForum (@afriforum) March 15, 2025
“Die ANC-leierskap prioritiseer die party se belange en onbesonne beleide bo die land se welsyn. Met hierdie soort optrede dobbel die ANC-leiers met die toekoms van die land en ons as gewone mense in die land.”
Dit is volgens Kriel in almal se belang om pogings te versnel om ’n duidelike rigtingverandering in Suid-Afrika te bewerkstellig. “AfriForum sal in dié pogings volhard, anders sál die ANC-leiers se optrede tot die land se ondergang lei. Ons is dit aan ons kinders verskuldig om nou sterk standpunt in te neem teen die onreg wat president Cyril Ramaphosa en sy kaders tot die nadeel van almal in die land pleeg,” het Kriel gesê.
Intussen bly betrekkinge tussen Suid-Afrika en die VSA uiters gespanne. Die Rasool-voorval word beskou as ’n nuwe laagtepunt in die verhouding tussen die VSA en Suid-Afrika, veral ná Trump se terugkeer na die Withuis. Dit volg op ander spanningspunte, soos Suid-Afrika se steun vir Palestina en sy saak teen Israel by die Internasionale Geregshof.